Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister dreig die SAUK

Die nuwe minister van kommunikasie weier om verder met die SAUK-raad te praat en gaan hulle by pres. Cyril Ramaphosa en die parlement verkla as hulle voortgaan met die beplande personeel-besnoeiing.

Stella Ndabeni-Abrahams en pres. Cyril Ramaphosa toe sy aangestel is as nuwe minister van kommunikasie. Foto: Deaan Vivier

Sy het die raad Saterdag in ’n siedende brief hieroor ingelig.

Die raad wil 981 permanente en 1 200 vryskut-werkers aflê om die uitsaaier uit sy finansiële verknorsing te red.

Maar Stella Ndabeni-Abrahams, wat twee weke gelede in haar pos aangestel is, sê in die brief sy gaan haar weerhou van enige verdere gesprekke met die raad. Sy sê dit is omdat die raad dit aan haar duidelik gemaak het dat hulle voortgaan met die afleggings, selfs al sou hulle ’n finansiële reddingsboei by die regering kry.

Sy sê sy het by die raad gepleit om die afleggings op te skort totdat sy tyd gehad het om die situasie te bekyk en met die finansminister oor finansiële hulp vir die uitsaaier gepraat het.

Die raad het haar versoek botweg geweier, sê sy.

“Ons het toe besef die raad tree nie meer op in die belang van die maatskappy, die aandeelhouer (die regering) en die parlement . . . nie,” sê sy in die brief.

‘Dit gaan oor beheer en natuurlik ook oor die verkiesing.’

Die brief, wat Saterdag afgelewer is, volg op ’n gespanne vergadering Donderdag waarin die minister geëis het dat die afleggings gestaak word.

’n Bron wat dié vergadering bygewoon het, het aan City Press gesê die raad het dit baie duidelik aan die minister gestel dat die SAUK teen vroeg volgende jaar geen geld vir salarisse sal hê nie.

Nog ’n bron sê die minister, haar adjunk, Pinky Kekana, en die waarnemende direkteur-generaal, Mashilo Boloka, het voor die vergadering eers met die vakbonde en personeellede vergader. Die bestuur van die SAUK is nie by dié vergadering toegelaat nie.

“Sy het vir die personeel gesê sy is hier om hul probleme op te los,” sê die bron.

“Teen die tyd dat die minister en haar afvaardiging die raad en die bestuur ontmoet het, was dit glashelder dat sy net hier is om die afleggings te keer. Sy was dreigend en aggressief, en haar adjunk ook. Dit het gelyk asof sy voorberei vir ’n konstruktiewe ontslag van die raad.”

Ingeligtes meen dis deel van ’n strategie in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing om van die raad ontslae te raak sodat meer ANC-gesindes daarin kan dien. Die huidige raad word beskou as onpartydig en onafhanklik, en die regerende party is skynbaar ongemaklik daarmee.

’n Bron by die raad sê Ndabeni-Abrahams “probeer die indruk wek dat die SAUK onverantwoordelik bestuur word en sy gebruik die afleggings om dit te doen.

“Dit gaan oor politiek, dit gaan oor beheer, en natuurlik ook oor die verkiesing,” sê hy.

“Sy probeer ons sover kry om op ons swaarde te val, maar wat het ons verkeerd gedoen? Daar is geen beweerde wangedrag nie. As die raad gaan, is dit hoogs waarskynlik dat baie van die nuutaangestelde bestuurslede ook sal gaan,” sê die bron.

’n Bron by die raad sê hulle het in die afgelope 14 maande geen ondersteuning van die departement van kommunikasie gekry toe hulle by die tesourie om hulp wou vra nie.

Gerugte het gister die rondte gedoen dat Khanyisile Kweyama, adjunkvoorsitter, en Krish Naidoo, raadslid, wil bedank.

Naidoo het dit ontken, maar toegegee dat daar “misverstande” onder die raadslede is.

Volgens hom meen sommige lede van die SAUK-raad dat hulle onafhanklik is, terwyl ander meen hulle moet verantwoordbaar wees aan onder andere die minister.

“Ons is verantwoordbaar aan die minister, die parlement en die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor). Ons kan nie ’n raad hê wat heeltemal onafhanklik van die regering is nie,” het Naidoo gesê.

Hy sê Ndabeni-Abrahams probeer net haar werk doen. “Sy is daarop geregtig om die raad te ontmoet en verslae aan te vra. Dis nie inmenging nie.”

Kweyama was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Bronne in die parlement het aan City Press gesê dit lyk asof die ANC sy lede opdrag gegee het om uit die SAUK-raad te bedank. “­Hulle wil sorg dat daar nie ’n kworum is nie.”

Volgens ’n bron in die raad besef die minister nie dat as die raad misluk, die SAUK gaan misluk nie.

“Ons is trots op die werk wat die raad gedoen het om poste te vul, om seker te maak dat die spesiale ondersoekeenheid hul werk doen en om ’n regrukplan te ontwikkel.”

Die SAUK-raad het in ’n verklaring die vergadering met Ndabeni-Abrahams, asook haar brief bevestig.

“Die raad werk aan ’n omvattende reaksie op die kwessies wat opgehaal is.”

Nthabeleng Mokitimi-Dlamini, Ndabeni-Abrahams se woordvoerder, het gesê hulle sal hulle hieroor uitspreek as die kwessie afgehandel is.

Phumzile van Damme, DA-LP, het gesê ’n behoorlike salaris- en vaardigheidsoudit moet dringend by die SAUK gedoen word as deel van ’n strategiese plan om die openbare uitsaaier te red. Sy meen die SAUK-raad moet hul “huiswerk” doen voordat personeel afgelê word.

Van Damme het ook haar kommer uitgespreek dat sou die raad deur ’n tydelike raad vervang word wat die ANC ter wille is, dit verreikende gevolge kan inhou vir hul dekking van die verkiesing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.