Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Meer presidensieel as Zuma’

Die warm ontvangs vir Pravin Gordhan, minister van finansies, Woensdag in die parlement met sy begrotingstoespraak, is ’n refleksie op pres. Jacob Zuma, sê dr. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Hy het “meer presidensieel en waardiger voorgekom as Zuma en (die Amerikaanse president) Donald Trump saam”.

Gordhan het ’n staande toejuiging ontvang vanuit opposisiebanke. In die ANC-banke was daar onder sekere ministers ’n stram ontvangs.

Des van Rooyen het bly sit. Hy was in 2015 net ’n paar dae lank minister van finansies voordat hy moes plek maak vir Gordhan.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, wat saam met Van Rooyen betrek word by bewerings van staatskaping, het opgestaan en uit die raadsaal gestap terwyl Gordhan gepraat het.

Gordhan se benadering en verduideliking is meer pragmaties en geskoei op ekonomiese doeltreffendheid, eerder as die president se ideologiese aanslag.
Theo Venter

Venter sê dié politieke innuendo’s is betekenisvol. “Die laaste keer dat ek iets soos dit gesien het, was in die 1980’s voordat die Konserwatiewe Party van die Nasionale Party afgestig en Andries Treurnicht as NP-LP ’n toespraak gemaak het.”

Gordhan se benadering tot die plan vir radikale ekonomiese transformasie waarna Zuma in sy staatsrede verwys het, is meer haalbaar en polities betekenisvol. “Gordhan se benadering en verduideliking is meer pragmaties en geskoei op ekonomiese doeltreffendheid, eerder as die president se ideologiese aanslag.”

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê Gordhan het nie voorgekom soos iemand onder beleg en wie se politieke toekoms onseker is nie.

“Sy begrotingstoespraak was amper soos ’n staatsrede op sy eie met ’n duidelike visie oor hoe die samelewing vorentoe kan lyk.” Hy sê Gordhan se inkleding van ekonomiese transformasie het dit meer sin laat maak as toe Zuma dit in sy staatsrede probeer oordra het. “Hy het ook ’n duidelike boodskap gestuur aan wie hom ook al opvolg – dat die persoon ’n uiters ingewikkelde agenda gaan hê.”

Volgens Daniel Silke, onafhanklike politieke ontleder, lyk Gordhan se benadering tot ekonomiese transformasie meer holisties en soberder. “Hy maak dit duidelik dit gaan nie net oor herverdeling nie, maar die land het ekonomiese groei nodig.” Die feit dat Gordhan nie een keer verwys het na die multimiljardrand-kernkragplan nie, is ’n duidelike boodskap aan diegene wat hieruit wil voordeel trek dat ’n mens nie altyd kan kry wat jy wil hê as die ekonomie sukkel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.