Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister gee toe varkhok vir armes

’n DA-parlementslid wil die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming by die Menseregtekommissie (MRK) verkla oor die haglike toestande waarin ’n groep hawelose mense op ’n staatsplaas in die Kraaifontein-omgewing bly.

Anna-Marie Schoeman (53), drie van haar seuns en Flappie, hul hond, bly in ’n watertenkkamer. Foto’s: Edrea du Toit

Dié groep van ongeveer 100 mense is onlangs van die grond waar hulle dekades lank geplak het, afgesit. Die Wes-Kaapse regering het toe aangebied om hulle na Philippi op die Kaapse Vlakte te verskuif, waar die Kaapstadse stadsraad vir hulle noodbehuising sou verskaf wat ordentlike sanitasie insluit. Die groep wou dit egter nie aanvaar nie, omdat dit sou beteken dat hulle te ver van hul werkplek sou woon.

Mcebisi Skwatsha, die adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het toe ingegryp en hulle na ’n staatsplaas in die Kraaifontein-omgewing verskuif.

Die omstandighede hier is egter haglik, sê die DA-parlementslid dr. Leon Schreiber en hy het beloof dat hy vir Skwatsha Maandag by die MRK gaan verkla.

‘Bejaardes moet in die openbaar was.’

Die lot van die bewoners van Klein Akker het vroeër vanjaar die nuus gehaal nadat hulle van die grond – waar sommige families so lank as 20 jaar reeds woon – afgesit is deur die eienaar, ’n plaaslike ontwikkelaar.

Die hawelose groep sonder enige heenkome het ’n paar dae langs die pad gesit, voordat Skwatsha hulle drie weke gelede na die plaas Mesco, op die Bottelarypad sowat 5 km van Klein Akker af, geplaas het. Mesco is ’n “bemagtigingsplaas” wat ’n paar jaar gelede deur die staat aangekoop is.

Pieter (Ballie) Hermanus, gemeenskapsleier.

Schreiber sê egter Skwatsha het die mense na Mesco verskuif in weerwil van ’n vroeëre hofbevel dat die uitgesette inwoners op munisipale grond in Philippi, 25 km wes van Kraaifontein op die Kaapse Vlakte, gehuisves word. Regter Lister Gcinikhaya Nuku van die hooggeregshof in Kaapstad het in Mei bevind dat Philippi ’n “veilige gebied” is, naby ’n polisiekantoor, geriewe soos skole en omring deur ’n gemeenskap wat aangedui het dat hulle geen probleem het as die uitgesette bewoners daar kom bly nie. Die stad sou ook aan elke gesin noodbehuising, water en sanitasiegeriewe verskaf. Die groep het egter gekla dat dit onprakties is omdat die meeste van hulle in die Kraaifontein-omgewing werk en hul kinders daar skoolgaan.

Schreiber en Annette Steyn, ’n mede-LP van die DA, sê egter die situasie op Mesco is ewe onaanvaarbaar. Tot 15 gesinne bly nou in die ou plaashuis, terwyl die res in varkhokke, krale en tente op die werf plak. Daar is geen lopende water nie en die grond is nie vir behuising gesoneer nie.

‘Bejaardes moet in die openbaar was.’

Verder is die strukture gevaarlik lamlendig, met gapende openinge in die dak, gebreekte vensters en geen deure. “Sonder privaatheid of lopende water is kinders, vroue en die bejaardes verplig om in die openbaar te was.”

Wat meer is, is dat die groep na Mesco verskuif is sonder dat die huidige huurder van die plaas daarvan kennis dra.

Ricardo Green, ’n direkteur van die maatskappy Ricmal Green, tesame met Mesco Plaaswerkers Primêre Koöperatief Bpk., het die hooggeregshof genader vir ’n uitsettingsbevel. In hofstukke vra hulle vir ’n bevel wat die verdere besetting deur mense, buiten dié wat reeds op die werf is, verbied. Die partye vra ook vir die uiteindelike afsetting van die hele groep. Die applikante voer aan dat hulle skreiend benadeel is deur Skwatsha se optrede en dat hul boerderybedrywighede daaronder ly.

Joseph Schoeman (66) se bed met plastiekbedekking is sy huis.

Met Rapport se besoek Vrydag aan Mesco, het inwoners hier rondgesit in ’n atmosfeer van uitsigloosheid. Rondom die plaaswerf met die reuse-akkerboom is oorgroeide wingerde, met wasgoed op drade in die wingerdrye.

Elizabeth Maarman woon in die donker rookdeurtrekte kamer. Bokant hul kop lek die dak.

Drie gesinne woon in dié kamer.

Anna-Marie Schoeman sê sy is “bly die minister het haar van die straat gehaal. Ek worry nie oor material dinge nie, but trauma . . .” Drie van haar ses seuns woon by haar in die “watertenkkamer”. Sy sê egter die omstandighede hier is baie slegter as op Klein Akker.

’n Gemeenskapsleier, Pieter (Ballie) Hermanus, sê die groep inwoners wil nie Philippi toe trek nie. “Daar is gangsters, die gebied is ver van die kinders se skool. Ook nie Wallacedene toe nie. Die mense het gesê as ons kom, dan gaan bloed vloei.”

Meer oor:  Mcebisi Skwatsha  |  Leon Schreiber  |  Armoede  |  Haweloses  |  Da  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.