Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Mboweni moet erken e-tolstelsel het misluk’ – Outa
Tito Mboweni
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Deaan Vivier

Hy weet nie hoekom Tito Mboweni, minister van finansies, vyf jaar nadat die e-tolstelsel in Gauteng ingestel is, nie kan sien die stelsel het misluk nie.

Mboweni moet ophou om halsstarrig te wees en vol te hou die verbruiker moet vir die e-tolstelsel betaal, sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), oor die bekgeveg in die ANC oor dié stelsel.

Die bekgeveg tussen Mboweni, David Makhura, premier van Gauteng, en ander senior ANC-lede in die provinsie het so uitgekring dat pres. Cyril Ramaphosa Saterdagmiddag ingegryp en die sweep geklap het.

Die presidensie het Saterdagmiddag in ’n verklaring gesê Ramaphosa het kennis geneem van die “uiters onnodige en betreurenswaardige” openbare twis.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa. Foto: Christiaan Kotze
David Makhura
David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Mary-Ann Palmer

Ramaphosa sê sodanige twiste op sosiale media is onvanpas vir mense op dié vlak van regering. Hulle behoort eerder leiding te gee.

Hy het opdrag gegee dat Mboweni, Makhura en Fikile Mbalula, minister van vervoer, voor die einde van Augustus met ’n oplossing hiervoor moet kom.

City Press het Sondag berig Mzwandile Masina, ANC-burgemeester van Ekurhuleni, en Lebogang Maile, Gautengse LUR vir menslike nedersettings, het ingestem om deel te wees van die vergadering waar ’n oplossing gevind moet word.

Die ANC in Gauteng wil hê die stelsel moet geskrap word. Makhura het vandeesweek in sy provinsiale rede gesê planne is op dreef om dit te skrap.

Die DA, die amptelike opposisie in Gauteng, is ook teen die e-tolstelsel gekant.

Mboweni hou egter vol gebruikers van padinfrastruktuur moet daarvoor betaal. Sy standpunt is dat as ’n belegger in tolpaaie belê, is dit billik om opbrengste te verwag. Daarom moet die padgebruikers betaal.

Duvenage het Sondag gesê Mboweni moet na die feite kyk en besef die e-tolstelsel in Gauteng werk nie. Mboweni moet eerder uitvind hoekom dit nie gewerk het nie.

“Dit het tyd geword dat die minister ’n slag na die burgerlike gemeenskap luister en uitvind waarom die stelsel misluk het.

“Die hele debat op Twitter tussen Mboweni en die ANC in Gauteng is gek,” sê Duvenage.

“Die e-tolstelsel in Gauteng is net 20% doeltreffend. Daar is in totaal 17 000 km nasionale paaie wat nie deel is van die e-tolstelsel in die land nie en uit Prasa (die Passasierspooragentskap) se fondse onderhou word. Hoekom nie ook die hoofweë in Gauteng nie?”

Duvenage sê hy glo ’n oplossing is moontlik.

Mboweni het onder meer op Twitter vir Makhura gewaarsku om nie met hom skoor te soek nie. Hy het die premier daarop gewys dat dit die nasionale regering is wat die bron is van Gauteng se inkomste.

Makhura het in ’n enkele twiet gesê hy het die e-tolkwessie vir uitsluitsel na Ramaphosa verwys.

Voordat Ramaphosa ingegryp het, het Solly Msimanga, koukusvoorsitter van die DA in die Gautengse wetgewer, gesê Mboweni se twiets wys dat die e-tolsetsel hier is om te bly.

Hy het die ANC daarvan beskuldig dat hy met ’n gesplete tong oor die e-tolstelsel praat.

Msimanga sê 90% van die geld wat ingevorder word, gaan oorsee. Gauteng se inwoners kan nie meer onregverdige belasting soos dié bekostig nie.

Op sy beurt het die vakverbond Cosatu die naweek in ’n verklaring geëis stappe moet teen Mboweni gedoen word.

City Press berig Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het gesê dat die kwessie na die ANC se nasionale uitvoerende komitee verwys sal word.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Wayne Duvenhage  |  David Makhura  |  E-Tolstelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.