Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Mense in rooi’ bestook motoriste ná Malema in Bfn praat

’n EFF-studentekonferensie in Bloemfontein waarop bykans alle hoëronderwysinstellings in die land verteenwoordig is en wat deur die partyleier, Julius Malema, bygewoon is, het ’n wrang smaak gelaat.

Mense in rooi het motorryers Saterdag met klippe bestook by ’n kruising naby die Vrystaatse Universiteit (UV) waar die konferensie gehou is.

’n Video-opname wat wys hoe mense in rooi hemde karre met klippe gooi, is op sosiale media versprei.

Madisa Makesini, EFF-leier in die Vrystaat, het bevestig dat die konferensie van Vrydag tot Sondag op die UV-kampus plaasgevind het en dat Malema studente kom inspireer het om te studeer en te presteer sodat hulle hul party trots kan maak.

Julius Malema, leier van die EFF, wat gevaar spel vir politieke stabiliteit. Foto: Tebogo Letsie

“Ek was Sondag tot omstreeks 01:00 op die kampus en het nie Saterdagmiddag of Saterdagaand klipgooivoorvalle gesien nie,” het Makesini by navraag gesê.

Maar volgens die video wat deur ’n ooggetuie gemaak is, is motoriste tussen 16:00 en 18:00 op die hoek van Nelson Mandela- en D.F. Malherbelaan deur jeugdiges in rooi met klippe bestook.

Tjaart van der Walt, ’n DA-raadslid van die Mangaung-metro in die wyk waar die UV geleë is, sê hy kan die voorval bevestig en het ’n waarskuwing uitgereik dat motoriste versigtig moet wees.

Van der Walt sê die studente het die naweek oral in gastehuise in Universitas naby die UV gebly en het die naweek in groepe deur die woonbuurt geloop.

Hy sê die video van die klipgooiery is eers Saterdag omstreeks 19:30 rondgestuur nadat die polisie die situasie in bedwang gebring het.

Armand Cloete, VF Plus-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, sê die optrede van EFF-studente is niks anders as anargisme nie.

“Die studente probeer om chaos te veroorsaak en vrees te saai deur onskuldige mense se eiendom te beskadig en hul lewe in gevaar te stel.

“Die VF Plus is bekommerd dat dié optrede volg op ’n toespraak van Malema op die konferensie. Die EFF is daarvoor bekend dat hy met sy sosialistiese revolusie-ideologie mense aanhits om geweld te pleeg. Dit is nie die Suid-Afrika wat ons nodig het nie.”

Cloete sê die VF Plus sal die provinsiale kommissaris van polisie versoek om dringend stappe te doen om klipgooiers te vervolg en toe te sien dat die gemeenskap veilig is.

Prof. Theo Neethling Foto: Argief

* Prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke wetenskap en regeerkunde aan die UV, sê volgens ’n kollega was daar Saterdag ook woelinge op die kampus.

Hy sê dit is doodgewoon die skadukant van wat in die parlement gebeur.

“Die EFF intimideer op ondemokratiese wyse die politieke arena. Die gebeure moet in die groter konteks gesien word nadat ’n minister op hoogs ondemokratiese wyse ook onlangs deur die EFF geïntimideer is.

“Die verband kan ook getrek word tussen die wetteloosheid en gebrek aan polisiebeheer in die Wes-Kaap waarheen die weermag ontplooi moes word. Wetteloosheid en anargie is aan die orde van die dag. Mense raak al hoe meer gefrustreerd met die polisie, soos op die Kaapse Vlakte.

“Mense het ’n gebrek aan vertroue in die polisie wat nie orde en reg kan handhaaf nie en wat nie meer daarin kan slaag om die burgery te beskerm nie. Dit lyk asof die regering besig is om beheer te verloor.

“Dan is daar die straffeloosheid. Hier is ’n klomp motors beskadig en mense word op die Kaapse Vlakte eenvoudig doodgeskiet, wyl daar geen vervolging is nie. Dit is te betwyfel of daar werklike suksesvolle vervolging in Bloemfontein oor die klipgooiery gaan wees.

“Iemand sal aanspreeklikheid hiervoor moet aanvaar.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.