Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhwebane glo proses teen haar ‘sal haar vryspreek’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), is “vol vertroue” dat die parlementêre proses om haar uit haar amp te verwyder haar eerder van enige beweerde oortreding sal vryspreek.

Mkhwebane, wat nog tot 31 Maart op sabbatsverlof is, het dít Dinsdag deur haar kantoor gesê in reaksie op ’n verdoemende verslag van ’n onafhanklike paneel wat bevind het dat daar prima facie-bewyse bestaan dat sy haar deur haar ampspligte aan wangedrag én “volgehoue” onbevoegdheid skuldig gemaak het.

Dié verslag deur ’n paneel van drie topregslui baan nou die weg vir ’n amptelike parlementêre proses om Mkhwebane te verwyder.

Intussen het ’n burgerlike organisasie genaamd Democracy in Action Dinsdag egter aangedui dat hulle binnekort ’n dringende interdikaansoek in die hooggeregshof in Kaapstad sal bring om die parlementêre proses teen Mkhwebane tydelik in sy spore te stop. Dít totdat ’n ander hofaansoek van dié organisasie in dieselfde hof afgehandel word waarmee hy die grondwetlikheid van die onlangs aanvaarde reëls wil betwis ingevolge waarvan sittende hoofde van art. 9-instellings uit hul ampte verwyder kan word.

Die EFF het ook aangedui dat hy nie so ’n proses teen haar sal steun nie toe Floyd Shivambu, EFF-onderleier, getwiet het dat Mkhwebane “nêrens heen gaan nie”.

“Sy sal haar termyn van sewe jaar voltooi,” lui sy twiet.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het die verslag Maandag uitgereik.

Die paneel het daarin bevind dat daar prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan wangedrag skuldig gemaak het in haar ondersoeke na onder meer die Reserwebank/Absa/CIEX-saak, die Vrede/Estina-suiwelprojeksaak en die CR17-aangeleentheid.

Die verslag moet aan die NV vir goedkeuring voorgelê word. As dit goedgekeur word, sal dit na ’n spesiale parlementêre komitee verwys word wat die amptelike verwyderingsproses teen Mkhwebane moet begin.

Daar moet in ag geneem word dat daar steeds hofprosesse rakende hierdie aangeleentheid aan die gang is. Die OB is vol vertroue dat die parlementêre sowel as die regsprosesse voor die hooggeregshof en konstitusionele hof uiteindelik daartoe sal lei dat sy van enige beweerde wandade vrygespreek word.

Intussen het Mkwebane se kantoor verder in ’n verklaring gesê dat hulle die verslag Maandagmiddag van die NV ontvang het.

“Die verslag is ’n verklaring van die beweerde bestaan van prima facie-bewyse teen die OB en nie bevindinge van wandade nie,” lui die verklaring.

“Daar moet in ag geneem word dat daar steeds hofprosesse rakende hierdie aangeleentheid aan die gang is. Die OB is vol vertroue dat die parlementêre sowel as die regsprosesse voor die hooggeregshof en konstitusionele hof uiteindelik daartoe sal lei dat sy van enige beweerde wandade vrygespreek word.”

Die versekering is ook aan die publiek gegee dat die OB-kantoor landwyd hangende die parlementêre proses steeds ten volle funksioneer.

Thabo Mtsweni, voorsitter van Democracy in Action, het Dinsdag gesê hulle betwis die grondwetlikheid van die verwyderingsreëls “omdat dit lyk asof dit net geskep is om van Busisiwe Mkhwebane ontslae te raak”.

Mtsweni-hulle wil ook die parlementêre proses om die reëls op te stel en deur te voer betwis “omdat daar geen konsultasies met die publiek of art. 9-instellings daaroor was nie”.

Democracy in Action se hofaansoek word vroeg in Junie aangehoor.

“Ons sal binnekort ’n dringende interdikaansoek indien om die parlementêre proses stop te sit totdat ons hofaansoek afgehandel is,” sê Mtsweni.

Vroeër is berig hoe ’n soortgelyke dringende interdikaansoek deur Mkhwebane self in Oktober verlede jaar deur dieselfde hof van die hand gewys is. Sy wou ook die parlementêre proses tydelik keer totdat haar eie aansoek afgehandel is om die grondwetlikheid van die reëls te betwis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.