Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhwebane 'moet as OB bedank'
Busisiwe Mkhwebane
Die konstitusionele hof het 'n verdoemende uitspraak teen adv. Busisiwe Mkhwebane in die saak tussen haar en die Suid-Afrikaanse Reserwebank gelewer. Foto: Felix Dlangamandla

Druk op adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), om óf self te bedank óf uit haar pos verwyder te word, het Maandag in felheid toegeneem – ’n versoek het selfs opgeklink dat daar oorweeg word om haar van die rol van advokate te skrap.

Dit het gekom ná die verdoemende uitspraak van die konstitusionele hof teen Mkhwebane in die saak tussen haar en die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Mkhwebane het in haar verslag wat sy in 2017 uitgereik het onder meer aanbeveel dat die Reserwebank se mandaat gewysig word. Sy het ook aanbeveel dat die spesiale ondersoekeenheid R1,1 miljard van Absa verhaal nadat die Reserwebank dié bedrag in die apartheidsjare as reddingsboei aan Bankorp, wat deur Absa oorgeneem is, betaal het.

Sy het geappelleer teen die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria in 2018 dat sy persoonlik verantwoordelik gehou moet word om 15% van die Reserwebank se regskoste te betaal. Die hof het haar appèl verwerp.

Die hof het onder meer bevind dat sy in kwade trou opgetree het, dat sy nie eerlik was met die hooggeregshof ten opsigte van haar ondersoekmodel nie en dat sy valshede onder eed voorgehou het.

Reaksie het ná die uitspraak ingestroom.

Tugoptrede

Adv. Paul Hoffman, direkteur van Accountability Now, sê dié organisasie het aan die Regspraktykraad geskryf om te vra dat daar met tugoptrede teen Mkhwebane begin word. Hoffman vra in sy brief aan die raad dat hulle die kwessie sal oorweeg “met die oog daarop om ’n aansoek by die hof in te dien om Mkhwebane van die rol van advokate te skrap”.

Hy het by navraag gesê Mkhwebane behoort mooi daaroor te dink of sy nie dalk van haar twyfelagtige verslae moet terugtrek nie.

“Sy behoort ook daaraan te dink om uit haar pos te bedank omdat sy bevorder is tot ’n amp waarvoor sy nie bevoeg is nie. Sy beskik ook nie oor die integriteit om die posisie behoorlik te beklee nie.”

Einde van die pad

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die grondwetwaghond Casac, sê op sy beurt Mkhwebane het ná die uitspraak die “einde van die pad” bereik.

“Die hof het basies bevind dat sy onder eed gejok het. Haar geloofwaardigheid is aan skerwe geruk deur die uitspraak.”

Hy dink die meeste redelike mense wat deur ’n uitspraak soos dié een in die gesig gestaar word “sal dadelik hul bedanking” indien.

“Ek kan nie sien hoedat sy in haar amp kan voortgaan nie,” sê Naidoo.

Ook die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het gevra dat Mkhwebane haar pos moet ontruim. Adv. Stefanie Fick, hoof van regsake by Outa, sê in ’n verklaring die uitspraak van die konstitusionele hof teen Mkhwebane is verdoemend.

“Sy kan nie langer in daardie rol voortgaan nie.”

OB kan só uit pos verwyder word

Een van die maniere om die OB uit haar pos te verwyder is deur middel van die parlement. Ingevolge die Grondwet word ’n tweederdemeerderheid in die parlement daarvoor vereis.

Die parlement is rees gemoeid met ’n proses om Mkhwebane se geskiktheid vir haar amp te ondersoek. Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering, het in Junie in ’n brief aan John Steenhuisen, DA-hoofsweep, bevestig dat sy versoek dat die parlement Mkhwebane se geskiktheid vir die pos ondersoek, na die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verwys sal word.

Dié komitee het egter nog nie met dié ondersoek begin nie. Politieke partye, waaronder die DA, die VF Plus, Cope en die SAKP het Maandag gevra dat die parlement dié ondersoek moet versnel.

'Nie geskik' vir amp

Steenhuisen sê die DA is lankal van mening dat Mkhwebane nie ’n gepaste en behoorlike persoon is om die amp te beklee nie.

“Vandag se uitspraak toon dat die OB se mislukkings dieper strek as eenvoudige tegniese foute. Eenvoudig gestel, sy is nie gepas vir haar amp nie en is eintlik erg onbevoeg.”

Die SAKP sê op sy beurt om iemand in die pos van die OB te hê teen wie die hoogste hof van die land uitspraak gelewer het soos in haar geval, is “giftig” vir die grondwetlike demokrasie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê ook die uitspraak en bevindinge van die konstitusionele hof teen Mkhwebane is verdoemend en dat dit “in der waarheid sê sy is onbevoeg vir die amp as Suid-Afrika se OB”, terwyl Cope opgemerk het dat die parlement dringend teen Mkhwebane moet optree omdat sy “skadelik” is vir die amp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.