Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Méér as 737 vra dat Mangaung-raad moet ontbind

Toe hy twee maande gelede met ’n beswaarskrif begin het om te vra vir die ontbinding van die uiters swak Mangaung-metroraad, is hy name genoem en gesê hy sal nooit slaag nie, maar nou het meer as 737 inwoners dit onderteken.

Só sê Themba Zweni, ’n voormalige ANC-burgemeesterskomiteelid in ’n vorige bedeling, en hoofsekretaris van die @Mzantsi-werknemersorganisasie.

Dié organisasie is veral bekommerd omdat die metro groot konstruksiekontrakte aan Gautengse maatskappye toeken en nie aan Vrystaatse maatskappye nie.

Themba Zweni, ’n voormalige ANC-burgemeesterskomiteelid in ’n vorige bedeling en hoofsekretaris van die @Mzantsi-werknemersorganisasie, en sy vriend Papiki Matshediso. Foto: Facebook

Zweni sê Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het hulle aanvanklik geïgnoreer toe hulle haar gevra het om te sorg dat die metro ontbind word weens die uiters swak dienslewering. Min het sy ook gedink dat daar soveel handtekeninge op ’n beswaarskrif verkry kan word, sê Zweni.

“Die beswaarskrif kry nou ook steun uit verskillende dele van die georganiseerde arbeid (vakbonde) in die metro en daagliks is daar net meer inwoners wat die beswaarskrif aanlyn onderteken,” sê hy.

Zweni sê min het die premier en hy geweet dat senior lede van die Vrystaatse ANC vandeesweek ’n opmars (betoging) na Luthuli-huis sou hou, waar hulle gevra het vir die ontbinding van alle Vrystaatse munisipaliteite en dat die Vrystaatse provinsiale regering onder administrasie geplaas word.

“Ntombela het ook nie geweet dat die mense vandeesweek ’n vergadering in die Zenzele-saal in Phahameng, Bloemfontein, sou hou waar hulle die pleidooi dat meer mense die beswaarskrif moet onderteken bespreek het nie.

Hy sê ook min het sy geweet dat die politieke partye in die raad nou ’n direkte pleidooi moet oorweeg om hulself te ontbind volgens afdeling 34 van die Wet op Munisipale Strukture.

“Ek het die briewe waarin ons vra dat hulle moet ontbind aan die koukus-voorsitters van al die politieke partye in die raad uitgedeel.”

Zweni sê die beswaarskrif is ook aan die kantoor van Zanele Sifuba, speaker van die Vrystaatse wetgewer, gestuur in ooreenstemming met die wet op Vrystaatse beswaarskrifte.

“Ons het ook die Vrystaatse wetgewer gevra om die gedrag van sy premier te ondersoek. As die wetgewer nie na ons beswaarskrif luister nie, sal ons die saak na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), en die Nasionale Vergadering (NV) in die parlement, neem.”

Hy sê die Mangaung-raadslede het geen skaamte nie. Hulle stel hulself verhewe bo die belastingbetalers van die metro. “Vyf vergaderings van die raad waarop dienslewering veronderstel was om bespreek te word, is uitgestel, terwyl hulle ter elfder ure voortgegaan het met twee “dringende vergaderings”. Dit was dringend om toestemming te kry sodat twee wyksraadslede elkeen ’n begrafnis van R100 000 kon kry.

“Raadslede wat nie minder nie as R45 000 per maand verdien, wil R100 000 vir hul begrafnisse hê, terwyl die raad R2 810 gee vir die begrafnis van ’n armlastige volwassene?”

Zweni sê hy kan nie verstaan waarom R100 000 betaal moet word om ’n raadslid te begrawe wanneer hy of sy nie kon toesien dat die vullis weekliks verwyder word nie. Vullissakke bly weke lank op sypaadjies lê omdat die voertuie wat die vullis moet verwyder, nie diesel het nie?

“Waarom word R100 000 vir ’n raadslid se begrafnis betaal as onverwerkte rioolvuil vin die strate afloop en motoriste versigtig moet ry om al die slaggate in strate mis te ry?”

Hy wil weet of die raadslede nie besig is om diens aan hulself te bewys nie?

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier. Foto: Argief

“Daar is raadslede wat besluit het om die vergadering te verlaat nadat hul uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, verwyder is sonder om ’n waarnemende uitvoerende burgemeester te verkies. Dit is gedoen sodat die speaker, geen keuse gehad het nie om die adjunk- uitvoerende burgemeester, as die waarnemende uitvoerende burgemeester aan te wys.

“Daardie waarnemende uitvoerende burgemeester het nou die lede van Mlamleli se burgemeesterskomitee heraangestel in hul poste as burgemeesterskomiteelede. Dit beteken hul salarisse as lede van die burgemeesterskomitee is veilig.

• Zweni sê hy het ook Maandag ’n vergadering bygewoon van die Mangaung Crises Committee, wat ’n groot betoging op 11 November in Bloemfontein beplan.

Daarmee wil hulle hul misnoeë wys met die swak dienslewering van die metro en die beweerde korrupsie en bedrog wat by die metro en die Vrystaatse provinsiale regering wat aan die gang is.

“Die organiseerders sê inwoners van die metro het reeds vyf mense aangewys om met sakelui, die taxibedryf en ander organisasies te konsulteer om hul steun te kry vir die betoging.

Briewe word ook geskryf om organisasies se steun te werf.

Skully Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Argief

Die twee sleutelkwessies waarvoor steun gewerf word, is die ontbinding van die metroraad en dat iets gedoen word oor die omstrede projek om asbesdakke te tel. Mlamleli is een van die beskuldigdes.

Zweni sê Samwu het reeds ’n sertifikaat gekry vir die beoogde staking en betoging in Bloemfontein.

Skully Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het ook reeds die beplande aksie goedgekeur.

Nxangisa sê aan Netwerk24 dit is waar dat die metro nie goed bestuur word nie en “ons het nou almal se ondersteuning nodig om hande te vat om Mangaung beter te maak.

“As hulle wil betoog, is hulle welkom om dit te doen en hul memorandum daar te gaan oorhandig.”

Hy sê as hulle die stadsbestuurder wil laat skors, is dit nie hy wat dit moet doen nie, maar die raad “omdat dit ’n kwessie van Mangaung en nie van Cogta is nie.”

Meer oor:  Sisi Ntombela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.