Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mchunu: Ministers gaan fyn moet trap met nuwe handleiding

Die dae van ministers wat hul ampsvoordele soos luukse motors, eersteklas-vlugte, peperduur akkommodasie en BBP-veiligheidsdienste vir familielede en kinders misbruik het, is getel.

Senzo Mchunu. Foto: Witnessmedia

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het Donderdag dié versekering aan die parlement en Suid-Afrikaners gegee toe hy tydens ’n mondelinge vraag-en-antwoordsessie gevra is wanneer die finale weergawe van die hersiende ministeriële handboek beskikbaar sal wees.

Mchunu het in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê die hersiening, wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar van dié handleiding van ministers oor hul ampsvoordele aangekondig het, is afgehandel.

“Dit is nou op die president se lessenaar. Sodra die president dit goedkeur, sal die gids uitgereik word. Die president het onderneem dat dit binnekort sal wees.”

Mmabatho Mokause, EFF-LP, het daarop gesê: “Minister, die werklikheid is dat ons veral in die laaste parlementêre termyn baie dinge waargeneem het waar ministers hul ampsvoordele misbruik het.

“Ons het gesien hoe ministers se families, hul kinders oral rondgevlieg en gehuisves is. Van hul families het selfs as adjunkministers opgetree en staatsfondse misbruik. Kan jy vandag die NRP verseker dat daardie afdelings van die ministeriële handboek, wat jy sê hersien is, nie weer iets soos wat lyk of dit in ’n fliek hoort, met staatsgeld sal toelaat nie.”

Mchunu het daarop sy versekering gegee. “Sulke dinge het in die laaste termyn gebeur. In dié termyn sal ons verseker dat daar in wese en in gees aan die voorskrifte van die ministeriële handboek voldoen word.

“Dit is waarom daar deeglike gesprekke, selfs gister (Woensdag tydens die kabinetsvergadering) oor die aangeleentheid gevoer is om te verseker dat ministers dit verstaan en bereid is om daaraan te voldoen. Dit is ’n ernstige saak. Ons wil nie die foute van die verlede herhaal nie.”

Dikeledi Mahlangu, ANC-LP, wou weet of die veranderinge in ooreenstemming is met die kostebesparingsmaatreëls wat Pravin Gordhan in sy 2016-begrotingsrede aangekondig het toe hy nog minister van finansies was.

Volgens Mchunu is meer as 80% van die hersiening gedoen om kostes te besnoei.

“Dit was doelwit, omdat ons ’n verantwoordelikheid het om leierskap te toon. Wanneer die president ’n aankondiging daaroor doen, gaan julle baie verras wees. Julle in die NRP sal daarna waarskynlik meer luukshede as die ministers hê.

Kan jy vandag sê watter voordele gesny sal word of is jy bekommerd dat jou kamerade van die soustrein geskop sal word?

Tim Brauteseth, DA-LP, het gesê 39% van Suid-Afrikaners leef maandeliks van net R419. “Die verskil tussen ’n eersteklas- en ekonomiese klas vlug is sowat R4 000. Dit is teen keer meer as waarmee 39% van ons mense maandeliks mee moet klaarkom.

“Kan jy asseblief die parlement verseker dat jy alles moontlik sal doen om die kommer van ons burgers wat sukkel aan te pak, terwyl sommige van ons terugsit en in luuksheid leef. Kan jy vandag sê watter voordele gesny sal word of is jy bekommerd dat jou kamerade van die soustrein geskop sal word?”

Mchunu het gesê Ramaphosa sal binnekort ’n aankondiging daaroor maak en dat hy nie oor die besnoeiings kan uitwei nie. “Maar besnoeiings kom.”

Volgens hom word daar in sy departement ook aangedring dat die ministeriële handboek net een aspek van die groter kwessie oor kostebesnoeiings vir die regering is.

“As ’n mens na die koste van die hele nasionale regering kyk, is daar verskeie ander kostedrywers. Ons (kostebesnoeiings-)tentakels sal ook daarna uitgesteek word. Ons maak ook binnekort aankondigings daaroor,” het Mchunu gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.