Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mlamleli moet gaan nadat VF Plus-mosie teen haar slaag

Olly Mlamleli, sedert 2016 die omstrede ANC-burgemeester van die Mangaung-metro, moet haar amp ontruim nadat die VF Plus Vrydag met 'n mosie van wantroue teen haar geslaag het ná ’n ellelange debat in die Bram Fischer-gebou in Bloemfontein.

Olly Mlamleli, uitgestemde uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro in Bloemfontein, op Vrydag se raadsvergadering. Foto: Marietjie Gericke

Die uitslag van die geheime stemming in dié vierde mosie van wantroue teen haar was 31 stemme daarvoor, met 28 teenstemme en 8 bedorwe stemme.

Die geslaagde mosie op ’n spesiale raadsvergadering beteken dat Mlamleli moet afstaan as burgemeester.

Toe sy om kommentaar gevra is, het Mlamleli net bly sê: “Ek is die burgemeester van Mangaung, ek is die burgemeester van Mangaung.”

Mlamleli is ’n Ace Magashule-ondersteuner en is onder die leierskap van Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, aangestel toe hy nog Vrystaatse premier was.

Adriaan de Bruyn, raadslid van die VF Plus, het die mosie van wantroue teen Mlamleli ingestel, sterk gesteun deur sy VF Plus-kollega dr. Elizabeth Snyman van Deventer, wat al weke lank eis dat die burgemeester moet bedank.

Die mees onlangse afgradering van die metro se kredietwaardigheid deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s beklemtoon die geweldige krisis waarin die munisipaliteit homself bevind.

Dié party het aangevoer dat Mlamleli versuim om haar grondwetlike en ander wetlike verpligtinge na te kom.

Die burgemeester is veronderstel om toesig oor die administrasie van die metro te hou en om die stadsbestuurder en finansiële hoof van raad te bedien.

Haar gebrekkige politieke leierskap het veroorsaak dat die metro in duie stort en nie meer basiese dienste kan lewer nie.

Twee van die vorige wantrouemosies is deur die DA ingedien en een deur die EFF. In dié drie gevalle het die mosie misluk nadat die stemming deur die opsteek van hande geskied het.

Vrydag het Mxolisi Siyonzana, speaker en streekvoorsitter van die ANC in Mangaung, die stemproses deur geheime stembriewe laat plaasvind, nadat die VF Plus hiervoor gevra het.

Die VF Plus het ná die tyd in ’n nuusverklaring gesê die party verwelkom dit dat die meerderheid van raadslede oor partypolitieke grense heen volgens hul gewete gestem het. Die party beskou dit as ’n oorwinning vir die inwoners van die metro.

“Dienslewering en goeie munisipale bestuur het die afgelope jare drasties in die metro verswak, veral sedert Mlamleli in 2016 as die uitvoerende burgemeester verkies is.

Ons wag al lankal hiervoor. Die uitslag wys dat die ANC ook nou moeg is vir haar.

“Daarom is die VF Plus se mosie van wantroue in belang van die inwoners van die metro.

“Die mees onlangse afgradering van die metro se kredietwaardigheid deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s beklemtoon die geweldige krisis waarin die munisipaliteit homself bevind.”

Daarbenewens oorskry die metro se laste sy bates en kom hy ook nie sy finansiële verpligtinge na nie, sê die VF Plus.

Hardie Viviers, koukusleier van die DA, sê dit is algemene kennis die twee grootste probleme by die metro is dat die politieke hoof en administratiewe hoof nie hul wetlike pligte en verantwoordelikhede kan uitvoer nie.

“Hulle moet verantwoordbaar gehou word, aangesien hulle die gemeenskap en die metro in die steek gelaat het.”

Viviers sê dit is uiters positief dat opposisiepartye Vrydag bewys het dat hulle bereid is om in belang van die metro saam te staan, al verskil hulle onderling.

Voorts is dit nou baie duidelik dat daar twee faksies binne die ANC-koukus is.

Viviers sê die DA het nou geslaag in sy doelwit om van die politieke hoof ontslae te raak.

Die volgende doelwit is om ook ontslae te raak van die administratiewe hoof, adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder. Hy moet verantwoordbaar gehou word aangesien ook hy die metro en die gemeenskap in die steek gelaat het.

Paulnita Marais, koukusvoorsitter van die EFF, het gesê onder Mlamleli se hand het die Stad van Rose in die Stad van Rommelhope verander.

Baba Sebolao, raadslid van die EFF, het gesê hy is geweldig opgewonde oor die uitslag. “Ons wag al lankal hiervoor. Die uitslag wys dat die ANC ook nou moeg is vir haar.”

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Bloemfontein  |  Mangaung-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.