Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhize se seun het hom gekelder

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se erkenning dat sy familie geld sal moet terugbetaal aan die omstrede maatskappy Digital Vibes, het pres. Cyril Ramaphosa geen ander keuse gelaat as om Mkhize op spesiale verlof te plaas nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat die afgelope week op spesiale verlof geplaas is. Foto: darren stewart

’n Bron in die presidensie sê Ramaphosa was nie van plan om teen Mkhize op te tree voordat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sy ondersoek na die Digital Vibes-kontrakte ter waarde van sowat R150 miljoen afgehandel het nie, selfs al het Mkhize self verlede naweek al die kwessie van spesiale verlof op ’n vergadering met die ANC se topvyf geopper.

Mkhize is Dinsdagmiddag op spesiale verlof geplaas terwyl hy op besoek was aan die Noord-Kaap.

Kort voor die presidensie Mkhize se spesiale verlof aangekondig het, het Mkhize ’n impromptu-mediakonferensie oor die Digital Vibes-kwessie gehou, waartydens hy erken het dat sy seun, Dedani Mkhize, geld sal moet terugbetaal wat hy by Digital Vibes gekry het.

Die Daily Maverick het op 1 Junie berig dat Digital Vibes, die klein kommunikasiemaatskappy wat R150 miljoen se kontrakte by die departement van gesondheid losgeslaan het, ’n tweedehandse 2003 Toyota Land Cruiser vir Dedani gekoop het.

Ramokgopa gunsteling om oor te neem.

Tahera Mather, Mkhize se eertydse woordvoerder toe hy nog die ANC-tesourier-generaal was, en Naadhira Mitha, sy voormalige persoonlike assistent, speel leidende rolle by Digital Vibes.

Die Land Cruiser is vir R160 000 in Mei 2020 gekoop. Op dieselfde dag het Digital Vibes glo ook R300 000 oorbetaal aan ’n maatskappy van Dedani met die naam All Out Trading.

Volgens die Daily Maverick het Digital Vibes in Junie en Julie 2020 twee betalings van sowat R7 000 gedoen vir onderhoud en herstelwerk aan eiendom wat aan Mkhize se Zweli Mkhize ZM Trust behoort.

“Hierdie (oorbetaling) het die familie baie ongelukkig gemaak, en ons is woedend hieroor en moes gaan sit en ’n gesprek oor die saak hê om aan te dui watter tipe verhouding hier betrokke was (tussen Dedani en Digital Vibes),” het Mkhize Dinsdag gesê.

“En op die ou end sal al daardie geld teruggegee moet word, maar die probleem is dat dit gegrond was op ’n persoonlike verhouding tussen volwassenes.

Die Toyota Land Cruiser wat Digital Vibes vir dr. Zweli Mkhize se seun, Dedani Mkhize, gekoop het.Foto: Facebook

“Ons het kinders . . . wat verhoudings het en ons is nie noodwendig bewus hoe ver daardie verhoudings strek nie.”

Mkhize het verlede week op ’n mediakonferensie ontken dat hy sy mag misbruik het met die toeken van die Digital Vibes-kontrak, voordeel daaruit getrek het, of dat daar ’n belangebotsing was.

Sy erkenning dat sy familie geld sal moet terugbetaal, het egter die president verplig om oop kaarte te speel.

“Toe Mkhize sê dat sy familie geld gaan moet terugbetaal, het hy die president met geen ander keuse gelaat nie,” beweer Rapport se bron.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, neem as minister van gesondheid waar.

Volgens Rapport se bron is Kubayi-Ngubane se rol egter net “seremonieel”, en sal dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, die dag-tot-dag-bedrywighede van die departement hanteer.

Mkhize se adjunkminister, dr. Joe Phaahla, kan nie in die pos waarneem nie omdat adjunkministers nie deel van die kabinet vorm nie.

Indien die SOE-ondersoek, wat teen einde Junie afgehandel sal word, bevind dat Mkhize self by die Digital Vibes-kontrak baat gevind het, en klagte teen hom ingestel word, sal Ramaphosa waarskynlik sy kabinet moet skommel en ’n permanente plaasvervanger aanwys.

Dr. Gwen Ramokgopa, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, is die gunsteling om by Mkhize oor te neem nadat sy in Mei tot die ANC se nasionale werkkomitee verkies is. Sy is ’n bondgenoot van Ramaphosa.

Ander name wat genoem word, is dié van dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, en dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid.

Die Sunday World berig dat vier ander amptenare weens hul rol in die Digital Vibes-skandaal geskors kan word.

Hieronder tel dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid, en Popo Maja, departementele woordvoerder.

Pillay is verantwoordelik vir die onderhandelinge met entstofvervaardigers en was waarnemende direkteur-generaal toe die Digital Vibes-kontrakte toegeken is.

Pillay, Maja en die ander twee amptenare is tot 7 Junie gegee om te verduidelik waarom hulle nie geskors moet word weens hul aandeel in die “onreëlmatighede” nie.

Die departement van gesondheid het nie op navrae oor Pillay en Maja se skorsing gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.