Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister vertrou nie weermag om homself te ondersoek

Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, vertrou die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie genoeg om self seksuele misdrywe in hul midde te ondersoek nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Foto: Daily Sun

Dít is waarom sy ’n eksterne interministeriële taakspan aangestel het om vir die volgende drie maande die aanmeld, bestuur en afhandeling van sake van seksuele teistering, uitbuiting en mishandeling van veral jong vrouesoldate sedert 2014 in die weermag te ondersoek.

Volgens haar sal die ondersoek ook die reserwemag insluit “waar seksuele gunste ook versoek word om vir diens opgeroep te word”.

Só het Mapisa-Nqakula Maandag gesê toe sy Thoko Mpumlwana (voorsitter), genl.maj. (afgetree) Daphne Nodola, Britta Rotmann en dr. Mongezi Guma amptelik as taakspanlede bekend gestel het.

Dié taakspan sal so gou moontlik ’n inbelsentrum in werking stel waar slagoffers seksuele wandade kan aanmeld.

Die taakspan is Maandag ook aan die hoogste militêre bevelstruktuur voorgestel.

Mapisa-Nqakula het die weermaglede versoek om hul samewerking te gee wanneer die taakspan weermagbasisse en -eenhede as deel van hul ondersoek besoek.

Sy het gesê ’n kommerwekkende prentjie oor seksuele oortredings op basisse en eenhede in Suid-Afrika word geskets. Dit kom glo net so algemeen voor as in lande waar SANW-soldate vir vredesendings ontplooi word. Die Demokratiese Republiek van die Kongo is deel daarvan.

“Daar is waarskynlik talle voorvalle en sake wat, gegewe die aard van die militêre bevel- en beheerstruktuur, nie aangemeld word nie.”

Volgens Mapisa-Nqakula is dit egter tyd dat die weermag hom “oopstel vir noukeurige ondersoek om homself te kan herstel”.

“Dit is nie ’n veiligheidskwessie wat agter geslote deure opgelos moet word nie. Ek glo dit gaan oor misdaad, magsverhoudinge en mishandeling.

“Alhoewel ek algehele vertroue in die SANW-strukture het, is my vertroue in hulle om dié spesifieke aangeleentheid te hanteer beperk.”

Die taakspan kom ná ’n interne verslag wat Mapisa-Nqakula laat opstel het wat onder meer lui dat 41 soldate die afgelope 18 maande van verkragting en ander seksuele oortredings aangekla is. Dit is benewens ander seksuele oortredings in die Kongo.

Hoewel sy omgekrap is omdat dié verslag aan die media uitgelek is, het sy gesê die taakspan se werk sal nie net hiertoe beperk wees nie omdat “daar baie meer óf minder voorvalle kan wees”.

Ek glo dit sal as afskrikmiddel dien en dat oortreders nie in die weermag hoort nie.

Mapisa-Nqakula het dit duidelik gemaak die doel van die taakspan is nie om die militêre regbank se besluite te hersien nie.

Volgens haar is dit ook so dat die SANW as instelling deur die taakspan se ondersoek “geskud” word.

“Ek glo dit sal as afskrikmiddel dien en dat oortreders nie in die weermag hoort nie.

“Die weermag is ’n baie geslote instelling. Ons moet dit egter oopstel vir ondersoek. Nie om mense te bloot te stel of in die verleentheid te stel nie, maar omdat ons verkeerde dade wat binne die instelling gepleeg word, wil regstel. Dit moet beëindig word.”

Mpumlwana het gesê hulle sal onder meer kyk watter leemtes in bestaande wetgewing veroorsaak dat van die sake nie behoorlik gehanteer is nie.

“Ons sal verseker dat ons bevindings en aanbevelings nie net die slagoffers help nie, maar ook bestaande stelsels in die weermag sal verbeter. Ons hoop mense deel hul ervarings met ons wat ons in staat sal stel om aanbevelings te kan maak,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.