Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meer as 37 000 doen aansoek vir staatsgrond

Meer as 37 000 Suid-Afrikaners het aansoek gedoen vir ’n gedeelte van die sowat 700 000 hektaar staatsgrond wat die regering vir grondhervorming beskikbaar gestel het.

LP’s in die parlement het dít Dinsdagaand gehoor toe Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en haar departement hulle oor die vordering van dié program toegespreek het.

Didiza het aan die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gesê die program is in werking gestel nadat pres. Cyril Ramaphosa in Februarie vanjaar in sy staatsrede aangekondig het dat die staatsgrond beskikbaar gestel gaan word.

Meeste van die grond is van 896 plase in of net buite voormalige tuislande wat tans in onbruik of leeg staan.

Volgens Didiza is daar van Oktober advertensies geplaas vir belangstellendes om aansoek vir van die grond te doen.

Suksesvolle kandidate sal die grond vir 30 jaar by die staat kan huur, met die opsie om dit later te koop.

Thoko DidizaFoto: Elizabeth Sejake

Luidens ’n voorlegging van die departement Dinsdagaand aan LP’s word daar voorkeur gegee aan vroue, jeugdiges, gestremdes, werklose militêre veterane, plaaswerkers, plaasbewoners, arbeiders en werklose landbougegradueerdes.

Die doel van die program is om te help dat voorheen benadeelde mense toegang tot grond kry, kwesbares se grondregte verskans en beskerm word en om voedselsekerheid te verseker.

Dit is ook om ’n regverdige, geloofwaardige en deursigtige proses vir die selektering van begunstigdes te verseker, om vakante en onderbenutte landbougrond optimaal te gebruik en om gepaste opleiding en ondersteuning te verskaf.

Advertensies is van 15 Oktober tot 20 November vanjaar geplaas en aansoekers kon per pos of aanlyn aansoek doen. 16 005 mense het per pos en 21 258 mense het aanlyn aansoek gedoen.

’n Kortlys van kwalifiserende begunstigdes is opgestel en onderhoude sal van middel Januarie gedoen word.

Didiza het gesê dat die grond aanvanklik deel van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust in voormalige tuislande was.

Die DA het egter vroeër aan Didiza geskryf en ’n verduideliking gevra oor waarom produktiewe plase van bestaande swart opkomende boere ook op die lys van geadverteerde plase was, of daardie mense gekonsulteer is en hoe die grondhervormingsprogram hulle gaan raak.

Luidens die voorlegging is daar reeds 24 plase van gesamentlik sowat 23 488 hektaar grond in Gauteng, Limpopo en Noordwes waar huurkontrakte reeds van krag is.

LP’s wou ook weet waarom geen staatsgrond in die Wes-Kaap vir die program beskikbaar gestel is nie.

Didiza het aan die komitee gesê ’n volledige grondondersoek sal gedoen word om te bepaal watter grond reeds deur mense beset word.

“Ons wil verseker dat daardie mense ’n vorm van grondbesit kry. Van die mense is al reeds meer as 30 jaar op die grond. Ons moet besluit hoe ons met daardie mense te werk moet gaan en het ’n projekspan saamgestel om dit te hanteer.”

Volgens Didiza sal strukture ook ingestel word om dispute en appèlle oor die betrokke grond te hanteer.

LP’s het gehoor dat die begroting om die begunstigdes op die toegekende grond te ondersteun eers uit die departement se begroting vir 2021-’22 kom.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Grondhervorming  |  Staatsgrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.