Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
McBride en kie se aansoek teen OB slaag
Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Tebogo Letsie

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het ’n verdere terugslag beleef toe die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag beslis het dat nog een van haar verslae onder die vergrootglas gaan kom.

Hierdie hofbeslissing kom nadat agt huidige en oudwerknemers van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ’n aansoek by die hof ingedien het dat ’n onlangse verslag van die OB teen hulle hersien en tersyde gestel word.

Die hof het ook gelas dat die remediërende stappe in die verslag, wat binne 30 tot 60 dae toegepas moes word, hangende die hersieningsaansoek tersyde gestel word.

Onder die aansoekers is Robert McBride, voormalige hoof van Opod, en Matthews Sesoko, Opod se hoof van ondersoeke.

Mkhwebane het nie die aansoek om die remediërende optrede ter syde te stel teengestaan nie, maar staan wel die hersieningsaansoek teen.

In haar verslag, wat in September uitgereik is, het Mkhwebane onder meer bevind Theresa Botha is onregmatig as adjunkhoof van Opod se nasionale gespesialiseerde ondersoekspan aangestel. McBride was toe nog hoof van Opod.

Robert McBride. Foto: Daily Sun

Mkhwebane het ook bevind Opod het onregmatig ’n kontrak aan die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT toegeken om selfoondata vir ondersoekdoeleindes te help ontleed.

As deel van Mkhwebane se regstellende optrede word Victor Senna, as waarnemende hoof van Opod, beveel om binne 30 dae tugstappe teen die betrokkenes in die verslag te doen.

Mkhwebane vereis ook ander remediërende optrede, onder meer dat Opod binne 60 dae die hof nader om Botha se aanstelling te laat hersien.

Sesoko het in ’n beëdigde verklaring, wat hy as deel van die hersieningsaansoek by die hof ingedien het, teen Mkhwebane uitgevaar.

“Die verslag is besaai met feitefoute, onlogiese afleidings en die verkeerde wetlike toepassings. Dit is irrasioneel, onredelik en onwettig,” lui Sesoko se verklaring.

Die hof se beslissing is die nuutste in ’n reeks hofbeslissings wat Mkhwebane in ’n slegte lig stel.

Talle politici, onder andere Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, teen wie Mkhwebane al bevindings gemaak het, beskuldig die OB daarvan dat sy partydig in haar verslae is.

’n Aansoek waarin die nieregeringsorganisasie Accountability Now die hof vra om Mkhwebane ongeskik vir haar pos te laat verklaar, sou aanvanklik Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, maar dit is uitgestel.

Dié saak sal eers later aangehoor word omdat die EFF ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het om as derdeparty by die saak betrokke te raak, sê adv. Paul Hoffman SC, ’n direkteur van Accountability Now.

Volgens Hoffman het Aubrey Ledwaba, adjunk-regter-president, verlede week met die betrokke partye ooreengekom om die saak tot Februarie volgende jaar uit te stel.

Die ekstra tyd gee die EFF kans om aan sy argumente te werk en gee die ander partye kans om daarop te reageer.

Hoffman sê Accountability Now bevraagteken die meriete van die EFF se aansoek.

“Ons het egter besluit om nie die EFF se aansoek teen te staan nie, want ons wil nie hê die saak moet sloer nie,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.