Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Midvaal sê ook nee vir luukshede
Bongani Baloyi van die DA is as burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit in Meyerton ingehuldig. Dié geleentheid is in die Meyertonse stadsaal gehou. Foto: Johan Brits

Belastingbetalers se geld gaan nie vermors word op uitspattige eetgoed, spogvoertuie of vermaak nie – dit was nog altyd ons benadering en dit gaan so bly.

So het Bongani Baloyi, die Midvaal-munisipaliteit se burgemeester, by navraag aan Metro-Beeld gesê nadat Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van Tshwane, ’n dag tevore gesê het basta met luukse motors vir politici en senior amptenare en spandabelrigheid in die Tshwane-raad.

Baloyi is op 7 September in die Meyertonse stadsaal as burgemeester ingehuldig.

“Nie lank terug nie (tot voor die munisipale verkiesing in Augustus) was Midvaal die enigste DA-beheerde munisipaliteit in Gauteng. Vandag is Midvaal een van vier DA-beheerde munisipaliteite,” het Baloyi trots in sy inhuldigingstoespraak gesê. Dit is met luide applous in die stadsaal begroet.

Baloyi het in sy toespraak gesê dit is belangrik om die EFF se rol te erken in die proses wat dit vir die DA moontlik gemaak het om vier munisipaliteite te kan bestuur.

“Hul (die EFF) besluit om teen korrupsie te staan en om koalisievorming in kernmunisipaliteite oor die land heen te bewerkstellig, het dié skuif in leierskap moontlik gemaak – iets wat andersins baie langer sou geduur het om te bereik.”

Hy sê die Midvaal-munisipaliteit (wat plekke in die suide soos Alberton en Meyerton be­dien) het reeds gewys die DA se plan vir hoe ’n munisipaliteit bestuur moet word, het gewerk.

Baloyi het die raad se ses diensleweringsbeloftes vir die volgende vyf jaar uitgelig en dit is nie wilde beloftes nie, het hy benadruk.

“Ons is nie hier om mense te mislei of wilde beloftes te maak nie. Ons het geen geheime plan om dít te bereik nie. Finish en klaar. Geen manga manga-truuks (Zoeloe vir leuens) nie.”

Ook dié uitspraak is luid verwelkom.

Die ses beloftes is om ’n openlike, eerlike en deursigtige munisipaliteit te wees wat optree; ’n fokus op veiligheid; om ’n jeuggeoriënteerde munisipaliteit te wees; om die samesmelting van Midvaal met enige ander munisipaliteit te beveg; hoëgehalte dienslewering; en om die ekonomie in die gebied te groei.

“Ons wil robuuste gesprekke met die gemeenskappe hê, ons reaksie verbeter, veral vir ons klagtestelsel.

“Ons het met die veiligheidsgroepering, wat gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte insluit, vergader om ons te verbind tot ’n R1 miljoen-belegging in kommunikasie-infrastruktuur oor Midvaal heen.”

Wat die jeug betref, is die mikpunt om die ondersteuning aan sentrums vir vroeë kinderontwikkeling te verhoog, om jong mense as entrepreneurs op te lei en hulle te help met werk soek. Dié mense moet geleenthede kry, sê Baloyi.

Een van die gebiede waar verbeterde dienslewering toegepas gaan word, is in informele nedersettings deur basiese dienste soos toiletgeriewe te bou en titelaktes aan mense te gee.

“Ons het reeds meer as ’n duisend titelaktes in Sicelo en ’n duisend in Lakeside oorhandig,” sê Baloyi.

Meer oor:  Midvaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.