Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Misdaadhoof wend hom tot Cele oor ‘onregverdige verhoor’

Twee senior lede van die polisie, lt.genl. Nneke Ledwaba en lt.genl. Francinah Vuma, wat glo toegang tot hoogs geheime dokumente het wat in ’n dissiplinêre polisieverhoor as getuienis gebruik is, het volgens lt.genl. Peter Jacobs nie enige veiligheidsklaring nie.

Jacobs, geskorste misdaadintelligensiehoof, het hierdie inligting Woensdag in ’n brief aan Bheki Cele, minister van polisie, bekend gemaak.

Jacobs sê in die brief ook dat die versnelde dissiplinêre verhoor waaraan hy en vyf van sy kollegas onderworpe is, nie moes voortgaan nie. Dit het op Maandag 22 Februarie in Limpopo begin.

Lt.genl. Peter Jacobs, geskorste misdaadintelligensiehoof, vra dat Bheki Cele, minister van polisie, by die dissiplinêre verhoor teen hom en vyf ander misdaadintelligensiebeamptes ingryp. Foto: Jan Gerber/News24

Volgens Jacobs moes die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, geweet het dat Ledwaba en Vuma nie enige veiligheidsklaring het nie en dat dit ’n struikelblok in die dissiplinêre verhoor sou wees.

Hy sê dat die saak ook by die bedingingsraad vir die veiligheidsektor aangemeld is en dat die bedingingsraad reeds ’n datum, 23 Maart 2021, vasgestel het waarop die saak aangehoor gaan word. Die versnelde dissiplinêre verhoor moes daarom nie eens begin het of voortgaan nie.

Jacobs gaan verder en sê kragtens wet het Ledwaba en Vuma nie die nodige veiligheidsklaring vir toegang tot die geklassifiseerde dokumentasie wat vir die verhoor noodsaaklik is nie. In die brief meld hy ook dat hulle ’n strafregtelike klag in verband met die geklassifiseerde dokumentasie by die Silverton-polisiekantoor aanhangig gemaak het.

Jacobs vra in die brief vir Cele se ingryping by die dissiplinêre verhoor.

Sy brief aan Cele kom nadat die voorsitter van die dissiplinêre verhoor, Ledwaba, glo Dinsdag besluit het dat hy nie na enige voorleggings of getuienis van Jacobs of enige van die vyf ander misdaadintelligensiebeamptes wat saam met Jacobs geskors is, gaan luister nie.

Lt.genl. Nneke Ledwaba Foto: Daily Sun

Jacobs en vyf van sy beamptes, genl.maj. Maperemisa Lekalakala, brig. Deon Lombard, kol. Manogaran Gopal, kol. Bale Matamela en kol. Isaac Waljee, is in Desember 2020 deur Sitole geskors.

Hul skorsing kom ná ’n verslag van die inspekteur-generaal van intelligensie wat verband hou met die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PBT).

Die inspekteur-generaal het bevind dat geld uit misdaadintelligensie se geheime rekening betaal is en dat die uitgawe onreëlmatig is.

LEES OOK: Cele klim in in stryd tussen Sitole en misdaadhoof Jacobs

Nou blyk dit egter die ses vrees hul verhoor gaan nie regverdig en onbevooroordeeld wees nie.

In die brief skryf Jacobs dat hy en die vyf lede tans aan ’n versnelde proses onderhewig is – en dis waar die kinkel in die kabel kom.

Luidens inligting het die geskorste polisielede se verteenwoordigers die geldigheid van ’n brief bevraagteken wat die polisie se verteenwoordiger Dinsdag as getuienis op rekord laat plaas het. Volgens bronne het Ledwaba, wat veronderstel is om onbevooroordeeld teenoor al die partye te wees, kwaad geword en glo vir die ses se verteenwoordigers gesê dat hulle hom nie moet bevraagteken nie. Die verhoor is daarna vir ’n wyle verdaag.

Jacobs skryf verder dat die verhoor ná 14:00 hervat het.

“Die voorsitter het teruggekeer en op rekord ingelees dat die werknemers se verteenwoordigers geweier het om op die klagte te reageer en dat hy sy uitspraak op Donderdag 25 Februarie 2021 sal lewer.”

Links sit lt.genl. Francinah Vuma en regs genl. Khehla Sitole saam met die voormalige polisieminister Fikile Mbalula. Foto: Sarel van der Walt, Argief

Volgens hom is dit egter nie waar nie en was hy, Jacobs, nog besig om op die klagte wat aan hulle voorgelê is te reageer.

Hy skryf hoewel hulle aangesê is om kennis van die klagtes te neem, niemand behalwe hy (Jacobs) gevra is om voorleggings te maak nie.

“Lt.genl. Ledwaba, voorsittende beampte, het sy verantwoordelikhede as voorsitter verontagsaam deur die bewysstadium te sluit sonder om voorleggings of getuienis aan te hoor of die beamptes te laat pleit,” skryf Jacobs.

“Enige werknemer is volgens regulasie 9(7) van die polisieregulasies van 2016 verplig om ’n verhoor by te woon wanneer hy in daarvan kennis gestel word. Die regulasie swyg egter oor die pligte van die voorsitter as hy nie sy verantwoordelikheid nakom of daarvan afstand doen nie.”

Volgens Jacobs se skrywe het hy probeer om die nasionale polisiehoof te kontak. Hy het nie sy oproepe beantwoord nie.

Hy het ook vir lt.genl. Dineo Ntshiea, hoof van mensehulpbronne, gekontak om haar oor die verwikkelinge in te lig. Sy het gesê dat sy nie die versnelde dissiplinêre verhoor hanteer nie.

“Ek vra vir dringende ingryping om die nasionale kommissaris te dwing om die regte dissiplinêre prosesse te volg en lt.genl. Ledwaba van die verhoor te verskoon.”

Hy sê Ledwaba het regulasie 4 (1) van polisieregulasies van 2016, wat lui dat die voorsitter onafhanklik en objektief moet wees en nie die regte van die werknemers moet skend nie, verontagsaam.

Cele het volgens inligting in ’n daaropvolgende skrywe aan Sitole gesê die inhoud van Jacobs se brief kan nie geïgnoreer word nie. Volgens hom is die beweringe in die brief ernstig en vra hy daarom dat Sitole se kantoor dringend daaraan aandag moet skenk.

“Dit moenie beskou word as inmenging by die werk van die voorsittende beampte nie,” skryf Cele dan.

Navrae is na Cele se woordvoerder gestuur. Dit is nie beantwoord nie.

Vrae is ook per WhatsApp aan Ledwaba en Vuma gestuur. Hulle het dit gelees, maar nie beantwoord nie.

Vish Naidoo, Sitole se woordvoerder, het Woensdag gesê die polisie maak nie inligting uit interne aangeleenthede bekend nie.

“Ook nie waar dit te doen het met die inhoud van briewe tussen senior bestuur en politieke leiers nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.