Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhize sê NGV sal goed bestuur word ...

Die minister van gesondheid sê hy verstaan nie die “bangmaakpraatjies” oor die nasionale gesondheidsversekering (NGV) nie, want dit gaan bestuur word soos instellings soos die Padongelukkefonds en Nasionale Studentehulpskema (NSFAS).

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het wal gegooi nadat Rapport berig het oor die jongste meningspeiling waarin dokters dreig om te emigreer indien die NGV in sy huidige vorm ingestel word.

Hy het gesê hy “neem kennis” van die berigte en moedig belanghebbendes wat “opbouende kommentaar” het oor die NGV om deel te neem aan die gesprek.

Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize. Foto: Daily Sun

Mkhize het gesê meningspeilings, soos die een van PPS waarin 72% van professionele lui gesê het hulle sal emigreer en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging waarin 38% van dokters gesê het hulle sal loop, het tekortkominge omdat daar ’n “vooroordeel” onder die respondente is.

“Ons vra belanghebbendes om nie die bevindinge te veralgemeen op ’n onwetenskaplike wyse nie.”

Dan sê hy die NGV sal bestuur word soos ander Skedule 3(A)-entiteite.

“Suid-Afrika het meer as 150 Skedule 3(A) nasionale openbare entiteite en honderde meer in die provinsiale sfeer wat doeltreffend en met integriteit bestuur word. Daar is ’n hoë indeks van vertroue in Skedule 3(A)-entiteite omdat hulle ’n presedent geskep het van goeie bestuur en verantwoordbaarheid.”

Mkhize spel egter nie vir die publiek uit wat dié entiteite is nie.

Hoewel die meerderheid van dié entiteite luidens die ouditeur-generaal se verslag ’n skoon oudit ontvang het, is dit hoofsaaklik piepklein entiteite soos mu­seums, teaters, en klein regulerende owerhede wat doeltreffend bestuur word.

Byna ál die entiteite wat ’n groot begroting of komplekse bedrywighede het – soos met die NGV voorsien word – is in chaos.

Onder hulle tel:

  • Die Nasionale Studentehulpskema (NSFAS), wat ineengestort het en onder administrasie geplaas moes word.
  •  Die Nasionale Padagentskap (Sanral), wat lamgelêverlam word deur die power implementering van e-tol in Gauteng. Rapport het berig Sanral moes geld vir instandhouding van nie-tolpaaie gaan vat om geldelik staande te bly. Ook die Padbestuursagentskap (RTMC) wat nie die AARTOAarto-boetestelsel kon uitrol nie, val in dié kategorie.
  • Die SA Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa), wat hom oor jare skuldig gemaak het aan miljarde rand se vermorste en vrugtelose uitgawes ten koste van die land se armes onder aanvoering van min. Bathabile Dlamini, wat deur die hoogste hof as onbevoeg beskryf is.
  •  Die Padongelukkefonds (POF), wat só bankrot is dat hulle nie eens meer meubels besit nie omdat die balju dit dan kom haal. Rapport het vroeër berig die POF het die hof gevra om 180 dae te hê om skuld te betaal omdat hulle nie solvent is nie.
  • Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat onder die afgedankte kommissaris Tom Moyane die slagoffer van staatskaping was en oneindige skade gely het met kundiges wat weg is, IT-stelsels wat nie behoorlik in stand gehou is nie en tot lae belastingmoraalmoreel bygedra het.
  • Ook entiteite wat met gesondheidsorg te make het, vaar power. Die NGV voorsien dat die fonds die enigste aankoper sal word van mediese goedere en dienste.
Van die steierende Skedule 3(A)-entiteite sluit in:
  • Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), wat berug is vir agterstande met bloed-ontledings. Die NHLS het in Mei sy uitvoerende hoof en finansiële hoof in verband met beweerde “verkrygingsongerymdhede” van R200 miljoen geskors.
  •  Die Vergoedingskommissaris, wat steier onder konstante klagtes oor dienslewering aan die publiek en diensverskaffers soos doktors en hospitale.
  • Die Raad op Mediese Skemas (RMS), die waghond oor mediese fondse, wat deur die spesiale ondersoekeenheid ondersoek word vir wydverspreide korrupsie. Byna die helfte van die uitvoerende komitee is verlede jaar in die pad gesteek.

Mkhize se kantoor het nie Rapport se vrae beantwoord oor watter van dié entiteite volgens hom “doeltreffend” funksioneer en vertroue inboesem nie. Hy het benadruk dat die NGV-fonds se beste kans op beskerming teen korrupsie sy vorm as ’n Skedule 3(A)-entiteit is.

“Daar is geen rede om twyfel te saai oor die bestuur van die voorgestelde NGV nie. Verdagmakery oor die NGV se bestuur en risiko van korrupsie sonder bewyse is onregverdig teenoor Suid-Afrikaners. Dit is net bangmaakpraatjies.”

Dr. Lwazi Manzi, sy woordvoerder, het gister laat weet Rapport moet eers dié antwoord ignoreer sodat die minister later meer volledig kan reageer.

In sy verklaring het hy gesê hy verstaan mense se vrese vir die onbekende.

“Ons verseker dokters en mediese personeel soos verpleërs en aptekers, wat die ruggraat van dienslewering onder die NGV sal wees, dat die wet deurgevoer sal word volgens dit wat die wil van die bevolking weerspieël deur ’n demokratiese proses.”

  • Die tydperk vir geskrewe kommentaar het verstryk, maar die regering moet nog openbare sittings in verskeie provinsies hou, waaronder Gauteng.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.