Robert McBride se kruisondervraging voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is vir eers uitgestel.
McBride was Donderdagoggend by die sitting van die kommissie in Johannesburg, waar hy getuig oor sy hantering van ’n verslag oor Valke-hoofde se beweerde betrokkenheid by Zimbabwiese burgers wat sonder ’n uitleweringsbevel oor die landgrens geneem is.
Die kommissie se regspan het gevra dat sy kruisondervraging oor sy optrede as destydse hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) uitgestel word.
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie wat in die laaste tyd talle kere sy misnoeë uitgespreek het wanneer getuienis uitgestel moet word, sê hy verstaan dat dit in dié geval gaan oor administratiewe struikelblokke. Zondo het die versoek toegestaan en gesê hy is jammer dat daar ’n uitstel moet wees.

Robert McBride Donderdag by die sitting van die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep
McBride se kruisondervraging sal op 21 Augustus plaasvind, sowel as die getuienis van genl.maj. Ntebo (Jan) Mabula van Noordwes.
McBride het vantevore getuig hy is deur Nathi Nhleko, toe minister van polisie, geteiken en uit Opod verwyder omdat hy moeilike vrae gevra het.
In getuienis teen McBride het Sandile July, ’n mede-direkteur van die prokureursfirma Werksmans, aangevoer McBride het gelieg oor sy betrokkenheid as destydse Opod-hoof in ’n verslag wat gehandel het oor Anwa Dramat, voormalige Valke-hoof, en Shadrack Sibiya, destydse Valke-hoof in Gauteng, se beweerde betrokkenheid in die Zimbabwe-saak.
Nhleko het destyds opdrag gegee dat Werksmans ’n ondersoek moet doen oor McBride.
July het getuig daar was wesenlike verskille in ’n Opod-verslag wat deur die Opod-ondersoeker, Innocent Khuba, saamgestel is en ’n tweede verslag wat deur McBride onderteken is. Hy het McBride van leuens beskuldig en dat hy nie wil erken daar is met bewyse gepeuter nie.