Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mense in NW betaal jare onnodig vir gratis sterftevorm

Noordwes se armste mense moes vier jaar lank elke keer onnodig honderde rande opdok wanneer hul geliefdes sterf omdat die provinsiale gesondheidsdepartement ’n “interpretasiefout” begaan het.

Johan van Deventer, die Potchefstroomse begrafnisondernemer wat die fluitjie geblaas het oor hoë lykshuistariewe, in sy kantoor in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Popo Maja, woordvoerder van die nasionale gesondheidsdepartement, het Dinsdag gesê hulle moes in der waarheid niks betaal het vir die uitreiking van ’n BI-1663-vorm (sterfkennisgewing) nie.

“Die Noordwes-departement het egter die (nasionale) riglyne vir pasiëntgeld verkeerd verstaan.”

Johan van Deventer, begrafnisondernemer in Potchefstroom, het eerste die fluitjie hieroor geblaas. Hy het onlangs vertel hoe arm mense by hom huil omdat hulle nie die BI-1663-fooi kan bekostig nie.

“Hulle het die vorm nodig voordat hul geliefdes se lyk uit die lykshuis by die Potchefstroom-hospitaal kan kom.”

’n Doodsertifikaat kan ook nie sonder dié vorm uitgereik word nie. Van Deventer was veral bekommerd omdat die R620-koste vir die vorm in die 2019-’20-boekjaar ’n meer as 50%-verhoging op die R412 in die vorige boekjaar was.

Noordwes is die enigste provinsie waar die geld vir die BI-1663-vorm gehef is, sê Maja.

“Ons het die Noordwes-gesondheidsdepartement nou opdrag gegee om die diens dadelik gratis te verskaf. Ons sal mense ongelukkig nie terugwerkend kan vergoed nie omdat dit prakties moeilik uitvoerbaar sal wees.”

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, het bevestig hulle het pas ’n skrywe van die nasionale departement gekry om alle hospitale in Noordwes te laat weet geen koste mag meer gehef word vir die uitreiking van die BI-1663-vorm nie.

Hy dink die Noordwes-regering het die BI-1663-vorm vermoedelik verwar met ’n lywige mediese verslag wat ingevul moet word indien ’n pasiënt byvoorbeeld van die Padongelukkefonds of van ’n versekeringsmaatskappy wil eis.

Volgens Maja was daar wel ’n groot tariefverhoging in die voltooiing van dié mediese verslae omdat daar ’n agterstand hiermee is.

“Dis baie arbeidsintensief, terwyl dit dokters se eerste prioriteit is om pasiënte te versorg. Die koste dek nie naastenby die standaardtariewe vir soveel ure se werk nie. Sekere provinsies het daarom private dokters gekontrakteer om die werk te doen.”

Maja het beklemtoon dat die openbare gesondheidsektor altyd probeer om armes te beskerm of te voorkom dat hulle ly. Daarom kos dit niks om ’n lyk tot 48 uur in ’n staatshospitaal se lykshuis te hou nie.

“ ’n Koste van R205 word wel daarna gehef, maar hospitale kan dit ook afskryf indien dit blyk dat mense dit regtig nie kan bekostig nie en elke geval word op meriete beoordeel.”

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, het bevestig hulle het pas ’n skrywe van die nasionale departement gekry om alle hospitale in Noordwes te laat weet geen koste mag meer gehef word vir die uitreiking van die BI-1663-vorm nie.

Dis nie duidelik hoe wyd in die provinsie die R620-fooi verkeerdelik hiervoor gehef is nie.

Van Deventer was Dinsdag oorstelp oor die nuus dat BI-1663-vorms nou gratis uitgereik kan word.

“Ek is sommer in trane,” sê hy.

Meer oor:  Popo Maja  |  Noordwes  |  Gesondheid  |  Sterftevorm  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.