Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Miljoene aan motors vir tradisionele leiers bestee
Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het Donderdag die provinsiale wetgewer in die Jack Botessaal in Polokwane geopen. Foto: Rudzani Tshikororo

Slegs die helfte van huishoudings in Limpopo het behoorlike sanitasie, maar die provinsiale regering gaan miljoene rande beste aan voertuie vir senior tradisionele leiers.

Dit was Donderdag deel van Stan Mathabatha, premier van Limpopo, se boodskap met die opening van die provinsiale wetgewer wat in die Jack Botessaal in Polokwane gehou is.

“Tradisionele leiers speel ’n groot rol in ons tradisies en kulture en ons wil hul werk vergemaklik,” sê Mathabatha.

Hy het nie gesê watter voertuie vir die senior tradisionele leiers gekoop sal word of wat die koste sal beloop nie.

Die wetgewersopening het vreedsaam verloop met Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, wat in sy rooi oorpak gemoedelik met ANC-lede gesels het.

Buthane, Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, en Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, is dit eens dat Mathabatha se toespraak “van die werklikheid verwyder is”.

Hulle is ontevrede oor die weinig vordering wat gemaak is met die Musina-Makhado spesiale ekonomiese sone wat al lankal belowe is.

Mathabatha het gesê ’n buitelandse geldelike inspuiting van $1,1 miljard sal die proses vinniger laat verloop. Shaanxi CEI-investment Holdings het ook ’n kontrak van $5 miljard met die provinsiale regering aangegaan vir ’n vanadium- en titanium-smelterprojek wat deel van die Musina-Makhado spesiale ekonomiese sone-projek sal wees en werk aan 26 mense sal verskaf.

Smalle sê die gesloer met die totstandkoming van die spesiale ekonomiese sones in Limpopo is teleurstellend.

Mathabatha het ’n rooskleurige prentjie geskets van watervoorsiening in Limpopo en gesê die Polokwane grootmaatwaterskema is voltooi.

In skerp teenstelling hiermee moet inwoners van Polokwane gewoond raak aan beurtwater wat twee weke gelede ingestel is. Volgens die Polokwane se munisipaliteit is daar nie genoeg water vir al die inwoners in die stad nie.

Die veelbesproke Giyani-waterprojek wat in 2014 deur oudpres. Jacob Zuma begin is, is steeds slegs 54% voltooi. Meer as 50 nedersettings het nie water nie.

“Dit is kommerwekkend dat die premier nie meer aandag aan watervoorsiening gee nie,” sê Smalle.

Maritz is ontevrede omdat Mathabatha glad nie na die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo verwys het nie. Boere het miljoene rande se verliese gely nadat die gevreesde virussiekte in November buite Dendron uitgebreek het.

“Daar is ook nie ’n woord gerep oor landelike veiligheid nie. Dit laat ’n mens wonder of die premier ooit die boere wat kos aan mense verskaf, raaksien,” sê Maritz.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en Risham Maharaj, DA-LP voor die opening van die provinsiale wetgewer in Limpopo. Foto: Facebook/Jacques Smalle
Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, Donderdag by die opening van die provinsiale wetgewer in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, Donderdag by die opening van die provinsiale wetgewer in Polokwane. Foto: Verskaf

Meer oor:  Limpopo  |  Stan Mathabatha  |  Provinsiale Wetgewer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.