Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meeloper in hof, proses begin om Guptas uit te lewer

Die sakeman Iqbal Sharma, wat nou bande met die Gupta-familie het, is Donderdagoggend in die landdroshof in Bloemfontein aangekla van geldwassery wat verband hou met die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat.

Hy het saam met drie voormalige hooggeplaaste amptenare van die provinsiale regering in die hof verskyn, nadat hulle Woensdag in hegtenis geneem is.

Volgens die nasionale vervolgingsgesag is die proses reeds begin om ander beskuldigdes in die saak wat in die buiteland is, te laat uitlewer.

Die name van die Gupta-broers Atul en Rajesh “Tony” en hul vroue, Chetali en Arti, verskyn op die klagstaat. Hulle woon in Dubai.

Sharma, ’n vermeende meeloper van die Guptas, word ook met beweerde korrupte tenders by Transnet verbind. Sharma was die voorsitter van die Transnet-direksie se komitee vir verkryging.

Die ander drie beskuldigdes wat vanoggend in die hof was, was voorheen verbonde aan die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling. Hulle is Peter Thabethe, die voormalige departementshoof, wat deesdae op Ermelo woon, Seipati Sylvia Dlamini, voormalige finansiële hoof, en dr. Limakatso Moorosi, ook ’n voormalige departementshoof.

Al vier word van die oortreding van die Openbare Finansiële Wet aangekla en Sharma op ’n bykomende klagte van geldwassery.

Die vier beskuldigdes Donderdagoggend in die Bloemfontein-landdroshof. Foto: Mlungisi Louw

Die maatskappy waarvan Sharma ’n direkteur is, Nulane Investments 204, is die vyfde beskuldigde in die saak.

Luidens die klagstaat is R25 miljoen in ’n tydperk van sewe maande deur die departement aan Nulane Investments 204 betaal om ’n uitvoerbaarheidstudie oor die Estina-projek te doen.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekende direktoraat van die nasionale vervolgingsgesag, het by die hof gesê daar is altesaam 17 beskuldigdes in die saak.

“Almal behalwe die vyf hier vandag is individue of entiteite in die buiteland. Ons het reeds met die uitleweringsproses begin, in Indië en elders.”

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - AUGUST 21: Atul Gupta
Atul Gupta in 2013 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Volgens Seboka is ondersoek na die R25 miljoen vir die uitvoerbaarheidstudie reeds in 2019 begin, en is die saak “waterdig”.

Sy het ook gesê inhegtenisnames in verband met ander aspekte van die Estina-suiwelprojek ter waarde van R250 miljoen word eersdaags gedoen.

“Julle kan binnekort nog inhegtenisnames verwag.”

Iqbal Sharma in 2003. Foto: Gallo Images
Sharma tot Maandag agter tralies

Sharma en Thabethe gaan eers Maandag om borgtog aansoek doen om hul onderskeie regsverteenwoordigers kans te gee om voor te berei, nadat hulle vanoggend die voorlopige klagstaat ontvang het. Hulle sal tot dan by die Bainsvlei-polisiekantoor aangehou word.

Dlamini en Moorosi gaan om 14:00 vandag om borgtog aansoek doen.

iqbal sharma, tarina
Iqbal Sharma en sy vrou, Tarina Patel, op 'n glansgeleentheid in Johannesburg in 2019. Foto: Gallo Images

Thabethe en Dlamini was albei voorheen beskuldigdes in verband met die beweerde bedrogspul met die Estina-suiwelprojek.

Die aanklagte teen hulle is in 2018 in die streekhof in Bloemfontein voorlopig laat vaar.

Thabethe en Dlamini staan ook saam met ses ander tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Die beweerde bedrogspul het juis in die ondersoek na die Estina-bedrogspul op die lappe gekom.

Die omstrede Estina-projek het behels dat ’n melkverwerkingsaanleg op die plaas Krynaauws Lust van meer as 4 400 ha deur die Gupta-maatskappy, Oakbay, opgerig is, maar dit het nooit gewerk nie.

Die Estina-saak word ook deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder die soeklig geplaas oor die rol van die Guptas, wat landuit gevlug het, Ace Magashule, toe die Vrystaatse premier, en Mosebenzi Zwane, destydse LUR vir landbou, daarin.

Die beskuldigdes van links na regs: Peter Thabethe, voormalige departementshoof, dr. Limakatso Mooroosi, ook ‘n voormalige departementshoof van landbou in die Vrystaat, Seipati Sylvia Dlamini, ’n voormalige finansiële hoof van die departement, en sakeman Iqbal Sharma. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Bloemfontein  |  Gupta-Broers  |  Guptas  |  Iqbal Sharma  |  Staatskaping  |  Estina-Suiwelprojek  |  Geldwassery  |  Gupta-Uitlewering  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.