Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mmusi by ambassade om afspraak met Zim-regering te maak

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Donderdagoggend in Pretoria ’n amptelike brief aan die Zimbabwiese ambassade oorhandig waarin hy vra vir ’n amptelike ontmoeting volgende week in Harare met die regering van pres. Emmerson Mnangagwa, burgerlike groepe en politieke partye in Zimbabwe.

Die Zimbabwiese ambassade het egter geweier dat MDC-parlementslede (van die opposisieparty) wat na Suid-Afrika gevlug het, saam met hom die ambassade betree.

Mmusi Maimane, leier van die DA, Donderdagoggend voor die Zimbabwiese ambassade in Pretoria.Foto: Deaan Vivier

Maimane het later buite die ambassade aan joernaliste gesê hy is vriendelik ontvang. Hy hoop om binne 48 te hoor of sy versoek om Zimbabwe te besoek goedgekeur is.

Die regeringsgesinde koerant The Herald in Harare beweer die DA het ’n alliansie gevorm met die MDC, die opposisie in Zimbabwe, en die sogenaamde G40-beweging wat noue bande met Grace Mugabe, vrou van oudpres. Robert Mugabe, het. Dié alliansie kan die stabiliteit in Zimbabwe én Suid-Afrika bedreig, berig die koerant.

The Herald haal ook Mphakama Mbete, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Harare, aan wat ’n beroep op die DA-leier gedoen het om nie Zimbabwe toe te kom nie.

Maimane en die DA het die Internasionale Strafhof (IS) gevra om menseregteskendings die afgelope paar weke in Zimbabwe te ondersoek. Zimbabwe is nie ’n lid van die IS nie.

Die DA het ook versoek dat die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie die gebeure in Zimbabwe moet ondersoek.

Maimane ontken dat sy beoogde besoek aan Zimbabwe ’n publisiteitsfoefie is.

“Daar is ’n baie groot humanitêre krisis in Zimbabwe aan die gang en iets moet daaraan gedoen word. Dit is hoekom ek in die brief wat ek vandag aan die ambassade oorhandig het, gevra het vir ’n vergadering met die Zimbabwiese regering, burgerlike organisasies en opposisiepartye,” sê Maimane.

Daar is die laaste paar weke 12 mense dood, sowat 300 beseer en honderde ander in hegtenis geneem gedurende betogings in Zimbabwe. Dié betogings het begin nadat Mnangagwa ’n enorme verhoging in die brandstofprys in dié land aangekondig het.

Die Zimbabwiese regering word daarvan beskuldig dat hy die betogings gewelddadig onderdruk het.

Maimane sê die Suid-Afrikaanse regering skaar hom aan die kant van die onderdrukkers.

“Nie net in Zimbabwe nie, maar ook in Venezuela,” sê die DA-leier.

Die situasie in Zimbabwe is verskriklik. Daar kom wydverspreide onderdrukking, geweld onder leiding van die weermag en bloedvergieting voor, terwyl honderde mense deur die owerhede aangehou word.

“Die feit dat die Zimbabwiese ambassade geweier het dat die MDC-parlementslede saam met ons die gebou binnegaan, bewys dat die Zimbabwiese regering teen sy eie mense gedraai het.”

’n Verteenwoordiger van die ambassade se verweer was Maimane het die ambassade nie in kennis gestel dat die MDC-lede deel van sy afvaardiging sou wees nie.

Maimane sê dit help nie die DA wend hom tot die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-Unie (AU) nie.

“By dié organisasies is ‘broederskap’ belangriker as die oppergesag van die reg.”

Maimane sê die proses moet begin om die vrede en stabiliteit in Zimbabwe op ’n vreedsame wyse te herstel.

“Die situasie in Zimbabwe is verskriklik. Daar kom wydverspreide onderdrukking, geweld onder leiding van die weermag en bloedvergieting voor, terwyl honderde mense deur die owerhede aangehou word. Aanranding, marteling en die onmenslike behandeling van die mense van Zimbabwe duur voort, terwyl pres. Cyril Ramaphosa nie ’n vinger verroer nie.”

Maimane sê Suid-Afrika moet seker maak dat humanitêre hulp by die mense van Zimbabwe uitkom.

Hy glo as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Demokratiese Verandering is dit sy plig om hom teen magsmisbruik uit te spreek.

“Dialoog kan bydra tot positiewe verandering in Zimbabwe. Ons wil ’n vrye Zimbabwiese media sien. Ons wil nie strate vol soldate en gewere sien nie. Ons wil sien dat menseregte, wat in die grondwet van Zimbabwe verskans is, herstel word.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Zimbabwe  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.