Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Meesterplan vir water: Lisensies gouer toegeken

Suid-Afrika sal oor die volgende tien jaar sowat R900 miljard moet bestee as hy watersekerheid wil hê.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het Donderdag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê sowat R567 miljard daarvan is beskikbaar en nog R333 miljard moet iewers gevind word.

Sy het ’n water-meesterplan bekend gemaak wat volgens haar dalk “ambisieus en waaghalsig” klink. “Maar water is te belangrik vir ons om dit nié te doen nie. As ons nou optree, kan ons ’n voorspelde tekort aan water van 17% in 2030 afweer.”

Verskeie rolspelers, onder meer uit die geledere van die landbou, die sakewêreld en die burgerlike samelewing, het by­gedra tot die dokument van 64 bladsye.

“Ons moet aandag gee aan ons eie onvoldoende beleggings in waterinfrastruktuur en die onvoldoende bestuur van ons waterbronne,” sê Sisulu.

Die minister erken die situasie word vererger deur ’n tekort aan vaardighede en spesialiste, soos wateringenieurs, wetenskaplikes, hidroloë, hulpbron-ekonome en geohidroloë.

Daar moet onder meer gekyk word na die ontginning van water uit ander bronne as boorgate en damme, sê Sisulu.

Sy sê die meesterplan is gegrond op beleid wat in die verlede suksesvol was.

“Ons is ’n baie droë land en die situasie sal waarskynlik weens klimaatsverandering verder versleg. Ons watersekerheid kan net verseker word deur ’n kombinasie van ’n goeie wedstrydplan, slim tegnologie, kundigheid, goeie mensemateriaal in die sektor, uitstekende navorsing, inligtingstelsels, goeie wetgewing en ’n goed funksionele en ’n gekoördineerde institusionele ekostelsel. Bowenal moet Suid-Afrikaners leer om water spaarsaam te gebruik,” sê sy.

Die plan bevat ’n reeks dringende stappe wat gedoen en deur alle rolspelers in werking gestel moet word om stelsel- en infrastruktuur-uitdagings te oorkom.

Die minister sê te veel munisipaliteite kom nie hul verpligtinge na nie – ondanks finansiële en tegniese ondersteuning van die regering. Weens die beperkte finansiële bronne van die regering sal die private sektor in die toekoms ook ’n groter rol moet speel en in vennootskappe met die regering moet gaan.

Die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie se herstrukturering is een van die plan se kerndoelwitte.

Sisulu sê ook Suid-Afrika is in gesprek met sy buurlande oor samewerking oor die kwessie. Daar word reeds met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gepraat oor die moontlikheid om water met pypleidings na Suid-Afrika te bring.

Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) en die Wêreldnatuurfonds (WWF) het die meesterplan gister versigtig verwelkom en sê die spoed waarmee dit in werking gestel gaan word, is van kritieke belang.

Ander stappe in die plan is:

  • Waterlisensies vir boere sal nou binne 49 dae toegeken word “en nie binne drie jaar soos vroeër nie, want boere kan nie sonder water boer nie”.
  • Meer aandag sal in die toekoms gegee word aan die hervorming van die stelsels waarvolgens waterlisensies aan boere toegeken word. In dié stadium is 98% van waterlisensies in die hande van wit boere.
Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Omgewing  |  Lisensies  |  Waterbestuur  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.