Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
McBride, kollegas vra interdik teen OB se stappe

Robert McBride, voormalige hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), en sewe van sy oudkollegas het die hooggeregshof in Pretoria vir ’n tydelike interdik teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), haar kantoor en drie ander respondente gevra.

McBride, wat ’n kandidaat is om as Mkhwebane se adjunk aangestel te word, en die sewe ander applikante in die saak vra die hof om ’n tydelike interdik toe te staan teen die remediërende stappe (regstellings) wat die OB in ’n onlangse verslag teen hulle voorgestel het.

Hulle vra die hof om die interdik toe te staan hangende die uitslag van ’n hersieningsaansoek teen die bevindings van die OB se ondersoek.

Die applikante voer in hofstukke aan hulle bring die aansoek omdat die remediërende stappe wat in die verslag voorgestel word, binne 60 tot 90 dae toegepas moet word.

Hersieningsaansoeke neem maande om aangehoor te word.

Robert McBrideFoto: Argief

Die agt applikante is McBride, Matthews Sesoko, nasionale ondersoekhoof van Opod, Nomkhosi Netsianda, hoofdirekteur van korporatiewe dienste, Marianne Moroasui, hoofdirekteur van regsdienste, Baatseba Motlhale, provinsiale hoof in Noordwes, Innocent Khuba, provinsiale hoof in Limpopo, David de Bruin, adjunkdirekteur van ondersoeke en inligtingbestuur, en Thereza Botha, adjunkdirekteur van Opod se nasionale gespesialiseerde ondersoekeenheid.

Die OB se ondersoek het gefokus op Opod se aanstelling van Botha as eksterne kontrakteur en die dissiplinêre optrede teen ’n werknemer wat glo beweerde onetiese en onregmatige optrede by Opod aangemeld het.

Mkhwebane het in haar verslag bevind die aanstelling van Botha as ’n eksterne kontrakteur om doodsdreigemente teen Opod-lede te ondersoek, was nie geregverdig as ’n “noodaanstelling” nie.

Die OB het gesê die dreigemente is “gesensasionaliseer”.

McBride en sy oudkollegas voer onder meer aan Mkhwebane se verslag is “deurspek met bevooroordeeldheid en verborge motiewe”.

Sesoko, die eerste applikant, sê luidens die hofstukke daar is “ooglopende onjuisthede, onlogiese gevolgtrekkings en regsfoute”.

“Dit (die verslag) is eenvoudig irrasioneel, onredelik en ongeoorloof,” sê hy.

Hy voer aan daar is 18 gronde waarop Mkhwebane se verslag op hersiening geneem en tersyde gestel kan word.

Behalwe Mkhwebane en die kantoor van die OB, is Opod, die minister van polisie en Fidelity Security Services die ander respondente.

Die applikante hoop die saak sal op 22 Oktober aangehoor word.

Mkhwebane het die afgelope paar maande verskeie keer bloedneus in die hof gekry. Dit het oproepe versterk dat sy uit haar pos verwyder moet word.

* Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die OB Dinsdag daarvan beskuldig dat sy vasbeslote is om “negatiewe bevindings teen hom te maak in weerwil van die getuienis voor haar”.

Sy het met “onbehoorlike of voorbedagte rade” opgetree, sê Gordhan in sy bykomende verklaring in sy hersieningsaansoek van die OB se ondersoek en bevindings teen hom.

Mkhwebane het bevind die sogenaamde geheime ondersoekeenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is onwettig gestig en bedryf. Sy het voorgestel dat Gordhan, as ’n voormalige minister van finansies, deur pres. Cyril Ramaphosa gestraf word.

Gordhan hou vol Mkhwebane het versuim om die eenheid deeglik te ondersoek.

Die kantoor van die Openbare Beskermer het aan McBride se prokureur gesê dat hulle nie in 'n onlangse verdoemende verslag 'n dringende aansoek om die afdwinging van regstellende stappe op te skort, sal teenstaan nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.