Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mboweni het g’n geloofwaardige plan vir SA, sê DA

Ofskoon Tito Mboweni, minister van finansies, die werklikheid van Suid-Afrika se onbestendige finansiële situasie uitgespel het, het hy nie met ’n geloofwaardige plan vorendag gekom om die nasionale skuld te beheer en die begrotingstekort in te perk nie.

Dit was Woensdag Geordin Hill-Lewis, DA-LP, se reaksie op Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerkrede in die Nasionale Vergadering.

Mboweni het onder meer aangekondig dat staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) teen Maart 2023 waarskynlik hoër as 70% sal wees.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP. Foto: Lerato Maduna

Hill-Lewis het erkenning gegee aan die minister se eerlikheid om te sê die situasie is erger as wat verwag is. Die party het ook sy harde woorde oor die besnoeiing van staat se salarisrekening en die wanbestuur by staatsentiteite verwelkom.

“Maar die minister se grootste prioriteit in sy toespraak was om met ’n geloofwaardige plan vorendag te kom om staatskuld te beheer en die begrotingstekort in te perk. Dit het hy nie gedoen nie. Ondanks al die harde woorde was die minister se blaf erger as sy byt.

“Die besnoeiings aan besteding wat hy wel aangekondig het – rofweg R50 miljard oor die volgende twee jaar – sal nie naastenby genoeg wees om die stygende staatskuld te verminder of om die geloofwaardigheid by kredietgraderingsagentskappe te herstel nie,” het hy gesê.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het die situasie rondom die nasionale staatskuld as ’n “fiskale krisis” bestempel.

“Daar is geen maatreëls aangekondig om dit af te weer nie. Daar is geen duidelike maatreëls oor hoe die ekonomie uitgebrei gaan word nie. Hy het oor verskeie kwessies gepraat en was eerlik oor die stand van die ekonomie, maar daar is geen geloofwaardige en duidelike agenda van die hoe die ekonomie uitgebrei gaan word nie.”

dr pieter groenewald
Dr Pieter Groenewald

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Suid-Afrikaners ná Mboweni se toespraak gewaarsku om hulle te staal vir belastingverhogings in die begrotingsrede in Februarie.

Mboweni het volgens hom ’n baie goeie ontleding van die land se finansiële probleme gedoen. “Maar as ons gaan kyk, is hy eintlik niks anders as ’n gevangene nie en word hy inderwaarheid gyselaar gehou deur die vakbonde. Ons grootste probleem is onder meer die staat se salarisrekening. Hy kan nie van die mense ontslae raak nie, want die vakbonde gaan hom teenstaan.”

Wat die staatskuld betref, het Groenewald gesê die verwagte verhouding van staatskuld tot die BBP van 70% is “skrikwekkend.

“Die minister het eintlik een sterk boodskap gehad, en dit is dat die belastingbetalers hulle moet staal vir die nuus dat hulle in Februarie volgende jaar in die begroting bykomend belas gaan word, want daar is geen ander manier waarop die staat ’n inkomste kan genereer nie.”

Floyd Shivambu
Floyd Shivambu.

Mzamo Buthelezi, IVP-woordvoerder oor finansies, het gesê dit is nou tyd vir optrede omdat “streng praatjies ons nêrens bring nie.

“Een van die belangrikste dinge wat ons moet sien, is dat diegene wat die ekonomie help ineenstort het tronk toe gaan. Landsburgers sal só sien die regering is ernstig om die land te herbou. Dit is ook goed dat ons nou lenings en nie meer reddingsboeie nie aan staatsentiteite sal toestaan.”

Mosioua Lekota, Cope-leier, het gesê Mboweni se aankondiging oor veral staatsentiteite is ’n stap in die regte rigting. “Ons sê ook al lank dat die kabinet en staatsdiens verklein moet word.”

Ganief Hendricks, Al Jama-ah-LP, sê Suid-Afrika is bankrot en kan nie die enorme salarisrekening bekostig nie. “Die minister het ook niks gesê oor die R1 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa vir die stryd teen gendergeweld belowe het nie.”

Patricia de Lille se Good-party het in ’n verklaring gesê dit word veral verwelkom dat ministers en LUR’e se salarisse bevries gaan word. Haar party het ook ’n beroep op die regering gedoen om alle beleidsonsekerheid te verwyder om beleggersvertroue te wen en om die ekonomie te laat groei.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Geordin Hill-Lewis  |  Mtbr2019  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.