Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Misdaad: 'Nog 2 tot 3 jaar voor dinge beter gaan'

Staatskaping het in die afgelope dekade ’n groot invloed gehad op geweldsmisdaad op plase, asook in Suid-Afrika in die algemeen, sê dr. Johan Burger, navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

“Daar is ’n duidelike ooreenkoms tussen staatskaping in wetstoepassingsowerhede en die toename in geweldsmisdaad,” sê Burger.

Hy het Donderdag in Silverton, Pretoria, gepraat op die bekendmaking van die landbouvereniging TLU SA se statistieke oor plaasaanvalle en -moorde.

Burger glo die hervormings waarmee pres. Cyril Ramaphosa in wetstoepassingsowerhede begin het, moontlik die voorkoms van geweldsmisdaad sal verminder, ook op plase.

“Dit gaan egter waarskynlik eers slegter gaan voordat dit beter gaan, want die hervormings gaan twee tot drie jaar neem om gevestig te word,” sê hy.

Op ’n vraag of politieke uitsprake ’n beduidende oorsaak van plaasaanvalle is, het Burger gesê daar is geen navorsing om dié bewering te staaf nie. Hy gee egter toe dat die huidige politieke klimaat “gunstig” daarvoor is.

Luidens TLU SA se voorvalleregister het die aantal plaasaanvalle en -moorde sedert 2011 jaarliks toegeneem tot in 2017. Boonop het die syfers ’n 60%-toename in die aantal plaasaanvalle van 2011 tot tans in 2019 getoon, vergeleke met die tydperk tussen 2000 en 2009.

moorde, misdaadstatistieke, grafika
plaasaanvalle, moorde, misdaadstatistieke, grafika
triomoorde, misdaadstatistieke, grafika

Burger sê die toename kan nie apart beskou word van die algehele tendens van geweldsmisdaad in Suid-Afrika nie, wat ook sedert 2011 toegeneem het.

“Die media het reeds berig oor hoe staatskaping sy tentakels by die Valke en die nasionale vervolgingsgesag ingewurm het. Die kaping van die strafregstelsel het die land se vermoë om misdaad te beveg ontsettend baie skade aangedoen,” sê hy.

Hoewel mense in stedelike gebiede volgens Burger deur die hoë voorkoms van misdaad getraumatiseer word, meen hy egter mense op plase is slegter daaraan toe omdat hulle uitgelewer voel.

“Plaasaanvalle is ’n unieke soort misdaad,” sê hy.

Plaasaanvalle is ’n unieke soort misdaad
Dr. Johan Burger, navorser

Genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, sê geweldsmisdaad moet deur die polisie om verskeie redes as ’n prioriteitsmisdaad geag word.

“Plaasaanvalle verskil van ander soorte misdaad omdat dit dikwels gepaardgaan met fisieke mishandeling wat soms aan marteling grens,” sê hy.

Boonop meen hy geweldsmisdaad op plase is net die oortjies van die seekoei aangesien boere erg onder ander soorte misdade soos veediefstal gebuk gaan.

“Die syfers oor geweldsmisdaad op plase bly skokkend. Maar vir ons is dit nie net syfers nie. Dit is meer as 2 000 lede van ons boeregemeenskap wat sedert 1990 uitgemoor is. Dit is 5 148 kere wat gesinne en plaaswerkers vir hul lewe gevrees het in ’n plaasaanval,” sê hy.

Hy het uitgevaar teen Ramaphosa wat ná pleidooie van landbouorganisasies nog nie plaasmoorde in die openbaar veroordeel het nie.

Bennie van Zyl, bestuurder van TLU SA, sê sy organisasie het reeds sy SOS-veldtog geloods om lande oorsee van die kwessie bewus te maak.

“Die regering lewer nie sy bydrae nie. Daarom het ons ’n petisie opgestel wat mense aanlyn kan teken. Ons sal dit na ambassades stuur en vra dat positiewe druk op die regering uitgeoefen word,” sê hy.

Vergadering met polisiekommissaris

TLU SA het in Mei ’n vergadering met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, oor ’n landelike veiligheidstrategie gehad.

Die vergadering het glo positief verloop en Sitole het gevra dat daar binne drie maande ’n opvolgvergadering plaasvind.

Luidens TLU SA het die gesprek oor vier aspekte gehandel:

* Die polisiereserviste-stelsel moet landbouvriendelik word. Dit behels dat reserviste nie al die pad na die polisiekantoor hoef te ry om aan te meld nie, en eerder dadelik kan optree.

* Plaaswagte, veiligheidsmaatskappye, landbouorganisasies en die polisie moet saamwerk om misdaad in landelike gebiede te bekamp.

* Die herbevestiging dat plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad deur die polisie beskou word.

* Die definisie van plaasaanvalle moet verbreed word sodat ander aspekte van landbouveiligheid soos diefstal daarby ingesluit word.

Meer oor:  Iss  |  Misdaad  |  Plaasmoorde  |  Moord  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.