Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhize klap sweep oor munisipaliteite se geldsake

Munisipaliteite met negatiewe ouditverslae moet hul geldsake in orde kry, waarsku Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

“Geen negatiewe ouditmenings sal geduld word nie. Ons gee alle munisipaliteite met negatiewe ouditmenings ’n jaar om hul huis in orde te kry,” sê Mkhize.

“Daar moet binne 12 maande ’n verbetering en ’n ommekeer getoon word. Ons werk ook daaraan om ’n klousule in munisipale bestuurders se kontrakte by te voeg sodat hulle verwyder kan word in geval van negatiewe ouditmenings.”

Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Leon Sadiki

Mkhize het Dinsdag dié waarskuwing tot munisipaliteite gerig in sy begrotingstoespraak in die parlement.

Hy het daarop gewys dat goeie finansiële bestuur kritiek belangrik vir munisipaliteite se welstand is.

“Selfs al is daar ’n verbetering in die oorhoofse munisipale oudits, is ons bekommerd omdat 27 munisipaliteite ’n negatiewe ouditmening ontvang het.

“As deel van ons regrukaksie sal sterk daarop gefokus word om die negatiewe ouditmenings om te keer.

“Skoon oudits moenie beskou word as die verpligting van die finansiële hoof en die tesourie se personeel of selfs die munisipale bestuurder alleen nie. Dit is die gesamentlike verantwoordelikheid van die burgemeester, die speaker, die raadslede en die administratiewe personeel.

“Geen personeellid van die tesourie kan die impak herstel van onwettige politieke opdragte, raadsbesluite wat swak nagevors is en swak oorsig deur die uitvoerende gesag of ’n beampte wat van sy verantwoordelikhede afstand doen nie.”

Hy sê hoë standaarde word vir munisipaliteite gestel omdat die mense wat hulle dien, “die beste verdien”.

Hy het bygevoeg dat die departement ’n memorandum van verstandhouding met die nasionale tesourie onderteken het. Dié twee departemente sal saamwerk en ’n gestruktureerde en gekoördineerde benadering volg om munisipaliteite wat onder finansiële druk is, of wat wanfunksioneel is, by te staan.

Altesaam 87 munisipaliteite is geïdentifiseer wat onder druk verkeer of wat disfunksioneel is, en waar dringend ingegryp moet word.

Die Reserwebank het VBS weens ’n likiditeitskrisis in Maart onder administrasie geplaas.

Mkhize het ook sy kommer uitgespreek oor die R1,6 miljard in munisipale fondse wat in weerwil van die advies van die nasionale tesourie in bankrekeninge van VBS Mutual Bank gedeponeer is.

Hy het sy steun toegesê aan die forensiese ondersoek wat tans deur die Reserwebank gedoen word na dié deposito's deur 15 munisipaliteite.

“Ons werk saam met die Reserwebank en het ’n gesamentlike tegniese komitee saamgestel wat aan die kwessie werk, nadat ek met die president van die Reserwebank vergader het.

“Ek sal met burgemeesters, munisipale bestuurders en finansiële hoofde vergader om die krisis te bespreek en die pad vorentoe te bepaal,” sê Mkhize.

City Press het die naweek berig dat verskeie munisipaliteite in die noordelike provinsies in duie kan stort omdat dit onwaarskynlik is dat hulle die geld wat hulle by VBS belê het, sal terugkry.

Die Reserwebank het VBS weens ’n likiditeitskrisis in Maart onder administrasie geplaas.

Dit het aan die lig gekom dat VBS se grootste inkomstestroom onwettige korttermyn-deposito’s van munisipaliteite was, wat deur die bank gebruik is om langtermynlenings aan kliënte te finansier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.