Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mense ‘bevrees’ om Estina-inligting te verskaf, hoor Zondo
Dr. Roy Jankielsohn
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Felix Dlangamandla

’n “Kultuur van vrees” heers sedert Ace Magashule se premierskap onder staatsamptenare én begunstigdes in die Vrystaat om uit te praat oor grootskaalse korrupsie en ander ampsmisdrywe in regeringsprojekte soos die Estina-suiwelprojek by Vrede.

Die geheimsinnige omstandighede rondom die dood van twee top- provinsiale staatsamptenare én ’n uitgesproke begunstigde van dié projek, het dié vrese verder verdiep, sê dr. Roy Jankielsohn.

Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het Maandag só aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê toe hy oor dié omstrede suiwelprojek getuig het waarvoor die Vrystaatse regering meer as R200 miljoen aan Estina, ’n Gupta-verwante maatskappy, betaal het.

Dit terwyl die projek daarop gemik was om sowat 100 arm en opkomende swart boere uit die Vrede-omgewing te bemagtig.

Hy het ook herhaal hoe miljoene rande vir die projek destyds gekanaliseer is om vir die Guptas se destydse uitspattige troue by Sun City te betaal.

Jankielsohn en die DA het destyds verskeie klagte oor die projek by die openbare beskermer ingedien en is steeds in hofgedinge daaroor gewikkel.

ace magashule
Ace Magashule Foto: Felix Dlangamandla

Hy het verder getuig hoe Magashule, tans ANC sekretaris-generaal, as Vrystaatse premier in 2012 die suiwelprojek as ’n “vlagskip-projek” in ’n provinsiale rede aangekondig het en hoe die ooreenkoms daarvoor in die premierskantoor onderteken is.

Volgens hom was Magashule en Mosebenzi Zwane, destydse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat en beweerde Gupta-lojalis, en ander politici “pertinent” bewus van wat by die suiwelprojek aangegaan het, maar het hulle steeds toegelaat dat miljoene rande se staatsgeld daarin gepomp word.

Magashule se regsverteenwoordiger het Maandag aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, gesê dat sy kliënt binnekort oor beweringe teen hom voor die kommissie sal reageer.

Jankielsohn het ook getuig hoe R136,2 miljoen aan Estina betaal is nadat die kontrak in Augustus 2014 gekanselleer is.

Volgens hom betaal die Vrystaatse regering steeds sowat R20 miljoen per jaar aan die projek wat deur die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) oorgeneem is.

Die VOK betaal op sy beurt volgens Jankielsohn steeds ’n “buitensporige” R1 miljoen per maand aan nog ’n maatskappy om die tussen 120 en 160 melkkoeie te melk vir die projek wat steeds nie selfonderhoudend is nie.

Adv. Leah Gcabashe SC, getuienisleier, wou by hom weet waarom staatsamptenare nie inligting oor sulke projekte wil verskaf nie.

Hy het verwys na die “kultuur van vrees” waar mense bang is om hul werk te verloor of geïntimideer word.

Jankielsohn het ook verwys na Moses Tshake, ’n senior amptenaar wat in 2013 ontvoer, gemartel en vermoor is. “Daar word beweer dat hy van die betalings van die departement aan Estina bevraagteken het.”

Hy het ook getuig hoe Magashule self op die begrafnis van ’n Vrystaatse departementshoof aangedui het dat die persoon “vergiftig” is.

Hy sê hulle het na verskeie navrae nog geen bevredigende antwoorde oor bogenoemde voorvalle gekry nie. Hy het selfs ’n strafregtelike klag teen Magashule by die polisie ingedien omdat hy nie sy bewering oor die vergiftiging by die polisie aangemeld het vir ondersoek nie.

Volgens Jankielsohn word die begunstigdes steeds totaal uitgesluit en is ’n uitgesproke begunstigde selfs verlede jaar vermoor.

Albertus Venter, adjunkdirekteur van korporatiewe administrasie en koördinering in die kantoor van die Vrystaatse premier wie se kantoor destyds regsadvies vir die Estina-kontrak gelewer het, se getuienis voor die kommissie word Dinsdag voortgesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.