Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mite dat DA steun verloor, sê Maimane
07-02-2019   NETWERK24  Die 2019 Opening van die P
Leier van die DA, Mmusi Maimane, en sy vrou, Natalie. Foto: Jaco Marais

Die DA is slaggereed om die ANC die stryd aan te sê in die 2019-verkiesing. Dit is ’n “mite” dat die party steun verloor.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Sondag ná die federale uitvoerende raad se vergadering op ’n mediakonferensie by ’n Kaapse hotel so op vrae gereageer oor meningspeilings wat ’n afname in steun vir die party toon.

Met dr. Ivan Meyer en Refiloe Nt’sekhe, twee adjunkvoorsitters van die federale uitvoerende raad, aan sy sy het Maimane gesê die doelwit van die party is om sy nasionale steun te verhoog en om Gauteng, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap ná die 2019- nasionale en provinsiale verkiesings te beheer.

“Ipsos het in 2016 gesê dat die DA tussen 20% en 30% in die Nelson Mandelabaai-metro sou kry en ons het 48% gekry.” Hy het gesê dieselfde navorsingsmaatskappy se peiling wat die DA se nasionale steun vir die komende verkiesing op 14% plaas, was “deurlopend verkeerd”.

“Ons interne peiling toon dat ons ondersteuning hoër is as in die 2014-verkiesing. So die mite dat die DA agteruitgaan, is net ’n mite.”

Die uitslae van tussenverkiesings toon volgens hom onder meer dat ondersteuning nie “weghardloop” van die DA nie en dat die party wyke van die ANC wegvat.

Oor die 60%-steun wat pres. Cyril Ramaphosa volgens peilings geniet, het Maimane gesê dit is “oordrewe” omdat “Ramaforia” in Februarie verlede jaar sy piek bereik het.

Meyer het op sy beurt gesê die DA wil deur Operasie Vat Alles elke dorp in die Wes-Kaap beheer.

Argieffoto: Afgevaardigdes by die DA se federale kongres. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons masjinerie is aan die gang om elke dorp en straat te vat. Ons oogmerk is nie om koalisies in die provinsie te vorm nie, daarom wil ons alles in die Wes-Kaap vat. Dit is die vlagskipprovinsie – dit is die juweelprovinsie.”

Al die DA se kandidaatlyste – vir die parlement sowel as die nege provinsies – is die naweek deur die federale uitvoerende raad oorweeg. Dit sal nou terugverwys word na die partystrukture sodat partylede appèl kan aanteken. Maimane het die kandidate op die lyste as “bevoeg en divers” beskryf.

Die raad het ook die party se 2019-manifes, wat amptelik op 23 Februarie in Johannesburg bekend gestel gaan word, eenparig aanvaar, het Maimane gesê.

Wat herstel en bemagtiging betref, het Maimane gesê die party het nie besluit om weg te beweeg van ’n rasgebaseerde beleid vir herstel nie. Die party verwerp egter die ANC se weergawe van herstel wat daarop gemik is om die “elite te verryk”.

“Hierdie is ’n belangrike kwessie, want herstel is ’n pilaar van die DA. Jy kan nie een Suid-Afrika vir almal bou terwyl sekere landsburgers weens die omstandighede van hul geboorte steeds uit die ekonomie gelaat word nie. Ons skram nie weg daarvan om te sê dat daardie landsburgers swart Suid-Afrikaners is nie, daarom sê ons ras is ’n aanduider van benadeling.”

Die party het ook ’n handboek vir burgemeesters bekend gestel wat die reëls en regulasies vir alle openbare DA-verteenwoordigers in munisipaliteite uitspel. Dit volg op die “buitensporige” misbruik wat in sommige munisipaliteite voorkom.

“Ons het al ons regerings aangesê om nie geld aan luukse partytjies en luukse motors te bestee nie, dat reise ingeperk moet word en dat alle openbare hulpbronne aan die mense gegee moet word. Ons sal al ons openbare verteenwoordigers volgens dié standaarde aanspreeklik hou,” het Maimane gesê.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Da-Steun  |  Verkiesing  |  2019-Verkiesing  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.