Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Minister ‘wou nie Zondo ondermyn’ met aansoek

Die minister van staatsveiligheid se vergeefse poging om Dinsdagoggend getuienis te keer wat voor die Zondo-kommissie aangehoor sou word, was “nie kwaadwillig nie”. Ayanda Dlodlo sê sy wou bloot die getuienis keer sodat sy die inligting waaroor getuig sou word, eers aan pres. Cyril Ramaphosa kon oordra.

Dlodlo het probeer keer dat Louiso Jafta, die waarnemende direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), Dinsdag getuig en het aansoek gedoen dat sy getuienis uitgestel word.

Woensdag het Dlodlo ’n verklaring uitgereik en gesê nadat Jafta klaar getuig het, het sy nou besluit om haar reg voor te behou om ’n formele aansoek by die kommissie in te dien oor sy getuienis.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid. Foto: GCIS

Sy sê die rede waarom sy Dinsdag sy getuienis wou laat uitstel, was vir ’n proses van “behoorlike konsultasie” tussen haar en Jafta sodat sy Ramaphosa as ’n kwessie van hoflikheid en verantwoording kon inlig oor wat die SVA se getuienis voor die kommissie sou wees.

Volgens Dlodlo het sy Ramaphosa van meet af aan ingelig oor die stappe wat sy gaan doen om die voorsitter van die kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo, deur haar regsverteenwoordiger te nader.

Sy sê konsultasies met Jafta, asook ander amptenare van die SVA wat nog voor die kommissie gaan getuig, is nodig om te verseker dat hulle die wet gehoorsaam wanneer intelligensie-inligting verskaf word.

Dlodlo sê volgens wet het sy as die minister van intelligensie die reg om oorsig te hê, asook die uiteindelike uitvoerende gesag oor alle intelligensiesake. Dit sal byna onmoontlik wees om haar werk te doen as sy nie inligting tot haar beskikking het nie.

Dlodlo sê dat sy nie kwaadwillig opgetree het deur Zondo te nader en te vra dat Jafta nie Dinsdag getuig nie.

Zondo het Dinsdag Dlodlo se aansoek afgewys en gesê sy het Jafta se beëdigde verklaring Maandag om 20:00 ontvang en dat sy genoeg tyd gehad het om haar van die inhoud daarvan te vergewis.

Jafta het Dinsdag self gesê hy is gereed om te getuig.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê Jafta het as waarnemende DG van die SVA die mag om te besluit watter inligting geklassifiseer moet wees of bekendgemaak mag word en sy getuienis sou wys dat hy met sorg daaraan aandag gegee het om nie enige sensitiewe inligting van die SVA se werksaamhede bekend te maak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.