Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister droom van SA sonder wapens

Dit sal wonderlik wees as geen individue in Suid-Afrika op ’n dag meer vuurwapens het nie, sê Bheki Cele, minister van polisie.

Hy het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die Linden-polisiekantoor in Johannesburg gesê die meeste mense wat in Suid-Afrika vermoor word, word met gesteelde vuurwapens geskiet. En die meeste van dié vuurwapens word van wettige wapeneienaars gesteel, sê Cele.

Volgens hom is daar baie minder moorde in lande waar individue nie vuurwapens mag besit nie. Japan en Suid-Korea is twee voorbeelde.

Die minister het op die mediakonferensie aangekondig 2 266 vuurwapens en meer as 31 000 patrone is as deel van die jongste amnestieveldtog sedert die begin van Desember by polisiekantore landwyd ingehandig.

Bheki Cele (voor), minister van polisie, kyk na van die 298 vuurwapens wat Chris van den Bergh (links), ’n vuurwapenhandelaar van Johannesburg, as deel van die huidige amnestie-tydperk ingehandig het. Regs is genl. Khehla Sitole, polisiehoof. Foto: Felix Dlangamandla

Cele het toegegee die land se grense sal beter beheer moet word om te keer dat wapens uit die buiteland die land binnekom.

“Nie ’n enkele wapenhandelaar in die land verkoop AK47’s nie, maar tog is daar baie van dié wapens in die land in omloop. Hulle word uit die buiteland na Suid-Afrika gesmokkel.”

Die minister het erken vuurwapens word uit polisiekantore gesteel. Stappe word nou gedoen om die mense wat daarvoor verantwoordelik is, aan te keer.

Verskeie organisasies wat teen die amnestieproses gekant is, het al gesê hulle is bekommerd oor wat van die vuurwapens gaan word wat as deel van die amnestieproses deur lede van die publiek ingehandig word.

Hulle is bang die vuurwapens beland in die hande van misdadigers.

Cele sê die vuurwapens wat ingegee word, word nie by polisiekantore gehou totdat die proses begin om dit vir moontlike gebruik in misdaad ballisties te toets nie.

Dit word op veilige plekke in elk van die nege provinsies bewaar.

Die amnestietydperk is in die belang van die publiek. Uit die aantal vuurwapens wat reeds ingehandig is, is dit duidelik die publiek neem die boodskap ernstig op.

“Ons wil die publiek verseker dat ons ons stelsels vir die bewaring van die vuurwapens verbeter het,” sê Cele. 

Die ballistiese toetse sal gedoen word wanneer die amnestietydperk einde Mei verstryk.

Hy sê ’n ondersoekspan is saamgestel om hiermee te help. Die wapens wat met die amnestieproses ingehandig is, sal vernietig word nadat dit getoets is.

Cele sê hy glo die amnestieproses sal ’n duik maak in die aantal onwettige en ongewenste vuurwapens wat in die verkeerde hande beland.

“Die amnestietydperk is in die belang van die publiek. Uit die aantal vuurwapens wat reeds ingehandig is, is dit duidelik die publiek neem die boodskap ernstig op.

“Die polisie sal alles moontlik doen om die publiek teen die gebruik van onwettige vuurwapens te beskerm. Vuurwapens is die vyand van die gemeenskap,” sê Cele.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.