Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhize-hulle betaal R1,1 m. vir beesprentjie

Die kommunikasiemaatskappy Digital Vibes het ’n wins van 314% gemaak met die skep van ’n driedimensionele, geanimeerde bees in ’n doktersjas wat as gelukbringer vir die nasionale gesondheidsversekering (NGV) moet dien.

Pelo, ’n driedimensionele geanimeerde bees, het die departement van gesondheid R1,1 miljoen uit die sak gejaag.

Die departement van gesondheid het Digital Vibes boonop R35 miljoen betaal voordat hulle enige werk gedoen het, is dié week onthul.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is twee weke gelede met spesiale verlof gestuur nadat Daily Maverick nie net onthul het dat Digital Vibes sedert 2019 R150 miljoen se kontrakte by Mkhize se departement losgeslaan het nie, maar ook vir Mkhize se seun ’n Toyota Land Cruiser gekoop het asook vir verbeterings betaal het aan ’n huis in Mkhize se besit.

Tahera Mather, wat Mkhize se woordvoerder was toe hy die ANC se tesourier-generaal was, en Naadhira Mitha, Mkhize se voormalige persoonlike assistent, speel leidende rolle by Digital Vibes.

Die departement van gesondheid het Donderdag aan die portefeuljekomitee van gesondheid gesê hy het Digital Vibes R35 miljoen vir kommunikasiewerk oor Covid-19 betaal voordat enige werk gelewer is.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, sê dié “onreëlmatige uitgawes” is in ’n interne ondersoek van die departement deur die Ngubane Management Company ontbloot.

Volgens Buthelezi is van die ander ongerymdhede met die kontrak dat sekere amptenare wat dit goedgekeur het, nie ’n belangebotsing verklaar het nie.

Digital Vibes is aanvanklik aangestel om te help met kommunikasie oor die NGV.

Met betrekking tot Covid-19-werk het Digital Vibes al opdragte by die departement gekry voordat hul kontrak uitgebrei is om dié werk in te sluit, het Buthelezi gesê.

“Versoeke het ontaard in ’n finansiële verpligting van R35 miljoen wat die departement betaal het voordat die uitbreiding goedgekeur is. Ondersoekers het bevind die bedrag wat voor die uitbreiding betaal is, is onreëlmatige uitgawes wat nie strook met regulasies van die nasionale tesourie nie,” het Buthelezi gesê.

Daily Maverick het intussen Donderdag berig die maatskappy het ’n vet wins gemaak met die skep van ’n gelukbringer vir die NGV.

Pelo, ’n geanimeerde bees, is in opdrag van Digital Vibes vir R266 000 deur ’n plaaslike ontwerpateljee geteken.

Fakture van Digital Vibes aan die departement toon egter die maatskappy het die departement in Februarie 2020 R800 000 vir die ontwerp gevra.

Nog fakture toon Digital ­Vibes het in Maart 2020 ’n faktuur vir ’n verdere R300 000 vir die ontwerp aan die departement gestuur.

Die maatskappy het dus wins van altesame R834 000 gemaak vir die skep van Pelo deur ’n derde party, wat tot ontevredenheid lei voordat Pelo kon begin om as “gelukbringer” diens te doen.

Volgens Daily Maverick het Digital Vibes kontrakte ter waarde van R23 miljoen gekry om werk vir die departement oor die NGV te doen. Die nasionale vervolgingsgesag se spesiale ondersoek-eenheid (SOE) ondersoek hierdie kontrakte.

’n Verslag van die SOE word einde Junie verwag, waarna pres. Cyril Ramaphosa ’n besluit oor Mkhize se toekoms sal neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.