Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister wil las van salarisse op staatskas só takel
Ayanda Dlodlo Foto: Kopano Tlape

Die ontwikkeling van ’n omvattende vergoedingstrategie wat oor al drie regeringsfere strek, is een van die maniere waarop Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, die invloed van die stygende salarisrekening van staatsamptenare op die staatskas wil beperk.

Sy het Woensdagoggend op ’n inligtingsessie ter voorbereiding van haar begrotingstoespraak in die parlement gesê die departement sal ’n inisiatief oor die regeringsfeer heen lei om die invloed van dié uitgawe op die nasionale beursie te beperk.

Hieronder tel die hersiening en belyning van organisatoriese strukture en die personeelgetalle om die optimale benutting van mensehulpbronne te verseker. Planne is ook onderweg om die aanstelling van nog personeellede in die departemente te beperk.

Die riglyne ingevolge die ministeriële handboek oor die aanstelling van ondersteuningspersoneel in ministeriële kantore, moet volgens haar ook streng nagekom word.

Verder sal oortydwerk, die betaling van bonusse, en verlof streng bestuur word.

Die departement sal ook hard daaraan werk om die regering se huiseienaarskema vir staatsamptenare te finaliseer om bekostigbare behuising vir alle staatsamptenare daar te stel.

“Dié inisiatiewe sal verseker dat die personeeluitgawes binne die begroting van die mediumtermynbestedingsraamwerk bly. Ons sal ook toesien dat dié maatreëls en inisiatiewe deel is van die prestasieooreenkomste van ons departementshoofde om die sukses van die toepassing daarvan te verseker . . .” het Dlodlo gesê.

Oortydwerk, die betaling van bonusse, en verlof sal streng bestuur word.

Oor die onderhandelinge oor die salarisverhogings van staatsamptenare, het Dlodlo daarop gewys dat die regering ’n aanbod vir onderhandeling by die bedingingkamer ter tafel gelê het en dat alle partye ten volle betrokke is by die proses. “Die aanbod maak voorsiening vir ’n aanpassing vir lewenskoste, ’n styging in die behuisingstoelaag en die gelykmaking van salarisaanpassings vir alle werknemers in die staatsdiens.”

Dlodlo, wat deel is van die interministeriële taakspan wat die proses van nasionale administrasie in Noordwes moet uitvoer, reis binnekort na dié provinsie in ’n poging om so gou as moontlik stabiliteit daar teweeg te bring.

“Ek moet uit die staanspoor my diepe teleurstelling uitspreek oor die sinlose vernietiging van eiendom en die roekelose gebruik van geweld deur lede van die publiek in daardie provinsie.” Sy het ook mense wat gesondheidswerkers verhinder om siek mense te behandel, veroordeel. “Dit is verkeerd; dit is onregverdigbaar en geen mate van ontevredenheid sal dit ooit regverdig om iemand anders daarvan te weerhou om lewensnoodsaaklike behandeling te ontvang nie.”

Sy het gesê die ingryping in Noordwes noodsaak die inwerkingstelling van ’n duidelike en koherente beleid wat samewerking tussen departemente oor alle sfere heen sal versterk om sodoende uitdagings met dienslewering te identifiseer en dit proaktief die hoof te bied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.