Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mense staan ‘om die blok’ vir nuwe Sassa-kaart

Pensioentrekkers van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) staan soggens van 02:00 in ellelange rye in Bloemfontein om nuwe kaarte te kry waarmee pensioene getrek kan word, sommiges met krukke en in rolstoele.

Patricia Kopane, die DA se Vrystaatse provinsiale leier, het Maandag ’n onaangekondigde hersiening-inspeksie by die Sassa-kantore in Bloemfontein gedoen, saam met dr. Roy Jankielsohn, leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer.

Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, en dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, tydens ’n onaangekondigde besoek aan die nuwe Vrystaatse Sassa-streekkantoor in die Justitia-gebou in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Die Sassa-kantore was swak voorbereid om die duisende nuwe kaarte vir die pensioentrekkers te prosesseer. Mense staan soggens van 02:00 in lang rye in Bloemfontein se strate. Die rye het om die Sassa-gebou gestrek van sy ingang in Fonteinstraat, reg om met Aliwalstraat en St. Andrewstraat.”

Kopane sê behoorlike skarebeheer en toegangkontrole het ontbreek. Dit het onnodige frustrasie veroorsaak en gevaar ingehou vir bejaardes en mense in rolstoele. “Ons het ook net drie poskantoor-amptenare gevind wat met die kaartomruil-aansoeke gehelp het.”

Sy sê nadat hulle plaaslike bestuurders ontmoet het, het die DA vir Dianne Dunkerley, die uitvoerende bestuurder vir toelae-administrasie, gevra om meer mense van die Poskantoor beskikbaar te stel om met die skare en toegangskontrole te help.

“Ten tyde van ons hersiening-inspeksie het dit geblyk dat ’n stormloop en vertrapping aan die orde van die dag is.”

So lyk dit by die nuwe Vrystaatse Sassa-streekkantore in die Iustitia-gebou in Bloemfontein waar Sassa-kaart-aansoekers in drie strate tou staan. Foto: Mlungisi Louw

Kopane sê die DA is ingelig dat die omstandighede by Sassa-punte oor die hele provinsie heen presies dieselfde lyk.

Dit is terwyl Sassa probeer verseker dat sy begunstigdes van die ou CPS-stelsel na die nuwe Poskantoor-stelsel of persoonlike bankrekening oorgedra word.

Volgens die uitspraak van die Grondwethof moet dit voor 30 September gebeur.

Kopane sê die hele kwessie rondom Sassa plaas bykomende spanning en ’n las op die armes, die kwesbares en die bejaardes.

Die samedromming by die Vrystaatse Sassa-streekkantore in die Iustitia-gebou in Bloemfontein waar die Sassa-kaarthouers in drie strate tou staan en waar gevare van vertrappings en stormlope bestaan.Foto: Mlungisi Louw

Sandy Godlwana, senior bestuurder van Sassa: kommunikasie en bemarking, het by navraag Dinsdag gesê dat sy nie bewus was van die probleem nie. “Ek sal onmiddellik met die distriksbestuurder praat om te hoor waar die probleme lê. Dit kan stelselprobleme wees of ’n tekort aan personeel. Daar kan selfs ander redes wees. Ons gaan dadelik aandag gee.”

Godlwana het presies ’n maand gelede op presies dieselfde vrae geantwoord dat hulle erken dat daar mense is wat tot drie keer moet terugkeer om gehelp te kan word.

Sy het toe gesê dit is deels weens die verskuiwing van personeel van Sassa se Vrystaatse streekkantoor wat in die African Life-gebou was, na die nuwe Sassa-streekkantore in die Justitia-gebou. “Ons grootste uitdaging is die beskikbaarheid van die Hanis-stelsel vir die verifikasie van biometrika van aansoekers van die departement van binnelandse sake.

Dié uitdaging is met sleutelpersone bespreek en dit sal as groot dringendheid aandag kry, het sy toe gesê.

“Die frustrasie aan die begin van Julie het verband gehou met die Sassa-staking.”

Nog ’n foto van hoe dit lyk by die Sassa-kantore in Bloemfontein waar die samedromming by die dag net al hoe groter word om in besit van die nuwe Sassa-kaart te kom. Foto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.