Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister wil sportfederasies se planne sien

Hoewel nasionale sportfederasies hul jaarlikse transformasieteikens bereik het, is die minister van sport en ontspanning se “grootste kommer” hoe hulle hul langtermynteikens gaan haal.

Sportfederasies sal daarom geskrewe planne en ondernemings moet indien wat uitstippel hoe hulle beplan om onder meer op te maak vir die huidige tekort in hul langtermynteikens.

Tokozile Xasa Foto: Daily Sun

Tokozile Xasa, minister van sport, het Dinsdagmiddag só tydens ’n debat oor haar departement se begrotingsrede vir 2018-’19 in die Nasionale Raad van Provinsies gesê.

Kagiso Rabada (23), bekroonde Protea-krieketspeler en die wêreld se voorste toetsbouler, was die departement se eregas tydens die debat.

Hy is deur verskeie LP’s geloof omdat hy die naweek by Krieket Suid-Afrika (KSA) se jaarlikse toekenningsaand in Sandton skoonskip gemaak en ses pryse gewen het.

Xasa het in haar toespraak gesê transformasie bly haar departement se prioriteit omdat dit Suid-Afrika kan verenig, kan bydra tot die ekonomie, werkgeleenthede skep en ’n bydrae tot ’n gesonde nasie kan maak.

Volgens haar is sport ook ’n sleutelkatalisator vir nasiebou en maatskaplike samehorigheid.

“Ons glo dat regverdigheid in sport nie bereik sal word totdat ons die speelveld gelyk gemaak het vir alle kinders in Suid-Afrika nie.

“Daarom moet ons eerstens gelykheid in sport verseker – alle moontlike deelnemers moet ten volle bemagtig word om op ’n gelyke vlak te kan deelneem.

“Die gehalte van geleenthede is belangrik wanneer ons die wanbalans van die verlede pak.

“Dít is die hoekstene van ons benadering tot transformasie in sport.”

Suid-Afrika het sedert pres. Cyril Ramaphosa aan bewind gekom het, ’n nuwe dagbreek of tydperk van hoop ervaar.

“Die sportbedryf moet homself ook skoonmaak van die negatiwiteit van die verlede.”

Sy sê sportfederasies en die private sektor kan nie bekostig om verandering en transformasie teen te staan nie.

“Hulle sal geskrewe planne en ondernemings moet indien oor hoe hulle vir die transformasie-tekorte gaan opmaak.”

Xasa het die sewe nuwe sportfederasies verwelkom wat onlangs ook skriftelik onderneem het om transformasieteikens te haal.

“Ons sal politieke ondersteuning en leiding aan hulle verskaf.”

Volgens haar is skolesport ’n vorm van volhoubare transformasie en die grondslag vir sportontwikkeling.

Haar departement het onlangs ’n ooreenkoms met die departement van basiese onderwys gesluit om te verseker dat skole aan sport deelneem. ’n Opleidingsprogram om onderwysers as afrigters op te lei, gaan binnekort bekend gestel word.

Meer oor:  Kagiso Rabada  |  Tokozile Xasa  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.