Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA kap Jooste terwyl sy leier met geskenkte motor rondry
Mmusi en die Steinhoff-kar

Terwyl DA-LP’s in 2018 vir Markus Jooste in die parlement oor die kole gehaal het oor die honderde miljarde rande wat uitgewis is weens bedrog by Steinhoff, het Mmusi Maimane, die partyleier, in ’n motor rondgery wat ’n geskenk van Jooste was. Hy het boonop maande lank geweier om dit terug te gee, selfs nadat kollegas hom oor die moontlike skade aan sy en die party se reputasie gewaarsku het.

Mmusi Maimane
Mmusi Maimane
Markus Jooste
Markus Jooste.

Jooste, wat tussen 2000 en Desember 2017 uitvoerende hoof van die Stellenbosch-gesetelde Steinhoff-konglomeraat was, het die wit Toyota Fortuner in 2016 beskikbaar gestel vir Maimane se gebruik in die aanloop tot die munisipale verkiesing op 3 Augustus daardie jaar.

Die DA het gister by monde van James Selfe, voorsitter van die party se federale raad, bevestig die Fortuner (registrasienommer CA 405-881) het die eiendom van ’n motorhuurmaatskappy gebly, maar Steinhoff het vir die huur betaal.

Die DA het die voertuig aan Maimane verskaf as ’n werkmotor.

Op 5 Desember 2017 het Suid-Afrika se grootste korporatiewe bedrogskandaal nóg gebars toe Jooste as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het te midde van waarskuwings van “rekeningkundige onreëlmatighede”.

Binne dae is byna R300 miljard van beleggers se geld uitgewis toe Steinhoff se aandeelprys na benede getuimel het. Dit het sedertdien met 98% gedaal.

Gister het Selfe gesê toe die onthullings destyds oor Steinhoff na vore kom, het die DA gedink dit is korrek in die omstandighede om die voertuig terug te besorg, wat toe wel later gebeur het.

Hy wou egter nie sê presies wanneer die motor terugbesorg is nie.

Die brief van Markus Jooste aan Mmusi Maimane wat op ’n boks vasgeplak is.

Nou blyk dit Maimane het vir maande nog aanhou ry met die Steinhoff-Toyota, selfs nadat senior kollegas briewe aan hom geskryf het waarin hulle die risiko’s uiteengesit het.

Een van hulle was Paul Boughey, uitvoerende hoof van die party, wat gisteroggend bevestig het hy het Maimane gevra om die Toyota terug te gee.

Altesame vyf DA-amptenare, van wie twee laat in 2017 en vroeg in 2018 in Maimane se binnekring was, het aan Rapport bevestig hulle het aanbeveel dat die motor dadelik teruggegee word.

’n DA-leiersfiguur, wat op voorwaarde van anonimiteit Rapport se vrae beantwoord het, het gesê Maimane het vir vier maande nadat die Steinhoff-skandaal in Desember 2017 gebreek het, steeds met die motor gery en dat “baie druk” op Maimane geplaas is om dit terug te besorg.

“Die partyleier was baie onwillig om die motor terug te gee. Die risiko’s moes by herhaling aan hom en Selfe en die party se bestuur uitgestippel word.”

Nog ’n DA-LP het die afgelope week gesê: “Daar is vir hom gesê hy moet ontslae raak van die kar, maar hy wou nie luister nie.”

’n Wit Toyota Fortuner soos dié – die model wat ná 2011 te koop was – is deur Markus Jooste geskenk vir gebruik deur Maimane.
Die Fortuner wat deur Jooste aan die DA geskenk is. Die motor wat volgens openbare gegewens tans dié nommerplaat gebruik, is ’n 1996 Opel Astra wat die eiendom is van ’n man in Mitchells Plain. Hy het aan Rapport gesê hy het die Astra met dié nommerplaat in November 2018 by ’n tweedehandse motorhandelaar gekoop.

Rapport se navrae het gewys talle LP’s was bekommerd oor wat die publiek sal dink as die DA Jooste binne die parlement aanval terwyl ’n geborgde voertuig van Jooste op die partyleier se parkeerplek in die parlementêre parkeerterrein staan.

“Ek het die voertuig nog in die parkeerarea gesien terwyl David Maynier (voormalige DA-LP) in die parlement oor Steinhoff gepraat het,” het ’n bron gesê.

