Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meer klappe as applous vir die president
eff
EFF-LP's stap Dinsdagmiddag uit die nasionale vergadering uit. Foto: Jaco Marais

’n Tydelike uitstappery deur die EFF, ’n waarskuwing dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word en kritiek op sy dromery.

Dít het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag in die Nasionale Vergadering (NV) begroet toe politieke partye deelgeneem het aan die debat op sy staatsrede wat meer as sewe uur lank geduur het.

EFF-LP’s het tydens die debat uit die NV gestap toe Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die podium betree het om sy toespraak te lewer. Dít was nadat Julius Malema, EFF-leier, gevra het dat Gordhan nie toegelaat word om sy toespraak te lewer nie weens die openbare beskermer (OB) se onlangse bevinding teen hom.

Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, het geweier om aan Malema se versoek te voldoen en gesê hy is buite orde. Die 44 EFF-LP’s het daarna opgestaan en uit die raadsaal gestap omdat hulle nie bereid was om na ’n “grondwet-oortreder” te luister nie. Hulle het ná die toespraak na die raadsaal teruggekeer.

pravin gordhan
Pravin Gordhan Dinsdag aan die woord tydens die debat oor pres. Cyril Rampahosa se staatsrede. Foto: Jaco Marais

Gordhan het in sy spreekbeurt gesê planne om Eskom te ontbondel duur voort ondanks bespiegeling tot die teendeel. Daar is “geen afwyking” – in die kabinet of in die regering – om van sy plan af te wyk om Eskom in drie dele te ontbondel nie.

“Eskom het begin om die voorstelle van die Februarie-staatsrede toe te pas – om sy funksies van opwekking, transmissie en verspreiding in drie aparte sake-entiteite te verdeel, ten volle besit deur die staat,” het hy gesê.

Vroeër in die debat het Malema in sy toespraak gesê Ramaphosa loop ’n risiko om in ’n staat van beskuldiging geplaas te word en dat ’n spontane rewolusie kan uitbreek as mense se grond nie teruggegee word nie.

Hy het gesê die stryd teen korrupsie gaan nooit gewen word as die president by bewerings van geldwassery betrek word nie. Ramaphosa moet die waarheid vertel oor wie sy veldtog in 2017 gesteun het om die ANC-president te word.

“Ons het nie voornemens om jou as president te verwyder nie, want jou mense het jou demokraties verkies, maar as jy gaan voorkom as ’n grondwet-oortreder, gaan ons geen ander keuse hê as om ’n proses te begin om jou in ’n staat van beskuldiging te plaas nie,” het hy gesê.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), ondersoek tans of Ramaphosa die parlement mislei het toe hy in November verlede jaar vrae oor ’n skenking aan sy veldtog van die omstrede dienstemaatskappy, Bosasa, in die NV beantwoord het.

Malema het Ramaphosa aangemoedig om daadwerklik op te tree eerder as om te droom omdat hy as staatshoof die mag het om verandering teweeg te bring.

Dit was in reaksie op Ramaphosa wat in sy staatsrede gevra het of die tyd nie aangebreek het om ’n nuwe slim stad te bou met die tegnologieë van die vierde nywerheidsrewolusie nie.

Malema het gesê mense is arm, werkloos, grondloos, word verkrag en misdaad is hoog. Hulle droom nie daaroor nie, dit is hul werklikheid.

Hou op droom, vertel ons van die grond waar jy die stad wil bou, hoe lank dit gaan neem, hoeveel dit gaan kos.

“Jy het nie die luuksheid om te droom nie. Jy is die president, jy is die implementeerder en het die mag om dinge te laat gebeur. Jy wil ’n blitstrein hê. Hou op droom, kondig dit aan hoe jy dit gaan doen. Hou op droom, vertel ons van die grond waar jy die stad wil bou, hoe lank dit gaan neem, hoeveel dit gaan kos. Jy het die mag om dit te doen.”

Mmusi Maimane, DA-leier, het op sy beurt gesê Suid-Afrika is in twee aparte dele verdeel – rykes en armes. Hy het die inkrimping van ekonomie betreur en gesê statistiek wat onlangs oor ekonomiese groei bekend gemaak is, toon dat die land in “diep, diep” moeilikheid is.

“Ons trek nie meer belegging nie. Dit beteken die ekonomie groei nie, wat beteken dat meer en meer Suid-Afrikaners aansluit by die werkloses. Dit is ’n krisis vir ons, maar ons kan dit omdraai as ons nou optree,” het hy gesê.

Om aandag aan dié dringende kwessies te gee, het die land nie drome nodig nie. “Ons het geld nodig. Ons het die regte mense nodig en, meer belangrik, ons het ’n plan nodig.”

Nuwe slim stede is onnodig; maak eerder die bestaande stede slim en die treine reg.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Ramaphosa se reg verdedig om te droom.

“Diegene wat beweer die staatsrede was net ’n droom, verstaan nie dat alle groot rewolusies wêreldwyd met ’n idee begin het nie. ’n Nasie sonder ’n droom, sonder visie en doelwitte is ’n nasie sonder ’n toekoms.”

Dit was die dromers wat in 1912 byeengekom het teen apartheid en gedroom het van ’n vrye Suid-Afrika wat alle Suid-Afrikaners nou geniet. Die land is gelukkig om ’n visioenêre persoon as die president te hê. “Hy is ’n groot dromer en terselfdertyd ’n groot doener. Wat die president aangekondig het is ons kollektiewe droom en sal gevolg word deur besliste optrede.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, het verwys na Ramaphosa se opmerking gedurende die verkiesingsveldtog dat hy wens hy kan jong wit mense aan ’n boom vasmaak om te keer dat hulle die land verlaat. “Het jy ooit gedink waarom wit mense die land verlaat? Dit is weens regstellende aksie. Daar word steeds teen jong wit mense gediskrimineer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.