Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meer as derde van senior staatslui se kwalifikasies gebrekkig

Die onthulling dat tot 35% van alle senior bestuurders in die staatsdiens nie die vereiste kwalifikasies vir hul hoogs betalende poste het nie, is “uiters skokkend” en “vernietigend vir dienslewering” in Suid-Afrika.

Dit was Maandag die reaksie van regeerkundiges nadat Senzo Mchunu, minister van die staatsdiens en administrasie, in ’n parlementêre antwoord erken het dat sowat 3 301 van die 9 477 senior bestuurders in nasionale en provinsiale departemente teen 15 Februarie vanjaar nie die vereiste kwalifikasies gehad het nie.

Senzo Mchunu Foto: Witness Media

Dít sluit in kritiek belangrike departemente soos die polisie, wat die meeste ondergekwalifiseerde senior bestuurders (228) het, sowel as die departement van justisie en korrektiewe dienste, wat 189 ondergekwalifiseerdes in hierdie posisies het.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat die regering se beoogde program vir die onteiening van grond sonder vergoeding sal dryf, het 227 ondergekwalifiseerdes.

Michéle Clarke, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het Mchunu vroeër in ’n parlementêre vraag hieroor uitgevra. Clarke het Maandag gesê die DA gaan die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge versoek om ’n ondersoek na alle ondergekwalifiseerde senior bestuurders te doen.

Clarke het verder in ’n verklaring gesê senior bestuurders verdien jaarlikse salarisse wat wissel tussen “R1 miljoen en R1,9 miljoen, afhangend van hul posvlak.

“Hoe lank moet Suid-Afrika nog onder hierdie onbevoegdheid ly? Van hierdie poste is kritiek vir die land se ekonomiese en voedselsekerheid, en tog is kaderontplooiing belangriker vir die ANC-regering as goeie regering en die welstand van hul mense.”

Baie geld word aan konsultante bestee omdat staatsamptenare onbevoeg is om hul werk te kan doen.

Mchunu het verder geantwoord dat baie staatsdepartemente nie kwalifikasie-inligting op die regering se Persal-salarisrolstelsel vaslê nie en dat die inligting wat verskaf word dus “verwronge” kan wees.

Hy het bygevoeg dat 1 987 senior bestuurders in nasionale staatsdepartemente nie die vereiste kwalifikasies het nie.

Dit terwyl 1 314 ondergekwalifiseerdes in provinsiale staatsdepartemente werk. Van hulle is 381 in Gauteng, 246 in KwaZulu-Natal, 185 in die Oos-Kaap, 154 in Limpopo, 131 in Mpumalanga, 127 in die Vrystaat, 45 in die Wes-Kaap, 27 in Noordwes en 18 in die Noord-Kaap.

Oor wat gedoen word om dit reg te stel, het Mchunu gesê ’n riglyn oor verpligte kapasiteitsontwikkeling en opleiding en minimum toelatingsvereistes vir senior bestuurders is sedert 1 April 2017 in alle staatsdepartemente van krag.

Dit is onder meer om voortdurende professionele ontwikkeling en die verpligte opleiding van senior bestuurders te verseker.

Volgens Mchunu moet die departemente ook verseker dat voldoende finansiering daarvoor beskikbaar is.

Hoe lank moet Suid-Afrika nog onder hierdie onbevoegdheid ly?

Intussen het Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, Maandag die groot getal ondergekwalifiseerde senior staatsamptenare as ’n “groot bron van kommer” beskryf, veral vir Suid-Afrika, wat ’n enorme probleem met dienslewering ondervind.

“Baie geld word aan konsultante bestee omdat staatsamptenare onbevoeg is om hul werk te kan doen.”

Prof. Zwelinzima Ndevu, kenner van openbare leierskap en regeerkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê die prentjie wat Mchunu skep, is “uiters skokkend.

“Dit verduidelik die ondoeltreffendheid van die regering en die swak stand van dienslewering.”

Volgens Ndevu is die misbruik van die ANC se beleid van kaderontplooiing ’n rede daarvoor. “Daar is baie voorbeelde van hoe mense straffeloos sonder die minimum kwalifikasies in senior staatsposte aangestel word.”

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige aan die Hugenote-kollege Wellington, het gesê Mchunu se onthulling is “verwoestend vir professionalisme in die staatsdiens en vernietigend vir dienslewering.

“Dit het alles te make met kaderontplooiing waar politieke baantjies vir boeties geskep word.”

Volgens Schwella is daar derduisende mense in die land uit die aangewese groepe wat goed gekwalifiseer is, maar hulle word oorgesien wat senior staatsposte betref omdat “hulle nie kaders is nie”.

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Suid-Afrika  |  Kwalifikasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.