Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister wil mense só kry om water te bespaar

Een van die planne wat die departement van water en sanitasie oorweeg om Suid-Afrikaners so ver te kry om water te bespaar, is om nuwe lewe te blaas in die sogenaamde blou- en groendruppel-moniteringstelsel vir munisipaliteite, sê Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings.

Lindiwe SisuluFoto: Sarel van der Walt

Die gehalte van drink- en rioolwater word met dié stelsel gemeet.

Sisulu het op ’n mediakonferensie in Kaapstad, wat per video na Pretoria herlei is, gesê planne kan moontlik ook gemaak word om individuele munisipaliteite gereeld te laat rapporteer oor wat hulle doen om veilige water- en sanitasiedienste te lewer.

Hulle sal ook moet rapporteer wat hulle doen om te keer dat water deur lekkasies verlore gaan.

Groot dele van die land gaan gebuk onder een van die ergste droogtes in dekades wat reeds op verskeie plekke tot groot ellende gelei het.

Die druk op die land se waterbronne is boonop enorm.

Die droogte duur al minstens die laaste vyf jaar en selfs langer in seker dele.

Omdat munisipaliteite so ’n groot rol speel met die lewering van waterdienste, moet hulle aangemoedig word om aan hulself doelwitte te stel om watergebruik te beperk, sê sy. Dié kan dan op ’n maandelikse basis gepubliseer word.

“Dit sal watergebruikers help om meer bewus te raak van die uitdagings met waterlewering,” sê Sisulu.

Die minister het verlede week haar departement se omvattende meesterplan vir water in Pretoria bekend gestel.

Die minister het verlede week haar departement se omvattende meesterplan vir water in Pretoria bekend gestel. ’n Soortgelyke plan vir sanitasie sal moontlik vroeg in die nuwe jaar bekend gestel word.

Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van die departement, het op die mediakonferensie gesê meer as R1 miljard is reeds aan munisipaliteite landwyd beskikbaar gestel om hulle te help om oplossings op kort-, medium- en langtermyn vir hul probleme met waterlewering te vind. Dit sluit in verouderde waterinfrastruktuur.

Tshangana sê R122 miljoen is aan die Oos-Kaap beskikbaar gestel, R114 miljoen aan Mpumalanga, R63 miljoen aan die Wes-Kaap, R117 miljoen aan Noordwes, R362 miljoen aan Limpopo, R167 miljoen aan die Noord-Kaap en R484 miljoen aan die Vrystaat.

Die direkteur-generaal het ná die vergadering gesê hy en Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement van landbou, bosbou en vissery, sal Saterdag vergader om planne te beraam vir hoe die landbousektor midde die droogte gehelp kan word.

Sisulu sê die geskeduleerde onderhoudswerk aan die tonnels waarmee water uit die Katsedam in Lesotho na die Vaalrivierstelsel gepomp word, wat onder meer Gauteng van water voorsien, is voltooi en die eerste water sal binne dae die Vaalrivier bereik.

Sipho Mosai, uitvoerende hoof van Rand Water wat verantwoordelik is vir lewering van water aan Gauteng, sê die Katsedam is net 14% vol vergeleke met 50% dié tyd verlede jaar.

“Dit is kommerwekkend dat die Katsedam so laag is, maar dit is nog nie ’n krisis nie. Die ander damme in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel is gemiddeld 60% vol.”

Dit sluit in die Sterkfontein-, Grootdraai- en Vaaldam.

Só lyk dit in die provinsies:

Lindiwe Sisulu het op die mediakonferensie gesê die departement van water en sanitasie het die droogtetoestande in al die provinsies ondersoek en verskeie ingrypings ingestel.

Droogtehulpprogramme is ingestel in al die provinsies wat die ergste geraak word.

Sy sê in die Oos-Kaap, wat reeds tot ’n droogterampgebied verklaar is, is agt damme leër as 10%, terwyl 26 van die 46 damme in die provinsie laer as 50% is. 44 dorpe en hul omliggende gemeenskappe word ernstig deur die droogte geraak.

In die Vrystaat het sewe van die 20 damme in die provinsie minder as 50% water. 24 dorpe en hul omliggende gemeenskappe word ernstig geraak.

In KwaZulu-Natal is ses uit die 19 damme leër as 50%, maar nie een is kritiek leeg (minder as 10% nie).

In Limpopo het vyf damme ’n kritieke vlak (laer as 10%) bereik, terwyl agt damme in Mpumalanga onder dié vlak is. 162 dorpe en gemeenskappe word geraak.

Hoewel die situasie in die Noord-Kaap baie ernstig is, is net die Leeubosdam naby Upington onder 10% vol. Van die ander vyf damme in dié provinsie is vier tussen 50% en 100% vol. 31 dorpe en omliggende gemeenskappe word ernstig geraak.

Drie van die 28 damme in Noordwes, die Klein-Maricopoort-, die Marico-Bosveld- en die Swartruggensdam, se vlak is onder 10%. 16 ander het minder as 50% water, terwyl 13 dorpe en omliggende gemeenskappe erg deur die droogte geraak word.

In die Wes-Kaap was net drie van die provinsie se 43 damme op 11 November 100% vol. 12 damme het toe minder as 10% water gehad. 40 dorpe en hul omliggende gemeenskappe word erg geraak.


Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Waterbesparing  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.