Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ministers kap Malema oor grond-uitlatings

Opruiende uitlatings soos “die slagting van wit mense” en anargie sal nie in Suid-Afrika se grondhervormingsproses geduld word nie.

Grondwetlike prosesse sál daarmee gevolg word.

Twee kabinetsministers het Dinsdag in die parlement só na Julius Malema, EFF-leier, gekap wat ná sy hofverskyning Maandag op Newcastle onder meer gesê het dat die EFF nie vra vir “ ’n slagting van wit mense nie, ten minste nie vir nou nie” en dat “die EFF wit mense se vrede sal versteur en alles moontlik doen om grond af te vat”.

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, sowel as Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Dinsdag gereageer toe Hlengiwe Mkhaliphi, die EFF se adjunk-sekretaris-generaal, tydens lidverklarings van LP’s in die Nasionale Vergadering uitgevaar het teen die aanklagte teen Malema.

Malema word aangekla weens beweerde opruiende uitlatings oor grondhervorming tydens ’n EFF-saamtrek in 2014.

Mkhaliphi het gesê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Malema “in opdrag” van pres. Jacob Zuma aangekla.

“Die rigtinglose NVG-hoof, Shaun Abrahams, het die EFF-president aangekla met ’n apartheidsera-wet net omdat hy eis dat ons gesteelde grond teruggegee moet word.

“Vir die NVG om nou ons president aan te kla vir uitlatings wat hy in 2014 gemaak het, wys die desperaatheid van Zuma en die ANC. Dit wys ook hul lafhartigheid en hul verwardheid.”

Sy het gesê vir die 22 jaar wat die ANC die land regeer, kon hulle nog net 9% van die grond aan swart mense teruggegee.

“Daarvoor het hulle meer as R80 miljard gebruik om gesteelde grond terug te koop. Dit wys net dat dieselfde wit mense wat voordeel getrek het uit kolonialisme steeds vandag voordeel trek uit die dwase ANC-beleid om gesteelde grond van hulle terug te koop.”

Volgens Mkhaliphi sal dit, met die huidige pas van grondhervorming, die ANC 100 jaar neem om net 30% van die grond aan swart mense oor te dra.

Sy het bygevoeg dat die EFF al die grond aan swart mense sal gee as hy die regering word.

Masutha het gesê die regering se standpunt is dat anargie nie geduld sal word nie.

“Ons het ’n Grondwet wat praat van die oppergesag van die reg. Die reg tot eiendom is beskerm in daardie Grondwet.”

Volgens Mashutha skryf die Grondwet die “ordelike herverdeling van grond en restitusie” voor.

“Dit is ongelukkig ’n stadige proses, maar hoe moeilik en stadig dit mag wees, is dit hierdie proses wat ons sal volg.”

Nkwinti het bygevoeg dat die EFF hom voordoen as die “beskermers van die Grondwet”, maar wil aan die ander kant mense aanmoedig om dieselfde Grondwet te verbreek.

“Dit is die probleem met wat die EFF doen. Hy misbruik jong, arm en liggelowige Suid-Afrikaners vir sy eie doelwitte. Dit is onaanvaarbaar.”

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het Malema se uitlatings ook sterk tydens die sitting veroordeel.

Hy het gesê hoewel grondeienaarskap steeds ’n netelige kwessie is, moet dit op ’n grondwetlike, geweldlose en rasionele wyse opgelos word.

“Alle rasgroepe in Suid-Afrika benodig mekaar om vorentoe te kan beweeg, om die ekonomie te kan verbeter en om werkgeleenthede te kan skep,” het Meshoe gesê.

Meer oor:  Malema  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.