Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ministers ‘het vir vale gekeer dat korrupsie by Prasa uitkom’
Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Maandag sy gesigmasker gedra en uitgewys dat die maskers verwyder kan word wanneer mense praat op die sitting, sodat hulle duidelik gehoor kan word. Foto: Skermgreep

Die optrede van die oudministers Dipuo Peters, Jeff Radebe en Joe Maswanganyi, asook dié van oudpres. Jacob Zuma, was alles om te keer dat die grootskaalse korrupsie by Prasa op die lappe kom.

Só het Popo Molefe, voormalige voorsitter van die Prasa-raad, Maandag in Johannesburg voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, gelei deur adjunkhoofregter Raymond Zondo, aangevoer.

Molefe het op die eerste dag waarop getuienis weer aangehoor is sedert die Covid-19-pandemie sittings ontwrig het, getuig hoe hy vergeefs probeer het om te vra dat Prasa ondersoek word.

Mense het gesê hulle sal wys waar die mag lê, waar dit eindig. Dit is soos in Amerika waar die president van die land (Donald Trump) nie die landswette en die grondwet respekteer nie.

Hy sê Baleka Mbete, in haar hoedanigheid as speaker in die parlement, sowel as Dikeledi Magadzi, voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor vervoer en nou adjunkminister van vervoer, het nie eens geantwoord op briewe waarin hy die grootskaalse korrupsie by Prasa uitgelig het nie.

Hy het in sy brief aan Mbete gevra dat daar ’n openbare ondervraging moet wees oor Prasa.

Volgens Molefe móés Radebe, oudminister in die presidensie met Zuma se presidentskap, geweet het van die bewerings van korrupsie by Prasa. ’n Verslag oor Prasa wat aan Radebe gestuur is, is Maandag as deel van Molefe se getuienis by die kommissie ingehandig.

Popo Molefe, voormalige voorsitter van die Prasa-raad, getuig Maandag voor die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Skermgreep

Molefe het getuig Radebe het nie ’n woord oor dié verslag gerep nie.

Ook Peters, destyds minister van vervoer, het gehelp om gerugte van korrupsie by Prasa toe te smeer deur die Prasa-raad te ontbind die dag toe die raad voor die portefeuljekomitee oor vervoer sou getuig, volgens Molefe.

Nadat hy en die raadslede hulle tot die hof gewend het om Peters se besluit te laat hersien en die raad weer onder Molefe se voorsitterskap aangestel is ná ’n hofbevel, het Maswanganyi, wat Peters as minister van vervoer opgevolg het, ook op sy beurt die Prasa-raad ontbind.

Sedertdien, vir sowat vyf jaar lank, is daar geen raad aangestel vir Prasa nie. Nadat Lucky Montana se kontrak as uitvoerende hoof verstryk het, is daar ook nog nie weer ’n permanente uitvoerende hoof aangestel nie; slegs waarnemende hoofde, het Molefe gesê.

“Slegs waarnemende uitvoerende hoofde vir ’n instansie met bates van R173 miljard wat bestuur moet word en wat steeds wanbestuur word.”

Adv. Vas Soni
Adv. Vas Soni lei Popo Molefe se getuienis voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Met verwysing na Montana het hy getuig dat dié in een geval ’n geheime waarborg uitgeskryf het vir ’n betaling van R800 miljoen aan ’n kontrakteur. Dit is dié tipe inligting wat hy onder die aandag van die parlement wou bring, maar nie die kans gegun is nie, sê Molefe.

“Mense het gesê hulle sal wys waar die mag lê, waar dit eindig. Dit is soos in Amerika waar die president van die land (Donald Trump) nie die landswette en die grondwet respekteer nie.

“Sy eie mense is te bang om teen hom op te tree. En wat doen hy? Hy verwyder al die goeie vervolgers in die land.

“Ons het dit hier gesien. Ons het dit met ons eie president (Zuma) gesien en met almal wat die regerende party (ANC) verteenwoordig het. Hulle het hulle gedra asof hulle niks verkeerd gesien het nie,” het Molefe getuig.

Meer oor:  Jeff Radebe  |  Jacob Zuma  |  Dipuo Peters  |  Prasa  |  Korrupsie  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.