Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Die 7 miljoen huise waarvan SA vergeet het

Soveel as 7 miljoen munisipale eiendomme kan maklik oorgedra word aan sowat 20 miljoen behoeftige mense wat daardie eiendomme bewoon, maar dit nie besit nie.

Om die bestaande Wet op die Opgradering van Grondbesit (Wet 112 van 1991, ook bekend as Ultra) op dié manier te gebruik, is ’n veel beter idee as om met die Grondwet se eiendomsklousule te peuter, wat rampspoed kan veroorsaak, sê die Vryemarkstigting.

Die stigting gebruik Ultra al tien jaar in samewerking met die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat om titelaktes teen sowat R2 600 stuk (pleks van sowat R6 500 vir ’n huis van R100 000) aan die langtermyninwoners oor te dra.

Eustace Davie, ’n direkteur van die stigting, skryf in die nuwe boek Security of Property Rights in South Africa: A critical response to Expropriation Without Compensation dat meer as 6 000 titelaktes reeds op dié manier afgehandel is of tans oorgedra word.

Sodra mense eiendom as sekuriteit het, maak dit ekonomiese deure vir hulle oop.

Die Peruviaanse ekonoom Hernando de Soto beskryf sulke eiendomme as “dooie kapitaal” wat jy onmiddellik omskakel in “lewende kapitaal in die hande van die huiseienaars”, skryf Davie. Sodra mense eiendom as sekuriteit het, maak dit ekonomiese deure vir hulle oop.

Die boek, saamgestel deur Temba Nolutshungu, ’n direkteur van die stigting en ’n pionier van die swartbewussynsbeweging, is gepubliseer om saam te val met die mondelinge voorleggings die afgelope week aan die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses bestuur om die Grondwet te wysig.

Talle gevallestudies wys hoe vernietigend onteiening sonder vergoeding was oral waar dit gedoen is.

Verskeie instansies het in hul aanbiedings voor die komitee kommer uitgespreek oor wat die voorgestelde wysigings vir private eiendomsreg kan beteken. Dit kan selfs voedselsekerheid bedreig.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, moet sy werksaamhede teen einde Mei afhandel. Regsadvies word reeds ingewin deur onder meer Agri SA en Sakeliga om ’n skadelike Grondwet­wysiging te probeer stuit.

Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, het Woensdag ná dié organisasie se aanbieding gesê die proses moet sy loop neem voordat regsoptrede oorweeg word. Sakeliga het onderneem om private eiendomsreg te ondersteun en gratis regshulp beloof aan die eerste slagoffers van onteiening sonder vergoeding sou die klousule oor eiendomsreg in die Grondwet gewysig word.

Dr. Roelof Botha, ’n onafhanklike ekonoom, het in ’n studie vir Agri SA oor ont­eiening sonder vergoeding of “nul”­ vergoeding bevind kapitaalbelegging as persentasie van die BBP het met gemiddeld 14% gedaal in lande waar onteiening sonder vergoeding toegepas is. Hy het onder meer na Ethiopië, Spanje, Venezuela, Portugal en Zimbabwe gekyk.

Martin van Staden van die Vryemarkstigting waarsku in die boek geen belegger sal “ ’n sent” belê as hulle weet hul eiendom kan weggeneem word sonder vergoeding nie.

Die Vryemarkstigting stel voor dat onbenutte of onderbenutte staatsgrond aan armes oorgedra of in kleinhoewes of erwe vir wonings verdeel en dan oorgedra word.

Verskeie instansies is ook bekommerd oor die konsep van “nul vergoeding”. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê dit is ’n “poging om voor te gee dat onteiening sonder vergoeding nie in Suid-Afrika bestaan nie, terwyl dit juis dit is wat besig is om ingestel te word”.

Dr. Tom Palmer, uitvoerende vise-president van internasionale programme by die Atlas Network, skryf in die Vryemarkstigting se boek met Covid-19 wat voedselvoorraad wêreldwyd bedreig, behoort beleidmakers ver weg te bly van enigiets wat in die verlede landbouproduksie op sy knieë gedwing het en tot hongersnood gelei het.

Toe plase tussen 1928 en 1932 onteien is in die Oekraïene, het die land se varkbevolking van 26 miljoen tot 12 miljoen gedaal en skape en bokke van 146 miljoen tot 50 miljoen.

Volgens Crosby ondersteun Agri SA ’n volhoubare en ordelike grondhervormingsproses om landbouproduksie en voedselsekerheid te verhoog, maar is gekant teen onteiening sonder vergoeding. Agri SA bevorder ook die bemagtiging van die begunstigdes van die grondhervormingsprogram om hul grond produktief te benut en te verseker nuwe deelnemers word deel van die landbousektor.

Agri SA sê ook vergoeding kan onder geen omstandighede afhang van die staat se vermoë om te betaal nie. Betaling moet onmiddellik en in kontant wees.

Petrus Sitho, wat op ’n plaas in die Bultfontein-omgewing gebore is en ’n groot teenstander van onteiening sonder vergoeding is, sê in die boek die debat oor onteiening sonder vergoeding het van Suid-Afrika ’n siek land gemaak. Grondeienaars is senuweeagtig en bang, en arm mense het hoë verwagtinge om die beste grond verniet te bekom.

“Die verwagtinge word gedryf deur politici om verkiesings te wen. Desperate mense sal enigiets glo. Ons het die regering geglo toe hulle gesê het ons sal huise kry. Hoeveel mense ken jy wat ’n titelakte vir hul HOP-huis het?”

Meer oor:  Titelaktes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.