Maynier, deesdae Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, was aan die spits van die veldtog waarin die DA in die maande ná die Desember-onthullings vir aanspreeklikheid in die skandaal geveg het.

In parlementêre sittings het Maynier dit selfs in September verlede jaar aan Jooste gestel dat ’n vriend van Jooste hom beskryf het as ’n “f****n psigopaat . . . glo omdat jy jare lank vir hom gelieg het”.

Ook Alf Lees, wat gedien het in die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies wat die Steinhoff-sage ondersoek het, het op 26 Maart 2018, toe die Fortuner nog in die party se besit was, uitgevaar teen Jooste.

“Steinhoff se uitvoerende base het nog geen berou getoon oor die finansiële skade wat die skandaal aan die pensioene van gewone staatsamptenare aangerig het nie. Niemand verpersoonlik hierdie openlike verset beter nie as die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste,” het Lees gesê.

Maimane, Jooste swyg oor skenking

Toe Rapport gister by Maimane wou weet waarom hy die Steinhoff-Toyota destyds nie dadelik teruggegee het nie, het Maimane se woordvoerder, Azola Mboniswa, bloot gesê: “Rig asseblief jul navraag aan James Selfe, FedEx-voorsitter, aangesien dit ’n skenking aan die party was.”

Maimane self wou niks sê nie.

Selfe het gesê: “Die DA het ’n skenking ontvang in die vorm van die gebruik van ’n voertuig vir ’n beperkte tydperk, om te help met stemwerwing in die Wes-Kaap en om die partyleier te help met die uitvoer van sy pligte. Die party het in geen stadium eienaarskap van die motor geneem nie – die gebruik daarvan is deur ’n motorhuurfirma gefasiliteer, waarvan die koste deur Steinhoff gedra is. Aangesien dit ’n werkvoertuig was wat deur die party voorsien word, op dieselfde manier wat ’n minister of ’n LUR motors het wat deur die staat voorsien word, het ons dit nie nodig geag om dit te verklaar nie.”

Maimane is vooraan die DA se pogings om pres. Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou vir skenkings van die dienstemaatskappy Bosasa, deesdae African Global Operations, oor jare heen aan die ANC en ook in 2017 aan Ramaphosa se interne verkiesingsveldtog in die ANC.

In ’n brief wat Maimane op 22 Augustus 2014 in die parlement onthul het, het die destydse tesourier-generaal van die ANC, Zweli Mkhize, in Maart 2014 vir Bosasa se nou ontslape uitvoerende hoof, Gavin Watson, bedank vir ’n skenking van R3 miljoen aan die ANC.

Maimane het ook gevra dat Ramaphosa onderneem om aan die staat elke sent terug te betaal wat die party oor ’n tydperk van 15 jaar van Bosasa ontvang het, en bygevoeg: “Jy sal strafregtelik aanspreeklik gehou kan word as jy of jou party geweet het en voordeel getrek het uit die opbrengste van misdaad.”

Hoewel niemand nog strafregtelik aangekla is weens aandadigheid in die ineenstorting van Steinhoff nie, berei regspanne in Suid-Afrika en Europa op litigasie voor.

By navraag het Steinhoff aan Rapport gesê hulle lewer nie kommentaar oor die beweerde aktiwiteite van ’n voormalige uitvoerende hoof nie.

Dit blyk wel dat Jooste ’n goeie indruk op Maimane probeer maak het.

Rapport is in besit van ’n ongedateerde brief op ’n Steinhoff-briefhoof, wat aangebring is op ’n bruin kartondoos vir aflewering by Maimane.

Die lui: “Attention: Mmusi Maimane, Address: Democratic Allicance (sic) Federal Head Office 16 Mill Street Theba Hosken House Gardens Cape Town 8000. Dear Mmusi, Wishing you and your family well over the festive season and travel safely. Best regards, Markus.”

Jooste, wat sedert sy verskyning in die parlement in September 2018 geen kommentaar in die openbaar oor enigiets gelewer het nie, het by monde van sy regsverteenwoordiger aan Rapport gesê dat hy nie kommentaar gaan lewer oor die skenking aan die DA nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Mmusi Maimane  |  Skenking  |  Leier  |  Da  |  Bedrog  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.