Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister berispe Zindzi oor twiets

Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, is deur dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, berispe oor haar omstrede Twitter-boodskappe.

Pandor het Vrydag aan Talk Radio 702 gesê sy het Mandela vroeër vandeesweek in Kopenhagen gebel.

Mandela het erken die Twitter-boodskappe, wat tot ’n groot storm aanleiding gegee het, was hare.

Dié dogter van oudpres. Nelson Mandela en sy eksvrou, Winnie Madikizela-Mandela, het onder meer op Twitter geskryf wit Suid-Afrikaners is gronddiewe en apartheidsapologete wat nes ongenooide gaste “weier om te loop”.

Die DA en AfriForum het onder meer geëis dat sy herroep word, terwyl die VF Plus wil hê die regering moet teen haar optree.

Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke. Foto: Loanna Hoffmann

Die EFF en verskeie ander mense steun haar.

“Ek het met ambassadeur Mandela gepraat en sy het bevestig die twiets is hare.

“Sy het my meegedeel sy het weke lank, wat sy genoem het ‘uiterste uittarting’ en vernedering ervaar deur verskeie kommentare oor haar ouers, Winnie Madikizela-Mandela, en oudpres. Nelson Mandela,” sê Pandor.

“Ek het vir haar gesê sy is ’n diplomaat en ek verwag van haar om soos ’n diplomaat op te tree.

“Ek het ook gesê sy moet gehoor gee aan die beleid oor die gebruik van sosiale media waaraan staatsamptenare moet voldoen.

“Ons het ooreengekom dat sy haar self sal bedwing en fokus op regeringsbeleid omdat sy as ons verteenwoordiger die beleidsdoelwitte van Suid-Afrika moet bevorder,” sê Pandor.

“Sy moet te alle tye onthou dat sy die verteenwoordiger van die president en Suid-Afrika in Denemarke is, en moet dienooreenkomstig optree.”

Lunga Ngqengele, Pandor se woordvoerder, sê daar moet nog bepaal word of Mandela die beleid oor sosiale media oortree het.

Kgabo Mahoai, direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het ’n ondersoek na die twiets gedoen.

Mandela se termyn verstryk volgens Ngqengele binne die volgende paar maande. Sy is sedert 2015 ambassadeur in Kopenhagen.

Ngqengele sê hy is nie bewus van beweringe dat Mandela in die verlede gereeld van haar werk afwesig was nie.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het nog nie reageer op navrae of enige klagtes by hom ingedien is nie.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Naledi Pandor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.