Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister swyg oor fondse vir 10 jaar se waterplan

Suid-Afrika het uiteindelik ’n meesterplan vir water en nou moet die R900 miljard net gevind word wat dit volgens konserwatiewe beramings oor ’n tienjaartydperk gaan kos om dit in werking te stel.

Lindiwe Sisulu, minister van behuising, water en sanitasie, het onlangs dié lang verwagte en ambisieuse water-meesterplan bekend gestel, maar oor die finansiering daarvan niks gesê nie.

Pam Tshwete, een van die adjunkministers in die departement, het die afgelope week in die parlement klei getrap.

“Die feit dat ons nie geld vir ’n plan het nie, beteken nie ons mag nie planne maak nie,” het sy gesê aan die DA, wat die vraag gestel het.

“Julle het gevra vir die plan. Nou ís daar ’n plan, maar julle vra nou nóg ’n vraag. Ons sal aanhou planne maak.”

Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, sê die plan moes lankal opgestel gewees het. “Ons baklei al van 2014 af daarvoor. Maar ’n plan is basies net ’n wenslysie tensy jy die geld het om dit te implementeer.”

Die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring gesê daar is duidelik geen begroting vir die plan nie. “Die plan is bloot ’n verslag van wat Suid-Afrika reeds weet: daar is ’n droogteprobleem waaraan die regering weinig kan doen.”

Die plan bevat min besonderhede oor hoe bestaande waterbronne beskerm en hoe en wanneer nuwe waterbronne geïdentifiseer kan word.

Die meesterplan skets ’n somber toedrag van sake wat die stand van die land se natuurlike waterhulpbronne betref: Tussen 1999 en 2011 was daar enorme agteruitgang in die ekologie van die land se riviere. Die land het meer as die helfte van sy vleilande verloor en uit die 3,2 miljoen ha wat daarvan oor is, is ’n derde reeds in ’n kritieke toestand.

Hoewel die meesterplan dié probleme eien, verskaf dit nie riglyne van hoe dit opgelos sal word nie. Basson het aan Rapport gesê dit is kritiek dat die land se bestaande waterbronne beskerm word. “Om dit te doen, moet ons seker maak rioolwerke en suurmynwater besoedel nie ons riviere, vleilande en strome nie. En daarvoor is instandhouding nodig, wat die plan nie uitstippel nie.”

Luidens die plan wat einde November uitgereik is, sluit van die vernaamste dambou- en verbeteringsprojekte in: die Lesotho-hooglandwaterskema (LHWS), reeds agt jaar agter; die Hazelmere-dam in KwaZulu-Natal wat in 2016 moes begin het; die Thukela-Goedertrauw-projek wat in 2020 voltooi moet wees; die Tzaneen-dam waarvan die einddatum vanjaar is; en die Clanwilliam-dam wat in 2023 klaar moet wees.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.