Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mboweni sit sonder toorstaf

Suid-Afrikaners het hoë verwagtinge dat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede drastiese stappe sal moet aankondig om die sukkelende ekonomie reg te ruk, maar Mboweni is polities in ’n baie “moeilike” posisie.

Só sê prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder by die Universiteit van Wes-Kaapland. Mboweni sal Woensdag omstreeks 14:00 sy begrotingsrede in die parlement lewer.

Mngomezulu sê Mboweni weet aan die een kant presies wat gedoen moet word om veral die ekonomie te laat groei, maar kan moontlik nie sy idees in werking stel nie.

“Hy het in die onlangse verlede egter al sy eie idees in die openbaar (veral op Twitter) uitgespreek en ANC-leiers en -lede het nie baie daarvan gehou nie.

“Daarom kan Mboweni in die begrotingsrede nie sy eie idees implementeer nie. Die begroting moet daarom – net soos in pres. Cyril Ramaphosa se geval met die staatsrede – die kollektiewe besluite van die ANC artikuleer”.

Tito Mboweni Foto: Sarel van der Walt

Volgens Mngomezulu is dit egter welbekend dat die ANC tans baie verdeeld is en dat elke faksie daarin sal wil hê dat hul onderskeie standpunte die begroting moet oorheers.

“Die publiek se verwagtinge moet ook in ag geneem word. Daarom gaan dit vir Mboweni prakties baie moeilik wees om almal tevrede te stel, want sy hande is polities vasgebind.”

Steve Swart, ACDP-woordvoerder oor finansies, het Dinsdag gesê Mboweni het bykomend ook baie min of selfs geen fiskale beweegruimte met die begroting nie.

Daarom verwag die ACDP dat die begroting “taai” sal wees gegewe die skerp agteruitgang van staatsfinansies, beurtkrag en die lae ekonomiese groei-omgewing.

“Die regering moet die (tesourie) se ekonomiese groeiplan implementeer om werk te skep, inkomste te verhoog en om skuldvlakke te stabiliseer.

“Dit is die laaste kans vir die minister om ’n geloofwaardige fiskale konsolidasie-pad te implementeer en om ’n Moody’s-afgradering na rommelstatus te verhoed,” sê Swart.

Die ACDP wil ook hê die onlangse aankondiging oor die lisensiëring van onafhanklike produseerders van elektrisiteit moet spoedig geïmplementeer word omdat dit die uitwerking van beurtkrag kan verlig.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, sê Suid-Afrika is tans in ekonomiese en politieke moeilikheid.

Cope meen dat die begroting daarom die belange van die land en nie die ANC moet dien. Dit veral omdat graderingsagentskappe fyn na Mboweni se planne sal luister.

Bloem meen Mboweni moet eerder beleggersvertroue herwin deur beslissend te wees in besluite oor die ekonomie en werkskepping. Cope wil ook niks hoor van ’n styging in belasting, veral BTW, nie.

Die landbou-organisasie TLU SA meen die begrotingsproses het in politiekery ontaard, terwyl dit moet gaan oor finansies, die fiskus, staatspandering en hoe dit tot voordeel van landsburgers gaan wees.

Louis Meintjes, TLU SA-president, meen ook Mboweni sal min beweegruimte hê, maar dat hulle veral sal wil sien dat hy hom sterk uitspreek oor die belangrikheid van privaat besitreg om beleggersvertroue te herstel.

Verder moet hy ook planne aankondig om korrupsie te staak, salarisse te besnoei, reddingsboeie aan staatsentiteite stop te sit en dat daar beperkte hulp aan Eskom op voorwaarde van herstel van effektiwiteit sal wees. Doeltreffende rampbestuursplanne moet ook ’n prioriteit wees.

* Honderde werkers en werkloses beplan om Woensdag onder die vaandel van Cry of the Xcluded ’n optog na die parlement te hou. Die groep het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle verwerp die regering se “besnoeiingsbegroting” omdat dit werksverliese en massa-werkloosheid sal vererger.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Jse  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.