Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ministers ‘moet meer vet sny’, sê Ramaphosa

Die DA sal aanhou druk toepas om te verseker dat buitensporige luukshede vir ministers beperk word.

Leon Schreiber, DA-LP, het Sondag dié opmerking gemaak en gesê LP’s behoort ook insette te kan lewer oor hoe die nuwe ministeriële handboek daar moet uitsien.

Voordele ten opsigte van ampswonings, ampsmotors, reise en ondersteuningspersoneel vir lede van die uitvoerende gesag en sommige lede van hul gesinne word onder meer in dié dokument uiteengesit.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie. Foto: Argief

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het in Junie in ’n omsendbrief aan amptenare gesê pres. Cyril Ramaphosa het die nuwe Riglyne vir Lede van die Uitvoerende Gesag – wat die ministeriële handboek van 2007 vervang – goedgekeur. Hy het gesê dit sal vanaf 8 Junie van toepassing wees.

Sowat ’n maand later in sy begrotingsrede in die nasionale vergadering het Mchunu egter gesê daar is “gebiede van kommer” in die dokument wat aan die begin van die nuwe parlementêre termyn aan ministers uitgereik is.

Hy het ook aangekondig dat Ramaphosa vir hom (Mchunu), sowel as Tito Mboweni, minister van finansies, en Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, aangestel het om aandag te gee aan die kwessies wat geïdentifiseer is, wat insluit die perke op die aankoop van ampsmotors, tariewe op private voertuie en veiligheidsopgraderings by ministers se huise. Daar kan moontlik ook “ander kwessies” wees waarna die drie ministers sal kyk, het hy gesê.

Mchunu het gesê die ministers sal dié werk binne twee maande afhandel en verslag doen aan die kabinet.

Sunday Times het Sondag berig dat Ramaphosa die nuwe weergawe van die dokument teruggestuur het en ministers opdrag gegee het “om meer vet te sny” in ’n poging om buitensporige besteding te besnoei.

Nie Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, of Mchunu se woordvoerder kon Sondag vir kommentaar bereik word nie.

Schreiber het die proses as “chaoties” bestempel.

“Die ministeriële handboek is ná sowat 11 jaar hersien en die nuwe weergawe is in Junie goedgekeur. Nou, ’n paar weke later, word daar berig dat die proses weer begin.”

Volgens hom het die departement maande lank aan die hersiening van die handboek gewerk en die weergawe waarmee hulle vorendag gekom het, “het geen verbeterings bevat nie”.

Hy het in die parlementêre portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie herhaaldelik druk toegepas vir die minister en die departement om verslag te doen aan die komitee oor die nuwe weergawe. “Ons sal aanhou druk toepas. Ek wil graag hê dat die komitee toegelaat word om insette te lewer oor hoe om die handboek te verbeter.”

Sy voorstel is dat die Wes-Kaapse voorbeeld gebruik word, wat weggedoen het met “onnodige luukshede”.

As dit waar is dat Ramaphosa wil hê die gordel moet nóg stywer ingetrek word vir die uitvoerende gesag, sal dit welkom wees, het Schreiber gesê. “Ek is egter skepties, hy sê dit al lank, en daar was nog geen optrede nie. Ek sal egter konstruktiewe voorstelle maak en op ’n proaktiewe wyse saamwerk.”

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Cyril Ramaphosa  |  Leon Schreiber  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.