Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ministers ‘op hete kole’ oor hantering van onluste

Terwyl die druk kwaai opbou om kabinetslede aanspreeklik te hou oor die staat se trae hantering van die grootskaalse onluste verlede week, is daar ook kommer oor hernude voorvalle van geweld.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie. Foto: Nasief Manie

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie, het Donderdag ná ’n toesigbesoek aan KwaZulu-Natal in ’n verklaring gesê haar komitee sal die uitvoerende gesag voor stok kry oor die “blapse” met die hantering van die plundering van verlede week.

“Lede van die uitvoerende gesag is as ’n kollektief asook individueel verantwoordbaar aan die parlement en dit sal ’n versuiming van ons plig wees as ons nie verseker dat daar aanspreeklikheid is nie,” het sy gesê.

Luidens die verklaring glo die komitee dat aanspreeklikheid noodsaaklik is om ’n herhaling van dié soort geweld in die toekoms te voorkom.

Die komitee stel onder meer voor dat daar gesprekke gevoer word oor intelligensie-apparate en begrotingstekorte.

Intussen het Kumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, Donderdag op ’n mediakonferensie gekap na die menseregteorganisasie Amnestie Internasionaal nadat hy in ’n verklaring geëis het dat grootkoppe in die veiligheidsgroepering moet rol weens die regering se trae hantering van die onluste.

Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika, het in die verklaring gesê dat die regering bekend moet maak wat hy geweet het in die dae voordat die geweldpleging uitgebreek het.

“Die minister van staatsveiligheid (Ayanda Dlodlo) is op rekord waar sy gesê het dat hulle inligting het en dit aan die minister van polisie (Bheki Cele) deurgegee het. Maar daar is nie opgetree nie,” lui die verklaring.

Cele het Woensdag op die toesigbesoek aan KwaZulu-Natal egter ontken dat hy ’n verslag van Dlodlo ontvang of dit onderteken het.

Ondersoek sal ingestel word na die kuberaanval op Transnet se IT-stelsel, wat dié staatsonderneming en sy hawens Donderdag lamgelê het.

Die DA het reeds verlede week geëis dat pres. Cyril Ramaphosa vir Cele en Dlodlo die trekpas gee.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, meen die ministers is op “hete kole” omdat hulle bang is dat hulle hul poste weens die “mislukking” met die onluste, waarin meer as 300 mense glo dood is, gaan verloor.

Hy meen dit is net ’n kwessie van tyd voordat ’n kabinetskommeling plaasvind ná die dood van Jackson Mthembu, minister in die presidensie, en noudat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, met spesiale verlof is.

Ntshavheni het voorts gesê hoewel daar geen nuwe onlusverwante voorvalle aangemeld is nie, beskerm die polisie en weermaglede polisiekantore, veral dié wat vuurwapens berg, omdat die regering “geen kanse wil waag” nie.

Sy het ook gesê dat hulle ondersoek sal instel na die kuberaanval op Transnet se IT-stelsel, wat dié staatsonderneming en sy hawens Donderdag lamgelê het.

Hoewel daar gevrees is dat oudpres. Jacob Zuma se bywoning van die begrafnis van sy broer Michael Donderdag tot openbare spanning sou lei, het alles glad verloop en is Zuma weer agter tralies in die Estcourt-gevangenis, waar hy 15 maande tronkstraf weens minagting van die hof uitdien.

Michael is op 11 Junie ná ’n lang siekte dood.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê Zuma se deernisverlof is toegestaan omdat hy ’n korttermyn-, laerisiko-gevangene is.

Ntshavheni het in ’n verklaring ook bekend gemaak dat 337 mense in Gauteng en KwaZulu-Natal weens die onluste dood is nadat die polisie ’n hersiening van die syfers gedoen het.

In Gauteng word 42 moordsake nou ondersoek, en 171 in KwaZulu-Natal.

Sy het dit duidelik gemaak dat die polisie nie bloot alle sterftes wat in die tydperk van die onluste geskied het, saamgooi nie. Die polisie verifieer of die plek waar die mens dood is, verband hou met die onluste.

Meer oor:  Tina Joemat-Pettersson  |  Ministers  |  Kabinetskommeling  |  Geweld  |  Kabinetslede  |  Hantering  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.