Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Dank Mkhize nou af, of Cyril is aandadig’

Pres. Cyril Ramaphosa se versuim om teen dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op te tree, maak hom “aandadig” aan die voortslepende korrupsie in die ANC.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Daily Sun

“Elke dag wat Mkhize met volle betaling met spesiale verlof is, is ’n klap in die belastingbetaler se gesig,” het Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, Dinsdag gesê toe dié organisasie, soos verskeie politieke partye vroeër, ’n verskerpte beroep op Ramaphosa gedoen het om Mkhize af te dank.

Dié burgerregte-organisasie dreig nou met ’n hofaansoek teen Ramaphosa om hom te dwing om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se finale ondersoekverslag oor Mkhize se beweerde rol in die Digital Vibes (DV)-“bedrogspul” van R150 miljoen te openbaar.

Intussen wou Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Dinsdag ook nie ontken óf erken dat die ANC ’n verslag van sy integriteitskommissie – met aanbevelings teen Mkhize – gekry het nie. “Kwessies soos verslae van die integriteitskommissie is interne aangeleenthede. Dit sal op die volgende vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek word,” is al wat Mabe daaroor wou sê.

Die Mail & Guardian het Dinsdag egter berig die integriteitskommissie het in dié verslag aanbeveel dat Mkhize weens die Digital Vibes-skandaal opsy moet staan van sy amp.

Die beleërde Mkhize en sy seun Dedani is verder tans in die spesiale tribunaal ook in ’n regsgeding met die SOE gewikkel. Die SOE wil R6 720 wat Digital Vibes na bewering vir instandhouding by Mkhize se private woning in Sandton betaal het van hom verhaal, asook meer R3,8 miljoen van Dedani.

Die SOE wil ook die Mkhizes, wat albei die bewerings ontken, strafregtelik aanspreeklik laat hou.

Elke dag wat Mkhize met volle betaling met spesiale verlof is, is ’n klap in die belastingbetaler se gesig.
Johan Kruger van AfriForum

Die twee is deel van meer as 20 mense en entiteite in dié aansoek waarmee die SOE die “onwettige” Digital Vibes-kontrak met die departement van gesondheid tersyde wil laat stel én alle uitbetaalde geld van die betrokkenes wil verhaal.

Die SOE beskryf Digital Vibes in hofstukke as ’n “bedrogspul” wat beheer is deur Tahera Mather en Naadhira Mitha, “jare lange vennote en vermeende vriende van Mkhize”. Luidens die stukke het Mkhize as minister glo kontrakte vir Digital Vibes laat goedkeur.

Kruger het Dinsdag verder gesê AfriForum se jongste beroep kom nadat daar in die SOE-hofaansoek aangevoer word dat Mkhize en Dedani “onbehoorlik voordeel uit die regering se verhouding met Digital Vibes getrek het”.

“AfriForum vra reeds sedert die Digital Vibes-skandaal aan die lig gekom het dat Mkhize opsy moet staan en vervolg moet word.”

Die organisasie het twee weke gelede ook ’n Paia-aansoek ingedien om toegang tot die SOE-verslag by Ramaphosa te verkry.

Ramaphosa het vroeër gesê dat hy die land oor dié SOE-verslag sal toespreek sodra enkele kwessies daarin afgehandel is.

John Steenhuisen, DA-leier, het Dinsdag ook in sy Straight Talk-nuusbrief geskryf dat Ramaphosa die verslag reeds vyf weke gelede ontvang het, maar dat hy steeds nie teen Mkhize opgetree het nie.

Steenhuisen sê hy het vroeër ook ’n beroep gedoen op Ramaphosa om sy kabinet te skommel en om te werk saam met mense buite die ANC wat in die beste belang van die land optree. Hy meen Mkhize en veral ook ministers in die veiligheidsgroepering (met die onlangse onluste) het Ramaphosa in die steek gelaat.




Só is Dedani Mkhize glo deur Digital Vibes verryk:

Die SOE eis in die spesiale tribunaal meer as R3,8 miljoen terug van Mkhize se seun Dedani Mkhize.

Luidens die hofstukke het Digital Vibes op 2 Mei verlede jaar R300 000 aan All-Out Trading, ’n maatskappy van Dedani, oorbetaal.

Mkhize het aan die SOE gesê sy seun het hom ingelig dat dít ’n geskenk van Mather was. Dedani het glo ook ’n noue verhouding met haar gehad.

Die SOE voer aan daar is bewyse dat Digital Vibes op 4 Mei verlede jaar ook R160 000 aan ’n motorhandelaar in Pietermaritzburg vir ’n tweedehandse Toyota Land Cruiser vir Dedani betaal het. Mkhize beweer dit was ook ’n geskenk van Mather.

Luidens die hofstukke is ses betalings van sowat R1,75 miljoen ook aan ’n firma genaamd JD Communications gedoen nadat Digital Vibes betalings van sowat R135 miljoen van die departement van gesondheid gekry het.

“Mather het (Radha) Hariram (wat glo ’n 95%-aandeelhouer in Digital Vibes was, maar ’n vulstasiebestuurder in Stanger was) gevra om ’n boks by Yusuf Ganie (glo ’n kennis van Mather) se huis in Stanger te gaan haal,” lui die hofstukke.

Hariram is ingelig dat Dedani die pakkie by haar sal kry. Dedani het haar verskeie kere gekontak voordat hy die pakkie sou optel. “Dit sou by die Dawnside-vulstasie (Hariram se werkplek) gebeur. Dit het ses keer gebeur.

“Hariram is deur Mather ingelig dat die pakkie kontant bevat het. Sy het Hariram ingelig dat Dedani minister Mkhize se seun is.”

Getuienis is van Ganie bekom dat Mather hom gevra het of hy enigiemand ken wat vir haar kontant in ruil vir elektroniese geldoordragte kon gee.

Daar is later vasgestel die betrokke JD Communications-rekening was dié van ’n groothandelaar wat op Mather se versoek ingestem het. Betalings van sowat R3,4 miljoen is in dié rekening inbetaal wat in “bokse of plastieksakke” aan Ganief verskaf is. Hy het dit vir die vroue gegee.

Die respondente moet nog hul hofstukke indien voordat ’n verhoordatum vasgestel sal word. Llewellyn Prince

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.