Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mkhwebane: Taks-ondersoek ‘is om my bang te maak’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), glo die ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na haar persoonlike inkomstebelastingsake is deel van georkestreerde pogings om haar weens haar ondersoeke tans en in die verlede te intimideer en bang te maak.

Dít is volgens Mkhwebane se kantoor Sondag nadat die Sunday Independent-koerant berig het dat die SAID haar se inkomstebelasting sedert 2011 ondersoek.

Luidens die koerant het die SAID Mkhwebane versoek om onder meer afskrifte van haar dokumente oor haar finansiële inligting, salaris, buitelandse inkomste, sake-inkomste, uitgawes, aftrekkings en ander inkomste aan hulle te oorhandig.

Jongste terugslag

Dié ondersoek is die nuutste terugslag vir die beleërde Mkhwebane nadat Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Vrydag ook aangekondig het dat sy die DA se mosie – waarin versoek word dat die parlement die proses moet begin om die OB uit haar amp te verwyder – goedgekeur het.

Modise het reeds politieke partye skriftelik versoek om verteenwoordigers te nomineer wat op ’n onafhanklike paneel kan dien wat moet bepaal of daar gronde vir ’n parlementêre ondersoek hieroor teen Mkhwebane is.

Die DA het vroeër ’n reeks verdoemende hofuitsprake teen Mkhwebane as redes vir so ondersoek aan die parlement voorgelê.

Wetsgehoorsame burger

Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, het Sondag in reaksie op die SAID-ondersoek gesê die OB is ’n wetsgehoorsame burger wat soos almal anders haar belasting betaal.

Volgens Segalwe het Mkhwebane “absoluut niks om weg te steek nie” en sal sy haar volle samewerking aan die SAID-ondersoekers gee.

“Sy is egter bekommerd oor hierdie wending en is sterk van mening dat dit net een voorbeeld is van georkestreerde pogings om vrees by haar in te boesem en haar te intimideer.

“Sy glo ook sterk dat hierdie jongste verwikkelinge verband hou met sommige van die ondersoeke wat sy in die verlede gedoen het, sowel as dié wat tans nog aan die gang is en wat klaarblyklik nie goed ontvang is deur sekere sektore van die samelewing nie.”

Volgens Segalwe sal Mkhwebane egter voortgaan om haar werk sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te doen om diegene wat by wandade betrek word, te ondersoek en aanspreeklik te hou.

Die OB het met haar hoëprofielondersoeke teen pres. Cyril Ramaphosa oor sy CR17-veldtog en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, verlede jaar gereeld die nuushooftrekke gehaal.

Intussen het adv. Paul Hoffman, direkteur van Accountability Now, Sondag gesê hy is nie verras oor die SAID-ondersoek teen Mkhwebane nie.

Skrap van advokate-rol

Volgens hom is dit egter nie haar enigste probleme nie omdat sy organisasie self ook die Regspraktykraad versoek het om haar van die rol van advokate te skrap ná die verdoemende hofuitspraak teen haar in die Reserwebank-hofgeding waarin onder meer bevind is dat sy “onbevoeg is en onder eed gelieg het”.

“Ons het ook ’n klag van meineed by die polisie ingedien, wat die Valke ondersoek.

“Ons het in Oktober verlede jaar ook ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring waarin ons vra dat die hof moet verklaar dat sy nie meer geskik is vir haar amp nie. Daardie aansoek word op 10 en 11 Februarie aangehoor,” sê Hoffman.

Segalwe het oor die versoek aan die Regspraktykraak aangaande Mkhwebane Sondag gesê dat sy “dit ingevolge die reg hanteer”.

Die SAID kon nie Sondag vir kommentaar oor sy ondersoek bereik word nie.

Intussen het Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, ná Modise se aankondiging Vrydag gesê Mkhwebane met eerder bedank “om haar die verleentheid te spaar om uit haar amp uitgestem te word”.

Volgens Bloem sal Cope ten gunste van haar verwydering stem omdat haar aanstelling “die grootste fout was wat LP’s gemaak het”.

Meer oor:  Said  |  Thandi Modise  |  Paul Hoffman  |  Busisiwe Mkhwebane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.