Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister met regstappe gedreig oor verlengde ramptoestand

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, word gedreig met regstappe om te verduidelik hoekom die nasionale ramptoestand verleng is.

Sy het verlede week die verlenging van die ramptoestand tot 15 November in die Staatskoerant bekragtig.

Die burgerregteorganisasie Dear South Africa (DSA) het Dlamini-Zuma in ’n prokureursbrief tot 30 Oktober kans gegee om haar redes bekend te maak. Hulle vra ook die minister om die ramptoestand onmiddellik te beëindig.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Baba Jiyane

Die organisasie meen verlede week se verlenging is “irrasioneel, onwettig en onredelik” en moet hersien word.

Grondwetlik mag ’n ramptoestand net 90 dae gehandhaaf word. Daarna moet die parlement toestemming gee vir verdere verlengings.

Geen parlementêre goedkeuring is gekry voor verlede week se afkondiging nie, sê DSA.

Daniël Eloff, prokureur wat vir DSA optree, sê die omstandighede wat die ramptoestand in Maart onderskraag het, bestaan nie meer nie. Die aanvanklike onsekerheid oor die virus is grootliks uit die weg geruim.

Volgens Rob Hutchinson, leier van DSA, sal ’n voortgesette ramptoestand veel meer skade berokken aan Suid-Afrikaners se lewensbestaan.

“Ná sewe maande se inperking het ons nou ’n beter begrip van die risiko’s van Covid-19 en daar is bewyse dat ’n verdere inperking nie ’n wesenlike invloed gaan hê op die verspreiding van die virus nie.”

Verder wys DSA die minister daarop dat die land reeds sy hoogste piek van infeksies bereik het en dat die getal mense wat dood is, laer is as wat voorspel is.

Teen Dinsdagmiddag is daar sowat 19 000 sterftes aangemeld.

Dit is volgens DSA baie minder as die geraamde 40 000 mense wat teen einde November sou sterf. Hulle het ook verwys na die aktuariële vereniging van Suid-Afrika se skatting van 27 000 sterftes vir dieselfde tydperk.

Die DSA steun egter op Pandemics and Data Analytics (Panda) se vooruitskatting van sowat 20 000 sterftes teen einde vanjaar.

Gegrond op dié syfers is dit volgens DSA irrasioneel om voort te gaan met ’n ramptoestand.

Sou die minister gedagvaar moet word, sal sy ook redes en wetenskaplike data moet verskaf waarom sy besluit het om voort te gaan met ’n ramptoestand.

Haar kantoor kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.